Kleuterskoolwerker verloor vriend, been ná roof

‘n Emosionele Martha Lebakeng in die hospitaal. (Foto: Verskaf)

’n Pretoriase kleuterskool-assistent se been moes noodgedwonge geamputeer word nadat sy oor die naweek tydens ’n vermoedelike rooftog in Mamelodi in albei haar bene geskiet is.

Martha Lebakeng (40) se vriend is tydens die voorval doodgeskiet.

“Sy het eers Maandag van sy dood gehoor. Haar hart is so seer. Sy was so lief vir hom,” vertel Nicola Maree, skoolhoof van die Speel Speel Skool in Wingate Park in die ooste van Pretoria waar Lebakeng as assistent werk.

Die skool se personeel en ouers is vandeesweek geskok gelaat deur die nuus oor dié geliefde assistent.

Die presiese omstandighede van die skietvoorval is nie in die stadium duidelik nie.

Lebakeng se suster, Susan Lebakeng, wat as ’n juffrou by die kleuterskool werk, sê dit word vermoed dat Lebakeng en haar vriend, Tumi Sekgobela, Saterdagaand beroof is, aangesien hul besittings vermis word.

Dit is nie duidelik of die paartjie hul teen die rowers teëgesit het nie. Lebakeng is egter verskeie kere in albei bene geskiet, terwyl haar vriend noodlottig gewond is.

Lebakeng se selfoon en bankkaart is vermoedelik tydens die voorval gesteel. Haar vriend se beursie word vermis.

Lebakeng is onder meer in haar linker-enkel geskiet. Sy het intussen infeksie opgedoen en die dokters by die Steve Biko Akademiese Hospitaal in die stad was genoop om haar linkerbeen bo die knie te amputeer.

Lebakeng sterk sedertdien in die hospitaal aan.

Martha Lebakeng in die hospitaal. (Foto: Verskaf)

“Dit gaan al beter met haar. Sy is ’n sterk vrou,” vertel Susan Woensdagoggend aan Maroela Media.

“Martha het al baie gehuil, maar ek het gister en vanoggend met haar gepraat en sy het beter geklink.

“Dit is hartverskeurend om te dink dat sy nou gaan sukkel om dinge te doen. Sy is baie lief vir haar werk en die kinders is baie lief vir haar. Sy het altyd vir die kinders gedans… Maar ons sal haar mooi help wanneer sy terug is.”

Maree sê ook die skoolgemeenskap sal alles in sy vermoë doen om Martha terug te verwelkom wanneer sy herstel het.

“Ek het vir haar gesê sy hoef haar glad nie te bekommer nie. Daar is nie manier dat sy haar werk sal verloor nie. Ons sal die pad saam met haar stap.”

Maree vertel dat die ouers van die Speel Speel Skool vandeesweek ’n pakkie met benodigdhede, onder andere ’n nuwe selfoon en nagklere, vir Lebakeng opgemaak het. Maree het dié pakkie saam met ’n handgemaakte kaartjie van die klas na wie Lebakeng daagliks omsien, hospitaal toe geneem. Dié kaartjie het Lebakeng in trane gehad.

“Sy was baie emosioneel.”

Die kleuterskool het onlangs ’n kermis as deel van ’n fondsinsameling gereël en Maree vertel dat daar nog besluit moes word waarvoor die skool die fondse sou aanwend.

“Die Here is so goed. Ek het vanoggend vir Martha gebid en toe kom die idee by my op dat ons die geld vir haar moet gebruik.”

Maree sê die skool sal intussen nog fondse probeer insamel om vorentoe vir Lebakeng met ’n prostetiese been toe te rus.

Maroela Media het vanoggend ’n navraag aan die polisie gerig oor die skietvoorval en wag nog op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Cherokee ·

Ja, daar’s van die hopirale waar dit nie goed gaan nie.

NuusUil ·

Hoekom se jy so ? My man het nog net uitstekende diens daar ontvang . Van die deur tot bu die saal .

Misky ·

So jammer oor wat met jou gebeur het Martha en sterkte vorentoe. En natuurlik aan die skooltjie en Juf. Maree, dankie dat julle haar so mooi help nou en planne vir die toekoms.

Kaptein67 ·

Ek hoop oom hoed gaan nou ook weer die 72 uur reaksie mag aktiveer, of is die dame nie so belangrik nie?

AW ·

Sterkte, gaan n lang proses wees vir jou, niks wat ek in alke goedheid wil sê , gaan dinge verander nie,.

Agge nee ·

Ai Martha, ek voel so jammer vir jou, maar daar is darem die ondersteuning van die skool wat jou gaan help. Mag die Here jou krag gee en vir jou en die skool met dubbelhande seën.

Di ·

Ja, so ly ons almal nou onder die kriminiele, vir hulle gaan dit net om te roof en moor. Danksy die useless polisiemag en korrupte regering gaan dinge nog baie erger word. Sterkte aan haar, hoop sy word gou gesond. Daar wag nog ‘n lang pad na herstel vir haar

Theo ·

Ek wonder maat net by myself of die BLM ondersteuners wat so knie buig hierdie vrou gaan ondersteun… my geld is definitief nie daarop nie want Black lives only matter when its white on black crime en duidelik was hierdie swart op swart en daarom nie in die kollig nie want moord en aanranding van swart op swart is nie rasisme nie en deesdae kry rasisme meer media dekking en word dit meer ernstig gesien as moord.

Charl ·

Hierdie misdadige drek het geen gevoel vir ander se lewens, ongeag ras of velkleur ! Sterkte Martha.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.