Klofies is Gauteng se twee toppresteerders

Nadia Schmidt (Foto verskaf aan Maroela Media)

Twee leerders van die Hoërskool Waterkloof in Pretoria is aangewys as Gauteng se toppresteerders uit die matriekklas van 2021.

Nadia Schmidt spog met 10 onderskeidings in Afrikaans Huistaal, Engels Eerste Addisionele Taal, Lewensoriëntering, Wiskunde, Fisiese Wetenskappe, Lewenswetenskappe, Ingenieursgrafika- en Ontwerp, Besigheidstudies, Toerisme en Alpha Wiskunde.

Kristen Erasmus spog met nege onderskeidings in Afrikaans Huistaal, Engels Huistaal, Wiskunde, Lewensoriëntering, Rekeningkunde, Besigheidstudies, Lewenswetenskappe, Fisiese Wetenskappe en Alpha Wiskunde.

Nadia sê dit voel nog steeds vir haar onwerklik, maar sy is baie dankbaar. “Dit is net deur die Here se genade wat ek dit kon regkry.”

Nadia het nie spesifieke leermetodes nie, maar sy hersien baie voorbeelde, werk ou vraestelle deur en sy het ekstra moeite gedoen om seker te maak sy is goed voorbereid vir die eksamen. Sy sit egter nie die hele dag voor die boeke nie: sy het verskeie stokperdjies wat haar besig hou. Nadia skilder graag en hou daarvan om allerhande goed met haar hande te maak. Dit is ook vir haar ʼn passie om mooi foto’s te neem van voëls.

Sy het tot graad 10 skaak gespeel vir die skool, maar daarna op haar akademie gefokus.

Nadia gaan voorlopig medies by die Universiteit van Pretoria studeer.

Dis duidelik waar haar liefde vir die akademie vandaan kom: haar ouers het elkeen ʼn PhD-graad in Chemie. Haar pa verhandel in oorsese kommoditeite en haar ma het seker gemaak dat sy by die huis vir Nadia en haar ouer broer, wat tans meganiese ingenieurswese studeer, die beste ondersteuning tuis kan gee.

Kristen Erasmus (Foto verskaf aan Maroela Media)

Kristen sê die nuus was oorweldigend. “Ek en Nadia moes tot die einde wag vir ons uitslae – dit was senutergend!” Sy sê die skool het hulle baie gehelp en die onderwysers het alles in hul vermoë gedoen om seker te maak hulle is goed voorbereid vir die eksamen. “My familie het my ook baie ondersteun.”

Kristen reken sy leer nie eintlik veel meer as iemand anders nie, maar wanneer sy wel voor die boeke gaan sit het, het sy seker gemaak dat sy baie goed fokus. Sy het ʼn besige jaar gehad – sy was redaktrise van die skoolkoerant, het in die koor gesing en het ook op die Klofie-raad gedien waar verskeie projekte haar besig gehou het.

Sy sien uit daarna om rekeningkunde aan die Universiteit van Pretoria te gaan studeer en wil graag ʼn geoktrooieerde rekenmeester word.

Haar pa is ʼn finansiële direkteur en haar ma was ʼn prokureur, maar is nou by die huis om die kinders te ondersteun. Kristen het ʼn tweeling boetie en sussie wat in graad 10 is – hulle sal hard moet werk om in haar spore te volg!

“Vat dit dag vir dag, mens weet nie of die pandemie mens se planne omver kan werp nie,” is Kristen se raad aan vanjaar se matrieks. “Moenie kwaad word as jou planne nie uitwerk nie – gebruik die tyd wat jy het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.