Kleuterskole nou oop vir personeel

(ArgieffFoto: Unsplash)

Personeel van sentrums vir vroeëkinderontwikkeling wat tans onder die Kinderwet val, mag eindelik terugkeer werk toe. Dit beteken egter nié dat kleuters al mag terugkeer kleuterskool toe nie.

Die departement van maatskaplike ontwikkeling het Sondag in ’n verklaring gesê slegs personeel van kleuterskole, crèches en dagsorgsentrums word in dié stadium toegelaat om terug te keer om die nodige voorbereiding te doen vir wanneer kleuters eindelik sal kan terugkeer.

’n Datum vir kleuters se terugkeer is egter nog nie aangekondig nie en geen kind mag tot dan terugkeer na ’n kleuterskool nie, het die departement in die verklaring benadruk.

Luidens die verklaring behoort personeel van sentrums vir vroeëkinderontwikkeling nou die nodige gesondheidsprotokolle by die betrokke sentrum gereed te kry. “Dit bly [ook] die bestuur van die betrokke sentrum se verantwoordelikheid om te verseker dat personeellede aan die nodige gesondheidsmaatreëls en handhawing van sosiale afstand voldoen wanneer hulle na die werkplek terugkeer,” het die departement verduidelik.

Luidens die verklaring moet alle sentrums vir vroeëkinderontwikkeling wat beplan om gedurende die ramptoestand te heropen, binne die volgende twee weke ’n vorm invul wat aanlyn of by die departement se naaste kantoor ingedien moet word.

Maroela Media het vroeër berig graad R-leerders wat tans onder die Skolewet val, sal op 6 Julie toegelaat word om terug te keer skool toe te midde van die Covid-19-pandemie. Dié datum geld egter nie vir graad R-leerders wat in die stadium steeds onder die Kinderwet val nie.

Dit aangesien die regering besig is om sentrums vir vroeëkinderontwikkeling van die departement van maatskaplike ontwikkeling na die departement van basiese onderwys te migreer. Dié proses is egter nog nie afgehandel nie.

Dit beteken dat sommige sentrums vir vroeëkinderontwikkeling dus steeds onder die departement van maatskaplike ontwikkeling val. Dié sentrums bly gesluit tot verdere kennisgewing.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Hendrik ·

Die migrasie van een departement na n ander het mos nou niks uit te waai met die bekamping van die virus nie. As daar nie n virus was nie sou ons gewone outjies nie eers geweet het vd migrasie nie…

Gemaskerde Sopbeen ·

Ons behoort ‘n aaanlyn register te begin van die verskillende verskonings wat die regering voorhou. Met regering bedoel ek alle departemente, vlakke van regering en ampsdraers wie kommentaar lewer en met die media skakel.

Rayman ·

Wie gaan hul salarisse betaal as daar nie kinders is om na te kyk nie, hoe stupid dink die regering is ons, en ons bly val vir die gemors wat hulle sê. Mense ons moet begin bykom.

Wielspore ·

Dit is tyd dat die ECD’s oopmaak, hierdie mensies mis hul maatjies en stimulasie. Dit is ook belangrik dat onderwyser solank die klasse voorberei vir die ontvangs van die kinders omdat die welstand van die kinders belangrik is. Die personeel wat kla dat hulle nie salaris ontvang, ek is seker julle het UIF ontvang en om ‘n week sonder salaris te werk om eindelik weer ‘n volle salaris te kan ontvang is ‘n opoffering wat die moeite werd is.

Rayman ·

Wielspore jy is seker een van die mense wat volle salaris ontvang het nog deur die hele spektakel, en kla met die wit brood onder die arm. Hoeveel kleuterskole het al toegemaak want jou sogenaamde uif kan nie alles betaal nie, so as jy in daai situasie is dan kan jy praat

Stof ·

Duidelik het Tannie Sanna Mienie nie Exodus 20:16 gelees nie…

Jaco ·

Wat nou van swart eienaars van kleuterskole en swart werkers by kleuterskole? Moet hulle nou ook swaarkry? Hulle ras en BEE status is dan klaar reg?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.