Kleuter wat in ongeluk sterf, se saak hersien

Klein Amé Janse van Rensburg (Foto: Verskaf)

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het toegetree tot die saak wat verband hou met die motorongeluk wat die vyfjarige Amé Janse van Rensburg se lewe geëis het. In ʼn brief versoek die vervolgingseenheid, onder leiding van adv. Gerrie Nel, dat die saak teen die motoris wat moontlik vir die ongeluk verantwoordelik was, hersien moet word en dat die motoris vervolg word.

Dit volg ná die hof die saak na die polisie terugverwys het vir verdere ondersoek weens onvoldoende bewyse teen die motoris.

Die eenheid het Dinsdag ʼn brief aan die senior advokaat by die landdroshof in Middelburg, Mpumalanga, met dié versoek gerig.

Amé het op 26 September in ʼn motorongeluk op die R555 (ou Middelburg-pad) omgekom. Amé se ouers en broer, Flippie (2), was ook in die motor. Hulle het met geringe beserings van die ongeluk afgekom.

Luidens AfriForum se brief aan die hof het Amé se ouers, Philip en Nadia, die privaatvervolgingseenheid genader om namens hulle op te tree. Volgens die ouers kry die saak nie die nodige aandag wat dit verdien nie. Die vervolgingseenheid het ingestem om die saak pro bono te hanteer.

Volgens die vervolgingseenheid het die polisie eers op 21 Oktober, byna ʼn maand ná die ongeluk, verklarings oor die ongeluk afgeneem. Die polisie het toe ook vir die ouers gesê dat hulle nog nie die motoris kan aankla nie weens bloedresultate en die nadoodse ondersoek wat uitstaande is.

Die vervolgingseenheid dui in die brief aan die motoris het ook versuim om in die hof te verskyn.

Philip het vroeër aan Maroela Media gesê die gesin se bakkie het gerol ná hy noodgedwonge vir ʼn motor wat in hul baan ingeswaai het, moes uitswaai.

Die betrokke motoris het na bewering van die ongelukstoneel weggejaag. ʼn Ander motoris – wat die ongeluk sien gebeur het – het egter dié voertuig agternagesit. Die motoris is terug na die ongelukstoneel gebring en ʼn saak van strafbare manslag is teen hom aanhangig gemaak.

Volgens die vervolgingseenheid kan hulle nie ʼn mening gee oor die kans op ʼn suksesvolle vervolging nie, aangesien hulle nog nie die dossier onder oë gehad het nie.

“Ons deel egter in ons kliënte se ontevredenheid met die afwesigheid van terugvoer van die polisie oor sake waar geliefdes hul lewe in sulke tragiese omstandighede verloor het,” het die eenheid in die brief geskryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

16 Kommentare

jongste oudste gewildste
Nie Verbaas

En weereens”blink die polisie uit” om hulle werk te doen. En wat doen Cele? Niks, stop op met Kentucky.

Pablo

Al die bewyse is daar asook die verdagte, maar die polisie doen niks. Wat n wettelose land.

Misky

Dankie Afriforum. Weereens kom julle deur vir ons benadeeldes en die gereg faal ons hopeloos

Diline

Geen sake kry die aandag wat dit moet met hierdie korrupte, useless polisielede nie. Al hoe meer mense moet alternatiewe hulp inkry om toe te sien daar die saak verder gevoer word sodat gregtighied geskied

Annelize

Klink my die motoris maak ‘n gewoonte daarvan om hom af te vee aan wet en orde. Veroorsaak ‘n ongeluk, jaag weg vanaf die toneel, verskyn dan nie in die hof nie…ek sou ook geen steen onaangeroer raak as dit my kind was nie.