Kleuterskool-saak tot dán uitgestel

(Foto: Erika Fletcher/Unsplash)

Solidariteit se beroepsgilde vir maatskaplike werkers en die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) se saak teen die departement van maatskaplike ontwikkeling oor die heropening van kleuterskole wat Dinsdag sou plaasvind, is met ʼn week uitgestel. Dit volg nadat die regter beveel het dat die saak moet oorstaan sodat ander relevante uitsprake in verband met die heropening van skole tydens die Covid-19-pandemie in ag geneem kan word.

Volgens die SOS het die departement van maatskaplike ontwikkeling die afgelope weke geen opponerende stukke ingedien nie en niemand het Dinsdag opgedaag om namens die departement of enige van die ander respondente in die hof te verskyn nie.

Die partye het hulle tot die hof gewend omdat die departement nog geen datum vir die heropening van private kleuterskole en dagsorgsentrums bekendgemaak het nie.

Soos vroeër berig het die beroepsgilde en die SOS op 4 Junie ʼn dringende skrywe aan die minister van maatskaplike ontwikkeling gerig om die onduidelikheid oor die regulasies rakende die heropening van kleuterskole op te klaar. Datums vir die heropening van departementele kleuterskole was toe reeds deur die departement van onderwys bekend gemaak, maar onafhanklike en private kleuterskole en dagsorgsentrums is nie daarby ingesluit nie.

Nadat geen reaksie van die minister ontvang is nie, is daar voortgegaan met ʼn dringende hofaansoek.

Die beroepsgilde en SOS het hulle toe op 8 Junie tot die Pretoriase hooggeregshof gewend om die minister van maatskaplike ontwikkeling en die minister van samewerkende regering te dwing om uitsluitsel te gee oor die heropening van private kleuterskole en dagsorgsentrums.

Die departement het intussen Maandag ʼn skrywe aan eienaars van kleuterskool- en dagsorgsentrums gerig waarin aangedui word dat personeel mag terugkeer werk toe. Geen datum is vir die terugkeer van die kinders verstrek nie.

“Talle kinders in departementele kleuterskole keer eersdaags terug skool toe terwyl duisende ander in private kleuterskole deur die staat van hierdie basiese reg ontneem word,” sê Marisa Engelbrecht, sektorhoof by Solidariteit se beroepsgilde vir maatskaplike werkers.

Engelbrecht sê die feit dat kinders nie na private kleuterskole kan terugkeer nie is kommerwekkend omdat dit ’n negatiewe invloed op kinders se skolastiese vordering het en moontlik ernstige agterstande kan veroorsaak.

“Verder is ouers bekommerd omdat hulle geen ander heenkome vir hulle kinders het nie terwyl hulle self moet terugkeer werk toe. Daar is ook baie kinders wat nou meer blootgestel word aan geweld by die huis en vir party kinders is ’n maaltyd by die skool die enigste maaltyd van die dag,” sê Engelbrecht.

Anton van der Bijl, hoof van arbeidsregsdienste by Solidariteit, sê die departement van maatskaplike ontwikkeling het in hierdie saak ’n kans gehad om hul optrede te verduidelik.

“Ons kán en mág nie hierdie laakbare optrede sonder meer aanvaar nie, en sal aanhou veg vir geregtigheid. Een positiewe [ding] uit hierdie saak is dat daar ’n grootskaalse ontnugtering plaasgevind het wat wys dat ons nie op die staat kan steun vir hulp nie, maar dat ons ’n selfstandige gemeenskap moet wees wat mekaar ondersteun en help,” sê Van der Bijl.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Tino

Hierdie ouens in die staat bewys net elke dag meer en meer hul onbevoegdheid.