Kleuterskoolwerker wat kinders aanrand: ‘Sy moet swaar gestraf word’

Nellie Senwametsi in die hof. Foto: Skermskoot uit eNCA-video

’n Voormalige werknemer van ʼn kleuterskool in Carletonville aan die Wes-Rand sal na verwagting binnekort gevonnis word vir die aanranding van drie kleuters.

Dié kleuterskool het in April verlede jaar opslae gemaak toe verskeie video’s die lig gesien het waarin gesien kan word hoe Nellie Senwametsi (40) kleuters by die skool bydam.

Senwametsi slaan in een van die video’s ’n dogtertjie herhaaldelik oor haar kop en op die boude. Die kleuter het vermoedelik op ʼn plastiekstoeltjie en -tafeltjie opgegooi waarna sy haar dwing om dit skoon te maak en dan herhaaldelik bydam.

Senwametsi is in Julie vanjaar skuldig bevind op twee aanklagte van aanranding en een van aanranding met die doel om ernstig te beseer.

Die saak teen Senwametsi sal Dinsdag in die Oberholzer-landdroshof voortgesit word wanneer Senwametsi se regsverteenwoordiger na verwagting ’n staatsgetuie sal kruisondervra en ter strafversagting vir sy kliënt sal pleit en daar met vonnisverrigtinge begin sal word.

Miranda Jordan, stigtersdirekteur van die organisasie Women and Men Against Child Abuse (WMACA), het vandeesweek aan Maroela Media gesê die saak teen Senwametsi is sowat twee weke gelede uitgestel nadat die verdediging aangedui het dat hul meer tyd nodig het om voor te berei vir kruisondervraging van dr. Denise Muller, ’n kliniese sielkundige.

Muller het verlede maand in die hof ter strafverswaring getuig oor die nadelige gevolge wat die aanranding op lang termyn op die drie kleuters gaan hê. Die kinders was almal vier jaar oud ten tyde van die aanranding.

Volgens Jordan het Muller in haar getuienis verwys na die emosionele, fisiologiese en sielkundige impak van die mishandeling op die kleuters, waaronder moontlike lewenslange leer- en geheue-probleme asook moontlike eetversteurings asook aggressiewe en angstige gedrag.

‘n Skermgreep uit die video.

WMACA hou intussen vol dat Senwametsi niks minder as tien jaar tronkstraf opgelê moet word nie – die minimum voorgeskrewe vonnis vir die aanranding van ’n minderjarige met die doel om ernstig te beseer.

“Ons as ’n organisasie is van mening dat daar geen redelike versagting is wat dwingend en wesenlik genoeg is om enige afwyking van die minimumvonnis te regverdig nie.

“Die vonnis moet die lewenslange vonnis weerspieël van angs, woede, hartseer, moontlike verslawende gedrag, eetversteurings, leerprobleme, geheue-uitdagings en ander onvoorsiene probleme wat hierdie kinders aan kan ly as gevolg van Senwametsi se optrede.”

Maroela Media het vroeër berig twee aanklagte van aanranding is ook verlede jaar teen die eienaar van die kleuterskool aanhangig gemaak. Ouers het in die lig van die video’s die eienaar daarvan beskuldig dat sy die mishandeling versteek het.

Volgens Jordan is die eienaar verlede jaar in hegtenis geneem waarna sy in Augustus verlede jaar op borgtog vrygelaat is.

“Die aanklagte is nooit bekend gemaak nie en die saak is van die Oberholzer-landdroshof se rol geskrap. Die rede hiervoor was vir verdere ondersoeke. Die saak is sedertdien nog nie weer op die rol geplaas nie.”

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Byekonfyt ·

Dis verskriklik. Nou hoef ons ook nie te wonder waarom sekere kinders in geweldadige jongmense verander nie.

Trotse Boervrou ·

Ek het al so baie gehoor wat hul in die tronk met gevangenis doen wat kinders aanrand, vermoor, molesteer ens. Sy sal haar straf kry.

My siening ·

Tragies hoe saak verdwyn vir R 1000 en so gaan dit aan en aan onder die ANC!

Esta ·

Nou maar hoekom is die kleuterskool nie toegemaak na die eerste klagte nie? As ek die ouers is sal ek my kind daar uithaal

Esta ·

Daar was al twee klagtes teen die eienaar, waarna die eienaar op borg vrygelaat is..wat sê dit vir jou??

Nella ·

Dink toe die een klag deurkom, toe het die ander ouers ook na vore gekom.

Piet parys ·

Ter strafversagting kan sy lewenslank kry inplaas van doodstraf

AmY ·

Ek is op skool gereeld oor my hande en ook boude (in graad een) geslaan.
In standerd drie het ‘n wiskunde onderwyser my voor die klas geruk en gepluk omdat ek nie die wiskundeprobleem kon oplos nie.
Baie van die onderwysers van die sewentigs, tagtigs en vroeë negentigs hoort ook in die tronk.
Wat noem jy ‘n groot man wat ‘n klein standerd drie dogtertjie rond ruk en pluk omdat sy nie die wiskunde verstaan nie? Watter voorbeeld het hy vir die seuns in die klas gestel?
In standerd sewe is ons deur ‘n juffrou teen ons koppe geklap.
Hoop daai onderwyseres kry baie swaar in die tronk. Sy mag nie eens lewend daaruit stap nie.

Sarel ·

1. Wie verdedig so mens. Maar nou ja elke persoon hrt sy/haar regte en elke ou het ‘n plig om te doen.
2. Vonnis vzn 10jr. Aikonna 10 x 3 is 30jr. Maar nou ja soos vonisse in SA uitgedien word sal sy nie eers 10jr sit nie dn dan gee die Regering vir haar ‘n Onderwys Pos

Dries ·

Kan ons asseblief kommentaar uit die BLM-geledere kry oor hierdie vrou en haar aktiwiteite? Ek wag in spanning…

Chantz ·

Nou my vraag is hoe kan die persoon nog verder toestaan om te rekord terwyl die arme kind aangerand word. Maak my briesend kwaad!! Mag reg laat geskied

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.