Klimaatsverandering: Wynboere voer stryd teen tyd

Die Reyneke-wingerd in die Wes-Kaap. Wingerde word aangepas om by die kontoere van die land te pas. (Foto: Wikus de Wet/AFP)

Die droë, ontwortelde wingerde lê op die stapel aan die voet van ʼn heuwelagtige stuk braakgrond.

Heelwat van dié wingerd word oorgeplant om beter by klimaatsverandering aan te pas; verandering wat na verwagting minder, maar meer fel reënval in hierdie deel van die wêreld gaan veroorsaak.

Van Australië en Kalifornië, tot Frankryk, Spanje en Italië – produsente in wynproduserende streke wêreldwyd is gewikkel in ʼn stryd teen tyd om aan te pas by klimaatsverandering wat die druiwe raak. Die suidste punt van Afrika is geen uitsondering nie.

“Ek hou nie daarvan om dinge sommer net goedsmoeds te aanvaar nie. Kom ons sit ons ʼn bietjie teë,” sê Rosa Kruger, die wynboukonsultant wat die projek in die Kaapse Wynland bestuur.

Soos ander wynplase in die omgewing van Stellenbosch, is die Reyneke-landgoed se wingerde nie bestand teen die klimaatskokke nie, sê Kruger.

“In die ou dae het ons vierkantige blokke gehad,” verduidelik die 64-jarige Kruger in ʼn haar sportstewels, denim en donker windjakker terwyl sy ʼn wakende oog hou oor die wingerde wat herplant moet word.

Die wynvate op die Reyneke-landgoed naby Stellenbosch in die Wes-Kaap. (Foto: Wikus de Wet/AFP)

Om beter by swaar reën aan te pas, word die nuwe wingerde uitgelê om te strook met die heuwelagtige landskap.

Die herplanting word geleidelik gedoen met ou wingerde soos chenin, ʼn kenmerkende druifvariëteit uit Frankryk se Loire-streek, wat voortgesette produksie verseker terwyl die nuwe wingerde groei.

Dit duur tot vier jaar voor dit in produksie kom.

“Ons het die wingerde volgens die natuurlike uitleg van die grond uitgelê,” sê Kruger.

Wisselvallige klimaat

Rosa Kruger waarsku al jare dat aanpassings gedoen sal moet word om beter beskerming teen klimaatsverandering te bied. (Foto: Wikus de Wet/AFP)

Dreineringstelsels om reënwater te versamel loop tussen elke stuk grond en vloei uiteindelik saam in ʼn reservoir wat water vir die droogtetye opgaar.

Inheemse struike is ook op die landgoed geplant om die biodiversiteit te verbeter. Dit lok insekte en ander diere terug in ʼn poging om die grondgesondheid te verbeter.

Dennebome – ingevoer deur Europese setlaars wat dit aan die kant van wingerde geplant het – word uitgehaal omdat dit te veel water gebruik.

‘n Lugfoto van die wingerde. (Foto: Wikus de Wet)

Natuurlike bemesting word gedoen deur die tientalle koeie wat die landgoed bewei.

“Ons wil die perfekte plaas bou en voorstel; een wat oor 50 of 100 jaar nog relevant gaan wees,” sê Rudiger Gretschel, Reyneke se keldermeester.

Die grondtipe en ligging – naby aan die see – skep gunstige toestande vir wingerdproduksie.

Maar om druiwe te verbou aan Afrika se suidste punt is ʼn uitdaging.

“Die klimaat is reeds wisselvallig,” sê hy. “Ons kry reeds bitter min reën. Dis reeds baie warm.”

En dinge gaan nie beter raak nie.

Volgens die Verenigde Nasies (VN) is die planeet op pad na ʼn rampspoedige verwarming van byna 3 °C hierdie eeu. Sommige studies dui ook op ʼn verwagte 30%-daling in reënval teen 2050 in die Wes-Kaap.

Hoewel dit na verwagting minder gereeld gaan reën, gaan die reën veel meer intens wees – wat oorstromings veel meer algemeen maak.

“As mense nie in aardverwarming glo nie, moet hulle Suid-Afrika toe kom,” sê Kruger. Sy het haar al meer as ʼn dekade gelede begin beywer om bewusmaking te skep dat daar by ʼn veranderende klimaat aangepas sal moet word. En sy is dikwels met skeptisisme begroet.

Kaapstad, net ʼn klipgooi van hier, is geen vreemdeling vir waterprobleme nie. Die gebied het ʼn paar jaar gelede kwaai waterbeperkings ingestel nadat die stad in ʼn stadium net 90 dae se watervoorraad oorgehad het.

“Wanneer die reën minder word, gaan die water na die mense in die stad – nie die boere nie,” sê Kruger. “Dit is hoekom dit so belangrik is om selfonderhoudend te word. Dit is die hele idee.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.