Kliënt sterf by Tshwane-kliëntesentrum

(Foto: DA/Twitter)

ʼn Kliënt het Maandagoggend by die Stad Tshwane se kliëntesentrum in die Soshanguve- informele nedersetting digby Pretoria, Gauteng, inmekaar gesak. Hy het in die ry gestaan en gewag om gehelp te word.

Die sentrum is ook vir die dag gesluit. Kliënte word aangeraai om hul naaste kliëntesentrums te besoek.

Selby Bokaba, woordvoerder van die munisipaliteit, sê die sentrum se personeel is erg getraumatiseer deur die gebeure. “Die nodige berading sal vir hulle gereël word,” sê Bokaba.

Bokaba sê die polisie ondersoek tans die saak.

“Namens die Stad wil ons graag ons medelye aan die oorledene se familie en vriende betuig,” sê Bokaba.

Intussen het die hoofadministrateur van die Stad, Mpho Nawa, die bedanking van Mavela Dlamini as waarnemende stadsbestuurder en lid van die Stad se administratiewe span, verwelkom. Die rede vir sy bedanking hou glo verband met sy gesondheid.

Volgens die Stad se verklaring hou Dlamini se bedanking verband met sy ouderdom wat hom glo ʼn hoë risiko maak om Covid-19 op te doen en ernstig siek te word. “Weens die aard en verantwoordelikheid van ʼn stadsbestuurder sal dit vir hom boonop buitengewoon moeilik wees om van die huis af te werk,” lui die verklaring.

Dlamini was sedert 23 Maart vanjaar aan die stuur van die Stad se administrasie. Onder sy leiding het die Stad, luidens die verklaring, aansienlik vordering gemaak en het die munisipaliteit se administrasie begin stabiliseer.

Hy sou aanvanklik vir 90 dae as waarnemende stadsbestuurder dien, maar dié tydperk is sedertdien verleng. Die aanstelling van ʼn permanente stadsbestuurder is in ʼn gevorderde stadium.

Nawa het namens die administrasiespan sy dankbaarheid en waardering teenoor Dlamini vir sy bydrae as stadsbestuurder uitgespreek.

“Ons wens hom sterkte toe met die toekoms,” sê Nawa.

Die Stad Tshwane het ook in die verklaring Mmaseabata Mutlaneng as die nuwe waarnemende stadsbestuurder verwelkom.

Volgens die verklaring het Mutlaneng jare lange ervaring as senior bestuurder. Sy het sedert 2002 in verskeie provinsiale regerings en departemente as bestuurder gedien. Sy het ook die afgelope agt jaar in die departement van infrastruktuurontwikkeling as adjunk-direkteur-generaal van die bestuur van korporatiewe dienste gewerk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Leon ·

Nog altyd geweet Tshwane se amptenare wat so stadig werk gaan die mense begin doodgaan in die ry.

Elize ·

Ja stem saam want waar treurigheid opgehou het het hulle oorgevat

Annakapat ·

Leon, Elize, dis onregverdig om al die amptenare as treurig te beskryf! ‘n Paar van ons probeer ten minste nog!
Julle is uiters onsensitief en dis ook nie net by die Stadsraad waar dit so “treurig” is nie – baie mpye ly aan die sogenaamde treurigheidsindroom!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.