Klop beurtkrag; word energie-slim met Solidariteit en KragDag se hulpgids

elektrisiteitselfstandigheid

‘n Hulpgids is vandag by die KragDag Ekspo bekendgestel wat huishoudings sal help om minder afhanklik van Eskom te maak. Foto: Thetechnoweb.weebly.com

Die vakbond Solidariteit het vandag in samewerking met die KragDag Ekspo ʼn nuttige selfhelpgids vir selfstandige energievoorsiening bekendgestel. Die doel van die gids is om kreatiewe oplossings aan die publiek te bied om sodoende minder afhanklik van Eskom se wankelrige kragvoorsiening te wees. Die gids is vandag op die eerste dag van die KragDag Ekspo buite Pretoria bekendgestel.

Wêreldwyd, en veral in Suid-Afrika, word mense genoop om alternatiewe energiebronne aan te wend om aan hul daaglikse energiebehoeftes te voldoen. Solidariteit se navorsing toon dat Eskom se elektrisiteitsvoorsiening vir die volgende paar jaar nog onder geweldige druk gaan wees, selfs al begin die Kusile- en Medupi-kragstasies krag lewer.

“Ons wil deur middel van die gids met werkbare oplossings en alternatiewe vorendag kom sodat ons lede sowel as die breër publiek teen kragonderbrekings beskerm kan wees. Huishoudings wat meer selfstandig in hul eie elektrisiteitbehoeftes voorsien, sal nie net meer verseker van elektrisiteit wees nie, maar sal ook die druk op die nasionale kragnetwerk verlig. Sodoende sal die voorkoms van beurtkrag afneem en die negatiewe effek daarvan op industrieë en die ekonomie verlig word,” sê Piet le Roux, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut.

Hiermee ʼn paar van die belangrikste punte wat in die gids vervat is:

  1. Vergelyk appels met appels. Voordat enige veranderinge aan ʼn huishouding se elektrisiteitsvoorsiening gemaak kan word, moet daar vasgestel word hoeveel krag die huishouding maandeliks gebruik, en hoeveel dit kos. Dit moet as maatstaf gebruik word waarteen alle opsies gemeet word.
  2. Neem jou begroting, behoeftes en ligging van jou huis in ag. Die aantal en tipes alternatiewe energieopwekking-toestelle wat jy gaan aanskaf, hang uiteraard van jou behoeftes en begroting af. Aangesien heelparty van dié toestelle met sonkrag werk, is die ligging van jou huis ten opsigte van sonlig dikwels ʼn bepalende faktor.
  3. Die krag van besparing. Dikwels kan gesinne hul afhanklikheid van Eskom verminder deur bloot krag te bespaar. Doeltreffende maniere waarop energie bespaar kan word, is byvoorbeeld deur die gebruik van LED-liggies en om jou huis te isoleer. Dit kan uiteindelik tot gevolg hê dat jy minder krag self hoef op te wek, of van die netwerk af hoef te koop.
  4. Verhit water goedkoper. Waterverhittingstoestelle soos tradisionele geisers is een van die grootste elektrisiteitvrate. Die goeie nuus is dat dit redelik maklik met meer energiedoeltreffende opsies soos sonpanele vervang kan word.

Vir ʼn volledige uiteensetting van die verskillende alternatiewe energie-opwekkingstoestelle, sien die volledige selfhelpgids.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

dries ·

Dink net as die mense wat dit kan bekostig om hierdie panele te installeer, hoe beter sal dit wees vir mense wat dit nie kan bekostig.

Koos ·

Waar moet ‘n mens R100000 plus kry om jou huis oor te skakel na sonpanele.Solidariteit het altyd wonderlike planne,maar dink nie aan die gewone middelklas werker ,wat ook sy grootste bydrae tot hulle maak,beding liewers ‘n plan om die Afrikaners uit die hel wat Suid Afrika geword het te kry.Ons is moeg vir hulle plannetjies

Jaco ·

Ai Kosie wees tog positief. Min mense gaan R100,000+ kan uitdok maar lees mooi wat gesê word en as Kosie kan optel en sonpanele is vir Kosie n oplossing kan Kosie dit dalk finansier met die besparing wat Kosie gaan hê naamlik geen elektriditeitsrekening meer nie.

HEVW ·

Sonpanele? Wees maar verseker hier kom n item wat misdaad erg sal bevorder. Hier in Namibie stap sommiges kilometers die plase in om dit te steel. Sorg tog dat dit diefproef geinstaleer word.

Peet Schabort ·

HEVW, ek verstaan die stelery het reeds hier ook begin.
Nou hoe beskerm jy daardie panele ?

Casper ·

Op die kragdag was daar ‘n oplossing , kyk na die uitstaller lys. Ek het ook al ‘n paar planne deur plot bewoners gesien wat ook gewerk het, wat goedkoper is. Plaas die panele ook so dat hulle nie maklik gesien word nie

Hannes ·

Ek sien nie my kommentaar, het ek ‘n bietjie te naby aan die been gesny.

CHRISTA ·

My man het sy huis in 1984 gekoop met ‘n solargeiser!! Maar ongeveer 2 jaar gelede het Ekurhuleni die bou van ‘n drie verdieping kantoorkompleks in ons woonbuurt (reg langs ons huis) goedgekeur!!! Nou werk ons solargeiser GLAD NIE gedurende die winter nie!! WAT HELP DIT??? (Ek sal ook graag wil weet HOE word die bou van ‘n kantoorkompleks in die middel van ‘n woonbuurt goedgekeur??)

Stoere Boer ·

Laat my dink aan die blond wat gebel is na ‘n jaar se agterstallige geld vir haar sonpanele. Kom die antwoord “Hallo, dis nou klaar betaal. Jul agent het gesê na ‘n jaar betaal dit vir hulself”

Casper ·

My kommentaar nadat ek deur die gids gegaan het en die kragdag besoek het, is dat die gids ‘n goeie begin punt is. In my gesprekke met leke op kragdag sowel die wat ekperts is, is dit vir my duidelik dat sommige punte in die gids onduidelik is, dit sal moet verder uitgebrei word aan die tegniese sowel die finansieële kant met addisionele inligting wat die breë publiek kan verstaan word. Ek stel voor ‘n paar opvolg artikels, en ‘n paar insette van elk van die onderwerpe. (hoe lyk dit maroela media ? kontak my vir ‘n paar insette) Een van die sake wat ek graag wil aanroer is die pryse van items, wat nie so baie is soos aangedui is nie. Elke persoon en huisgesin se situasie is uniek en daarom moet elk sy eie strategie self uitwerk. Een van my vriende het opgemerk dat daar die volgende paar tipies mense is wat die krag situasie betref ; die wat iets al gedoen en weet , die wat besig is om iets te doen en leer soos die tyd aangaan , die wat weet dat hulle iets moet doen maar al die tegniese en nie tegnies terme nog vreemd vind , die wat hulle voordoen as eksperts , die pessimiste en dan die wat wens dat al die probleme weggaan. Wat myself betref, dis nooit te laat om iets te doen, ek het reeds ‘n sonverwarmer ingesit en spaar reeds nou al ses maande so 30% van die krag rekening. Ek is besig met die volgende stadiums van sonenergie stelsels te doen om my lewe te vergemaklik en die elektriese rekening af te bring. Sterkte daarbuite met al die krag planne !!!

Pietertjie ·

Casper, jy praat feite! Ek het self eerstehandse ondervinding: vanaf die eerste dag toe ek by ‘n sonpaneel-plek ingestap het en van prentjies teen die mure probeer aflei het hoe die goed werk, tot waar ek vandag ander mense probeer keer om nie dieselfde moeilike paadjie as ek te loop nie. Ons volk gaan ten gronde weens ‘n gebrek aan kennis.

Baie belangrik om te onthou is dat daar ‘n hengse verskil is tussen elektrisiteit spaar en geld spaar. LED gloeilampies is ‘n goeie voorbeeld: jy spaar ‘n paar Rand aan Eskom elektrisiteit, maar gaan in jou hele lewe nooit die kapitale uitgawe terugwen nie. Maar, as jou huis snags op battery-krag werk, verleng die LED liggies die duur batterye se vermoë.

Armando ·

Ek het eindelik die gids te lese gekry en is baie teleurgestel deur die inhoud. Dit is duidelik dat die skrywer daarvan weet waarvan hy praat, maar sy vermoëom dit oor te dra aan andere wat minder gekonfyt is laat veel te wense oor. Mens moet darem kan skryf ook as jy soiets aanpak. Ek vind baie van sy aannames verkeerd. Ek sou gladnie probeer om die werk aan te pak deur op die sg “gids” staat te maak nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.