Klopjag by NMB-burgemeester se huis, kantoor

Mongameli Bobani. Foto: NMB-metro/Twitter

Die klopjagte wat die Valke by die kantoor en huis van Mongameli Bobani, burgemeester van die Nelson Mandelabaai-metro, uitgevoer het, hou verband met beweerde tenderbedrog en korrupsie.

Volgens brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke, hou die bewerings verband met gebeure tussen 2015 en 2017 in die metro. Hy het gesê dié ondersoek is apart van die ondersoek na die metro se geïntegreerde openbare vervoerstelsel (IPTS).

Daar is Dinsdag by hul huis in Kwamagxaki beslag gelê op Bobani se vrou se skootrekenaar. Volgens Danie Gouws, Bobani se regsverteenwoordiger, is daar ʼn politieke komplot teen die burgemeester.

“Hoeveel keer kan ʼn persoon deursoek word? Jy moet onthou dit is verkiesingtyd. Jy het vir Athol Trollip wat sake oopmaak en toesprake maak by die Humewood-polisiestasie. Ek dink in aanloop tot 8 Mei sal nog sake geopen word.”

Bobani het Woensdagmiddag tydens ʼn mediakonferensie gesê die DA span saam met die Valke om skadelike inligting oor hom op te grawe.

“Die Valke moet wegbly van politiek. Ek sê nie hulle moet my nie ondersoek nie, ek is ʼn mens. Daar is geen bewerings teen my nie, ek is nie ʼn verdagte nie. Hoekom kom hierdie mense elke dag hierheen?”

Volgens Mulaudzi sal die Valke nie aandag aan Bobani se bewerings gee nie. “Indien hy gegrief voel kan hy ʼn klag by die openbare beskermer lê. Daar is talle plekke waar hy ʼn klag kan lê. Indien hy bewyse het, is dit reg en dan moet hy dit in die hof gaan weergee, maar ʼn saak is geopen en ons moet dit opvolg.”

Die Valke het verlede jaar op die stadsraad toegeslaan met ʼn lasbrief en op dokumente en rekenaars beslag gelê. Dié klopjag het betrekking gehad op ʼn ondersoek na die IPTS-skandaal.

Trollip, oudburgemeester van Nelson Mandelabaai, het verlede maand ʼn klag van korrupsie teen Bobani en die voormalige ANC-streeksekretaris, Zandisile Qupe, aanhangig gemaak.

Trollip het Bobani daarvan beskuldig dat hy ʼn reputasie het om ontslae te raak van stadsbestuurders wat ondersoek instel na die metro se IPTS, wat teen dié tyd bekend staan as die Baai se grootste korrupsieskandaal.

Trollip beweer dat Bobani en Qupe betrokke was by korrupsie en bedrog binne die IPTS-busstelsel. Hy beweer dat dié twee glo voordeel uit openbare fondse getrek het.

Bobani word na bewering ook deur die Valke ondersoek oor beweerde betalings aan hom van meer as R600 000 deur Heerkos Projects, wat besit word deur die sakeman Fareed Fakir.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Bietjie baie ·

Dis nou tyd om n behoorlike bewyse voor te le. Kan die DA dit deurvoer? Wys nou of julle ernstig is?

Deon Meyer ·

Laat die gereg sy gang gaan.As jy niks het om te vrees nie,waarom dan ‘n bohaai opskop?

Von ·

Deon……hy skop van dag een af so n bohaai….soos met sy aanstelling…wonder maar

Pieter ·

Eish. Ek dink nie hy verstaan lekker nie.

Hoe hý burgermeester geword het, weet nugter!

Chris ·

Ja mnr Bobani so draai die wiel stadig naar seker. Nou probeer jy en jou regsverteenwoordiger die “ Blame game” speel. Snaaks as n politikus maak nie saak watter party hy is nie, ondersoek word is die standaard antwoord hy of sy is onskuldig en word “ geframe” deur n ander party . So lagwekkend , as jy jou uitgee vir ntoffie moet jy bereid wees om gkou te word finish en klaar

Jan ·

Die eerste ou wat in die tronk gegooi moet word, is Jacob Zuma. Hoekom draai sy saak so lank? En dis nog oor die wapenskandaal. Wanneer die van korrupsie?

fred ·

nog eentjie wat van niks weet of bewus is nie….klink net n papagaai wat sy baas na aap…hoop die DA gaan hom deeglik vasvat ,sodat hy oor n paar maande weer met n donkey kar gaan rondry..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.