Klopjag by waterraad oor peperduur tender

(Foto: pixabay)

Die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) het toegeslaan op die kantoor van die Lepelle Noordelike Waterraad in Polokwane ná ʼn ondersoek na beweerde korrupsie by ʼn grootmaatwaterinfrastruktuurprojek vir Giyani wat reeds maande lank duur.

Die projek, wat ʼn allemintige R3,5 miljard beloop, moes water aan Giyani en die omliggende dorpies voorsien. Vir die laaste agt jaar het 50 nedersettings in dié omgewing egter geen skoon drinkwater gehad nie en sommige inwoners moet daagliks tot vyf kilometer stap om water te gaan haal.

Die Lepelle Noordelike Waterraad moes die grootmaatinfrastruktuur vir watervoorsiening in die streek in werking stel, bedryf en onderhou.

Jacques Smalle, die DA se woordvoerder oor samewerkende regering en tradisionele sake, het die klopjag verwelkom en gesê die projek was uit die staanspoor deurspek met bewerings van korrupsie en onregmatige besteding. “Dit is duidelik dat die departement van water en sanitasie die mense van Giyani in die steek gelaat het.”

Die projek is laat vaar nadat dié departement glo versuim het om die kontrakteur, Khato Civils, daarvoor te betaal.

Vroeër is onder meer berig boorgate vir die projek is gesink teen ʼn koste van tussen R1,2 miljoen en R1,4 miljoen per boorgat, terwyl dit gewoonlik nagenoeg R100 000 per boorgat beloop.

“Die projek is net een van talle in Limpopo waar die ANC-regering versuim om basiese dienste weens korrupsie by staatsdepartemente te verskaf. Departemente se pligte word nagelaat ten koste van arm inwoners en vir die selfverryking van ʼn paar gulsige amptenare en politici,” het Smalle gesê.

“Die DA glo die ondersoek is net die begin van die SOE se blootlegging van korrupsie in Limpopo.”

Die parlementêre portefeuljekomitee oor menslike nedersettings, water en sanitasie het ook die SOE se optrede verwelkom. “Alle bewerings van korrupsie moet ondersoek en afgehandel word, want as daar enige onwettige optrede is, moet daar gevolge wees. Dit is onaanvaarbaar dat die projek sedert sy aanvang in 2014 steeds nie afgehandel is nie. Dit beroof inwoners van broodnodige water,” het Machwene Semenya, komiteevoorsitter, gesê.

In Januarie is ʼn sesjarige seuntjie boonop dood toe hy in ʼn oop sloot, wat deel van die projek gevorm het, geval het.

“Dit is ʼn aanduiding van die growwe minagting van menselewens wat dié vertraging veroorsaak het. Die komitee vra vir die spoedige afhandeling van die ondersoek en die vervolging van diegene wat van wangedrag beskuldig word,” het Semenya gesê.

Die DA het intussen ook gevra dat die SOE sy afgehandelde verslae en aanbevelings bekend maak oor ondersoeke na onder meer munisipaliteite wat by die omstrede VBS-bankskandaal betrek word, sowel as die Tubatse-grondooreenkoms.

Dié transaksie hou verband met die verkoop van grond aan ʼn private ontwikkelaar teen ʼn bedrag van R8 miljoen en die Groter Tubatse-munisipaliteit se daaropvolgende terugkoop van die grond vir ʼn beweerde R116 miljoen.

“Ondersoeke wat lei tot inhegtenisnemings is net positief as dit tot suksesvolle vervolging lei en die DA vra dat staatskorrupsie ʼn vervolgingsprioriteit gemaak word,” het Smalle gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Adri ·

Julle kan gerus ook ondersoek instel op Burgersfort. Lepelle voorsien ons ook van water, maar vir meer as twee maande reeds kry sekere dele van die dorp nie water nie. Lepelle se redenasie is dat die damme leeg is. As dit die geval is, sal die hele dorp mos nie water he nie. En niemand kry antwoorde uit Lepelle nie.

rina ·

Hoekom kan ons staatspresident nie intree nie…. dit is mos sy vrrantwoordelikheid …..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.