Kleuterskoolwerker wat kinders aanrand gevonnis

Nellie Senwametsi in die hof. Foto: Skermskoot uit eNCA-video

Nellie Senwametsi, voormalige werknemer van ’n kleuterskool in Carletonville aan die Wes-Rand, is Dinsdag tot vyf jaar tronkstraf gevonnis vir die aanranding van drie kleuters.

Dié kleuterskool het in April verlede jaar opslae gemaak toe verskeie video’s die lig gesien het waarin gesien kan word hoe Senwametsi (40) kleuters by die skool bydam.

Senwametsi slaan in een van die video’s ’n dogtertjie herhaaldelik oor haar kop en op die boude. Die kleuter het vermoedelik op ʼn plastiekstoeltjie en -tafeltjie opgegooi waarna sy haar dwing om dit skoon te maak en haar dan herhaaldelik bydam.

Senwametsi is vanoggend in die Oberholzer-landdroshof gevonnis nadat sy in Julie vanjaar skuldig bevind is op twee aanklagte van aanranding en een van aanranding met die doel om ernstig te beseer. Sy het skuldig gepleit op al drie aanklagte.

Miranda Jordan, stigtersdirekteur van die organisasie Women and Men Against Child Abuse (WMACA), het in reaksie op die vonnis gesê hulle voel steeds dat Senwametsi tien jaar tronkstraf opgelê moes word – die minimum voorgeskrewe vonnis vir die aanranding van ’n minderjarige met die doel om ernstig te beseer.

Volgens Jordan het die landdros egter afgewyk van die minimum voorgeskrewe vonnis aangesien Senwametsi skuld erken en berou vir haar dade getoon het.

“Hoewel ons die hof se besluit respekteer, sou ons daarvan gehou het as hierdie saak ’n sterk boodskap kon stuur aan diegene wat kinders mishandel dat dit nie deur ons howe geduld sal word nie.”

Jordan verwys na die ernstige aard van die klagte teen Senwametsi asook die langtermyn impak van die mishandeling op die kleuters.

Maroela Media het vroeër berig dr. Denise Muller, ’n kliniese sielkundige, het verlede maand in die hof ter strafverswaring getuig oor die nadelige gevolge wat die aanranding op lang termyn op die drie kleuters kan hê. Die kinders was almal vier jaar oud ten tyde van die aanranding.

Senwametsi is ook vanoggend onbevoeg verklaar om met kinders te werk en haar naam sal tot die register van oortreders teen kinders gevoeg word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Johann ·

En dis die straf wat sy kry midde die GBV uproar? Kamptig sal voorbeelde gemaak word van sulke boosheid…maar sy stap weg met n lekker 5 jaar all paid vakansie op belasting geld?

Maggies ·

Kinders is lewenslank geskaad. Vyf jaar kan onmoontlik nie genoeg wees nie.

ES ·

Die vonnis is te lig! Dink net watter emosionele skade daardie kinders aan gaan ly vir die res van hul lewens!

Mense wat kinders en diere mishandel moet dieselfde vonnisse as moordenaars kry. Hulle is nie waardig om in die samelewing te wees nie.

Einstein ·

Wat ek nie verstaan nie is dat die vonnisse NOOIT ten volle uitgedien word nie. Hierdie 5 jaar gaan ook weer opeindig in 2 jaar en parool…

Pim die Skim ·

Sou 40 hou op die rug in die openbaar nie ‘n beter fonnis wees nie?

Eiervrug ·

Hierdie is net my persoonlike opinie, maar ek glo dis hoekom hulle so geweldadig is. Mense soos sy se kinders word ook so aangerand by die huis, en so neem hulle aan dat dit seker maar die manier is hoe jy optree as jy kwaad is. Hierdie mense se kinders sal in die toekoms dieselfde doen, dis hoe hulle groot geword het.

Pim die Skim ·

Dan te meer dat daar heeltemal afstand gedoen word van BBBEE en afirmative employment, sodat meer geskikte mense gevind kan word om met ons kinders te werk.

Janine ·

Berou getoon? Omdat sy gevang is. Dis om van naar te raak! Daai arme kinders! My kinders is almal groot, maar ek kan jou verseker; as dit MY kleinkind was, het jy nie die gerief van hof of sel gemaak nie. Punt!

Riaana ·

Dis wat hulle voel vir ons kinders sy kry 5jaar en die kinders is vir die res van hul lewens geskaad deur haar dade, oe eh eh, die land maak mens siek!!!!!!! ????????????

Mariana ·

5 jr is te min. Sy moes baie langer gesit het, maar ja dis mos SA en hier loop die kriminele vry. Sy lag al die pad maar miskien kry sy wat haar toekom in die selle.

Saartjievandiebosveld ·

Dit moes 5jaar effektief…sonder parool gewees het…

Pim die Skim ·

Die regter maak ‘n fout! hierdie vrou moes vir die minimum tydperk plus verswaring gevonnis gewees het. Ek stem saam met Johann, want hier word gladnie ‘n voorbeeld gemaak nie en sy gaan nou ‘n 5 jaar vakansie op ons kostes hê

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.