Kleuterskool-saak: Departement wil nie ‘moeilike besluite neem’

Kleuterskole wat by die departement van maatskaplike ontwikkeling geregistreer is, het steeds geen idee wanneer hulle weer kleuters mag terugverwelkom nie. (Foto: Maroela Media)

Solidariteit sê hy is ingelig dat die saak teen die departement van maatskaplike ontwikkeling oor die heropening van kleuterskole en dagsorgsentrums nie meer in die ope hof aangehoor gaan word nie.

Regter Hans Fabricius sal slegs van die hofstukke, soos dit aan hom verskaf is, gebruik maak en geen mondelinge betoë sal aangehoor word nie.

Anton van der Bijl, hoof van arbeidsregsdienste by Solidariteit, sê hulle het tot dusver ook nog geen opponerende eedsverklarings van die departement gekry nie. Volgens Van der Bijl het die staat vroeër wel aangedui dat hy die saak gaan teenstaan, maar dat geen stawende dokumente ontvang is nie.

“Die staat is onbevoeg. Pleks daarvan dat hy self moedigheid aan die dag lê en ʼn besluit neem, wag hy vir die hof om dit namens hom te doen. Ek dink nie die departement weet wat om te doen nie en ás hy weet, is hy nie bereid om ʼn besluit te neem nie,” het Van der Bijl gesê.

Die Solidariteit Beroepsgilde vir Maatskaplike Werkers en die Skoleondersteuningsentrum (SOS) het die hof genader omdat daar steeds geen vasgestelde datum vir die heropening van private kleuterskole en dagsorgsentrums is nie. Dít terwyl die departement van basiese onderwys se datums vir die heropening van skole, wat departementele kleuterskole insluit, reeds bekendgemaak is. Kleuters in dié skole mag op 6 Julie weer terugkeer klas toe.

“Dit is ʼn verligting dat die saak uiteindelik voor die regter sal dien. Deur sy stilswye ignoreer die departement die noodkreet van hierdie sektor en deur die saak na die hof te verwys, dwing ons die departement nou om daarop te reageer,” het Marisa Engelbrecht, sektorhoof van die Solidariteit Beroepsgilde vir Maatskaplike Werkers, gesê.

“Dit is die departement se plig om in die beste belang van ons kinders op te tree, nie om deur hul optrede kinders van hul regte te ontneem nie.”

Talle skole het reeds omvattende stappe gedoen om kleuters veilig terug te verwelkom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Genis

Dit is in baie gevalle so, onbevoeg om dit te doen, en die hof moet beslis… dis eindelik skandelik, om die minste te se…

Agge nee

In baie gevalle is die privaatskole baie beter toegerus as staat, maar die staat mag alles doen sonder die regte geriewe.

Jaco

Kleuterskole is ‘n wit ding. In swart gemeenskappe is daar ‘n ouma of ‘n tante of soms ‘n ouer broer of suster wat na die klein kindertjies kyk. Ons regering se alewige toehou van kleuterskole is net nóg ‘n deel van die ANC-regering se plan om wit besighede finaal te kelder.

Debbie

Vat die president en ministers se parlamentêre en addisionele salarisse weg totdat elke persoon wat nie mag werk nie of hul werk verloor het weer kan gaan werk. Jy sal sien hoe gou die regering planne maak om almal terug by die werk te kry.

Leeu

Asof dit nie genoeg is nie, kleuterskole wat naskoolsentrums ook bied, kan nie albei (voor- en naskool) onder die regulasies bedryf nie. Naskoolsentrums het begin kennis gee dat hulle nie kan heropen onder die maatreels nie en ons as ouers is gestrand sonder heenkome vir oons laerskool kinders.