Kleuters na kliniek geneem oor traangas

Sewe kleuters by ʼn kleuterskool in Pietermaritzburg moes Maandagoggend na ʼn mediese kliniek geneem word nadat hulle glo aan traangas blootgestel is.

Werner Vermaak, woordvoerder van ER24, sê paramedici is omstreeks 11:25 na die kleuterskool in Copesville ontbied. “Daar het hulle sewe kinders, almal vier en vyf jaar oud, aangetref wat gehuil en sleg gevoel het,” sê Vermaak.

“Volgens omstanders was daar glo ʼn protesaksie by die hoërskool oorkant die kleuterskool en is traangas tydens die betoging afgevuur. Dit het die kinders by die kleuterskool geaffekteer.” Paramedici het ook ʼn hoërskoolleerder op die toneel behandel nadat sy met ʼn rubberkoeël in haar voet geskiet is.

Vermaak sê volgens die kleuterskoolpersoneel is die kinders se ouers in kennis gestel van die voorval.

Hy kon nie meer inligting oor die presiese omstandighede verskaf nie. Maroela Media het die provinsiale polisie om kommentaar genader en wag op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.