Kliniek loop deur onder boosdoeners

Die kliniek se deure is oopgebreek. (Foto: ANA)

’n Kliniek in Khayelitsha in die Wes-Kaap is gesluit ná ʼn inbraak vroeër vandeesweek.

Die Stad Kaapstad het gesê die Kuyasa Community Day Centre (CDC) het Woensdag in die vroeë oggendure deurgeloop en sal gesluit bly totdat die polisie die voorval ondersoek en die gebou veilig vir gebruik verklaar het.

Raadslid Zahid Badroodien sê agt rekenaars, wat vroeg in Desember by die kliniek afgelewer is, is gesteel. Die kliniek se kragboks is oopgebreek en die gebou is ook beskadig.

Volgens Badroodien is die voorval ʼn groot terugslag vir gesondheidsdienste in die omgewing aangesien die kliniek daagliks sowat 400 pasiënte behandel en jaarliks sowat 500 pasiënte vir tuberkulose behandel. Byna 5 000 mense is afhanklik van die kliniek vir anti-retrovirale middels.

Rekenaars is gesteel. (Foto: ANA)

“Kliënte kom van Kuyasa, maar ook omliggende gebiede soos Monwabisi Park, Enkanini, Ezwelitsha en Harare –  ʼn gesamentlike bevolking van bykans 150 000 mense. Dit is meestal informele en verarmde gebiede, met ʼn hoë werkloosheidsyfer en ʼn baie groot las van siektes, waar mense afhanklik is van die openbare gesondheidsdienste by die kliniek.”

Badroodien sê solank die IT-toerusting nie vervang word nie, sal die kliniek se werkvloei maar stadig gaan as gevolg van probleme om pasiënte se lêers op te spoor. Die kliniek sal daarsonder ook geen toegang tot laboratoriumresultate hê nie.

Die raadslid het ’n beroep op die gemeenskap gedoen om na vore te kom met inligting omtrent die voorval.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Magda

Klink soos in “inside” job – jammer dat alles so verniel moet word. Wil alles he en as hulle dit het word dit vernietig. Ai tog.

Santie

Ai tog! En nou moet soveel mense ly as gevolg van ‘n paar misdadigers se selfsug. So tragies.

Julius

Dis die nagevolge van minimumloon. Niemand kan die werkers bekostig nie.

Keelvol

5,000 afhanklik van… Wat kos dit die belasting betaler nie- en dit net een kliniek.