Peuter wat op Oukersdag ‘verdwyn’ weer tuis

ʼn Foto van die peuter wat wyd op sosiale media versprei is tydens die soektog na haar. (Maroela Media het die foto aangepas om die peuter se identiteit te beskerm.) Foto: Facebook

ʼn Bekommerde ma van Johannesburg se naarstige soektog na haar tweejarige dogtertjie wat nie Sondagoggend teruggekeer het nadat sy by haar pa gaan kuier het nie, het op ʼn gelukkige noot geëindig nadat die peuter Woensdagoggend teruggebring is huis toe.

Die ma het aan Maroela Media bevestig dat haar dogtertjie se pa haar vanoggend weer teruggebring het. “Sy is oukei. Net vuil, maar heeltemal oukei,” het sy gesê. Sy kon nie meer inligting gee oor die rede waarom haar dogtertjie nie Sondagoggend huis toe gebring is soos die afspraak was nie.

Die ma het ʼn soektog na haar kind van stapel gestuur nadat die peuter by haar pa gaan kuier het, maar sy na bewering nie Sondagoggend teruggebring is soos glo in ʼn hofbevel gestipuleer word nie. Die ma het in haar oorspronklike plasing oor haar kind se “verdwyning” op Facebook gesê sy vermoed dat die dogter se pa op pad is Kaapstad toe met haar. Sy het beweer die pa het alle kommunikasie met haar verbreek en hy kan nie telefonies bereik word nie.

Die ma se oorspronklike plasing en daaropvolgende plasings is derduisende kere op sosiale media gedeel en talle mense het hulp aangebied in die soektog na die peuter.

Kapt. Walter Spencer, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media bevestig dat ʼn saak van minagting van die hof in verband met die dogtertjie se verdwyning by die polisie aanhangig gemaak is. Spencer kon nie Woensdagoggend onmiddellik bevestig of die kind wel intussen teruggekeer het huis toe nie, maar het gesê selfs al het sy teruggekeer huis toe, sal die polisie se ondersoek in die saak voortduur.

ʼn Foto van die peuter wat wyd op sosiale media versprei is tydens die soektog na haar. (Maroela Media het die foto aangepas om die peuter se identiteit te beskerm.) Foto: Facebook

“Wat gewoonlik met hierdie sake gebeur is dat die dossier na die hof verwys word vir ʼn beslissing of iemand vervolg moet word. Dikwels word die ouers ingeroep vir ʼn bemiddelingsproses. Ons sluit nie sommer voor die voet ʼn ouer toe nie omdat dit dikwels tot nadeel van die kind is,” het hy verduidelik. “Ek kan nie sê of dit is wat in hierdie spesifieke geval sal gebeur nie, maar dit is dikwels hoe hierdie sake hanteer word.”

Hy het gesê hoewel die saak by die Honeydew-polisiestasie aanhangig gemaak is, sal dit na die Alberton-polisiestasie oorgeplaas word.

  • Maroela Media weerhou die ouers en dogtertjie se name om haar identiteit te beskerm.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

31 Kommentare

Grassie ·

Elke saak het twee kante. Die man het seker maar na sy dogter verlang hier oor kersfees.

Besemryer ·

Natuurlik het die pa verlang! Dis jammer dar die kinders altyd daaronder ly as die ouers dwars trek. Hoop sy het lekker by haar pa gekuier, en bly sy is weer tuis

susan ·

So baie gebroke huwelike dan word die kinders gebruik om mekaar by te kom

Danie ·

Ongelukkig is die kind al die verloorder in a gebroke huwelik (soos Susan sê).

Van die Ma se kant af kom die Ma eerste, die kind tweede en die pa derde.
Van die Pa se kant af kom die Pa eerste die kind tweede en die ma derde.

Ongelukkig kom die kind eintlik derde want in die meeste gevalle gebruik die Ma die kind teen die Pa en die Pa die kind teen die Ma.

Karen ·

Ongelukkig besef ouers nie altyd watse skade hulle doen nie, tot die kiddies groter is dan kom die skade deur

MCS ·

Seker sy foon afgeskakel, het geweet die ma gaan nie na rede luister. Was seker nie lus vir haar gemoan. In party egskeidings kom niemand mekaar te gemoed, veral as die een voel die ander het hom/haar tenagekom. Partykeer moet ma sukkel dat pa kinders moet sien en onderhoud betaal, ander gevalle kan die pa nie genoeg vir hul kinders doen. Sal selfs moeilikheid in die gesig staar net om hul kinders langer te hou.

dom ·

dit is vrouens soos daai wat my bloed laat kook . die pa het presies dieselfde reg as die ma om die kind te sien . Wie gee die hof die reg om tye op te stel . Ek gee nie om wie de hel hulle dink hulle is nie . Die probleem le natuurlik by die vrou wat die pa wil spite !!!!

Lientjie ·

‘n Hofbevel bly ‘n hofbevel!!!! Die hof het seker ‘n baie goeie rede gehad toe hulle die bevel gemaak het.

Wim Kotze ·

Ja Lientjie, ‘n hofbevel is ‘n hofbevel. Tog net jammer die polisie en howe ‘n effense blinde kol het wanneer dit teen die ma afgedwing moet word.

Valerie ·

Nie nuus nie; ‘n interne gesinsprobleem. Nie koerante se besigheid nie.

Onverantwoordelik! ·

As die hof-bevel beveel dat kind Sondag moet terug wees – dan is dit die wettige reelling. Die pa het uiters onverantwoordelik opgetree om dit te verontagsaam en alle kommunikasie-kanale te blokkeer. Sy besoek-regte behoort opgeskort en herbesoek te word sodat hy die kind slegs in die ma se toesig sien. Die kind was by hom – dus duidelik keer hierdie mamma nie dat hy haar sien en kry op die tye soos deur die hof bepaal nie. En die feit dat sy vuil aan haar ma terug besorg is spreek boekdele oor die pa se vermoë om haar te versorg.
Waardeur het hierdie ma nie gegaan nie. Soveel ouers termineer hulle kind en daarna hul eie lewe om die ander ouer te “straf”. Om sulke “speletjies” te speel om die mamma te “spite” spreek daarvan dat die pa maar veel voel vir die kleuter en haar gebruik om die ma te na te kom – ten koste van die kind.
Mag die hof hom deeglik ondersoek, herbesin en in die belang van die kindjie en haar veiligheid optree.
10/10 vir die ma wat dadelik opgetree het in belang van haar kind se veiligheid.

Lissel ·

Ek stem dis so maklik om die ma te veroordeel omdat sy so vinnig opgetree het maar wat as die pa die kind ontvoer het wel en daar nie so gelukkige einde was nie? Dan was dit weereens die ma wat moes van beter geweet het. Nee ek stem dit was reg om so vinnig op te tree as daar n hofbevel in plek is dan is dit so gedoen met n rede. Mens weet seker nie die hele verhaal nie en hoef ook nie dit te weet nie belangrikste is dat hierdie ma omgee genoeg om haar kind betyds te soek.

Verlangende.... ·

…pa, wat net sy meisiekind wou sien? Bietjie langer by hom hê? Gatvol vir die eks se tantrums en demands…?
Ai. Man en Vrou haat mekaat en nou moet kind gebruik word om mekaar “by te kom”
WORD GROOT! Sies, julle is selfsugtig

Lizel kruger ·

Die saak mag moontlik twee kante hê, maar ‘n hofbevel word met rede uitgereik wat grense stel om ‘n kind te beskerm. Dit gaan mos eintlik oor die geborgenheid van ‘n kind.

LV ·

Ek lees vroeer op n ander nuuswerf die pa se weergawe,en my net weer laat besef dat die ander kant altyd eers aangehoor moet word,voordat ons ons eie afleidings maak. Hierdie is n tipiese voorbeeld van histeriese sosiale media.

PJC ·

Ek het geen simpatie met hierdie pa nie. As hy enigsins vir sy kind omgee sou hy haar nie gebruik om die ma te ontstel nie. Ongeag wat tussen die ouers gebeur kry jou kind vir wie jy lief is se belange altyd voorkeur.

Johann ·

So LV, dink jy regtig sy sou die polisie betrek het as hy nie sy toegelate besoekreg oorskry het nie? As daar ‘n goeie rede was hoekom hy die kind nie betyds kon terugvat nie moes hy die ma gekontak het of as hy bang was sy gooi ‘n tantrum soos sekere ander mense hier beweer, dan deur iemand anders. Hy het net sy eie saak vir toekomstige toegang versleg.

Boet Fasie ·

Ag ek glo die ma het weer al haar toys uit die stootkarretjie gegooi, wat van ‘n chill pil . As die pa nie omgee vir sy.kinders nie dan word hy gekruisig, gee hy wel om word hy vervolg as hy nie doen wat die ma wil he nie – kry die kind jammer

Zelda ·

Wat ek nie kan verstaan van MAROELA NUUS NIE is die dogtertjie se naam en van en haar gesig foto is orals op sosiale media versprei. Maar maroela blank die gesit en wil nie ouers se name noem nie vir die kind se identityd. MAAR DIS ORALS OP FB ….. Ek is bly die meisiekind is gekry

Wonder maar net ·

My genade, die mede mens is vinnig om te oordeel. Wonder of enige van jul, wat kommentaar lewer, al ooit in die geskeide bootjie gesit het. As jy nie in daardie bootjie sit nie, sal jul dit nooit verstaan nie. Ek was al in daardie bootjie & jul sal onder geen omstandighede weet wat in daardie bootjie gebeur nie. Dit sal soveel beter wees as mense net die rubriek lees, en eerder nie gevolgtrekkings maak nie. Mense kan nie saam praat oor egskeidings, verlies van kinders en wat ookal in die mens se daaglikse lewe gebeur – tensy jy nie dieselfde padjie al gestap het nie. Dit is nou een maal hartseer om almal se gevolgtrekkings te lees. Wie is ons as mens om te oordeel? Wonder maar net….. He that is without sin, let him cast the first stone !!!

AEH ·

Dis baie maklik om kommentaar te lewer en monde uit te spoel…wees die Here dankbaar as jy nie in so n situasie is of was nie…ek was al in dieselfde situasie en ek wens vir geen iemand dit toe nie. Die magteloosheid en verskrikking wat mens deurgaan is onbeskryflik om nie te weet waar jou kindjie is nie…die dinge wat in n mens se kop aangaan…
Ek is dankbaar hierdie mamma het haar kuikentjie terug onder haar vlerk.

Pieter ·

Die ma het opsetlik die lawaai ogeskop. Dit is haar manier om haar eks terug te kry. Sy weet die reg is aan haar kant daarom tree sy so op, wil seker probeer om die pa van die kind weg te hou.

Pappegaai ·

Natuurlik het sy opsetlik lawaai op geskop, haar kind was weg! Die man se huis was leeg. Hy het verdwyn met hulle kind. Sy vriende en familie het kamtig nie geweet waar hy is nie. Wat sou jy doen as jou kind sou verdwyn? Sou jy net sit en wag dat sy dalk terug kom?

LB S ·

Gmf, gladnie ‘n goeie idee om so op te tree as jy jou eks wil terughê nie. Nee wat, ek dink ons ken nie albei kante van die storie nie, so moet dus nie oordeel nie. Dit is wel ‘n tragedie.

Poppie ·

Ek glo die pa wou ook net sy kind bietjie vir Kersfees by hom gehad het. Ons was deur dieselfde storie. My dogter was net so spiteful. Die pappa kon sy kindjie ook net 1 keer n maand gesien het in n openbare plek terwyl my dogter teenwoordig was. En dit terwyl die pa absoluut niks verkeerd gedoen het nie. Dit het 2 jaar so aangegaan en toe is hul weer saam want die pa het nie moed opgegee nie en my dogter het haar strooi laat staan. Nou al 5 jaar later en nog steeds n gelukkige gesin.

LV ·

Johann,ek stel voor jy lees n bietjie wyer,dan sou jy dalk die pa se weergawe ook raakgelees het,moontlik sou jy dan meer ingeligte kommentaar oor die onderwerp lewer.

Ai ·

As almal net in hierdie moderne eeu met selfone en wat-nie-nog waarmee kontak gemaak kan word, net bietjie sal dink en ander altyd in ag neem. As hy haar graag langer wou hou wat van net ‘n doodgewone reëling vooraf of ‘n oproep en mooi vra? Hoe moeilik is DIT nou? Nou het hy probleme veroorsaak deur die hofbevel te minag. Verseker ly die kind altyd in sulke situasies.

Pappegaai ·

Natuurlik het sy opsetlik lawaai op geskop, haar kind was weg! Die man se huis was leeg. Hy het verdwyn met hulle kind. Sy vriende en familie het kamtig nie geweet waar hy is nie. Wat sou jy doen as jou kind sou verdwyn? Sou jy net sit en wag dat sy dalk terug kom?

Carmen ·

Sou nie gebeur het as sy eweredig tyd met haar en haar pappa en haar en die kind gedoen het nie, dit vat baie vir n man om so ver te gaan selfs al weet hy wat die implikasies mag wees. so in n sens het sy dit veroorsaak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.