Klopjag glo op perseel van Malema se sekuriteitsbaas gedoen

Dali Mpofu, Snyman (middel) en Julius Malema. Foto: EFF/Facebook

ʼn Klopjag is glo op die Durbanse woning van Adriaan Snyman, die EFF-leier Julius Malema se sekuriteitsbaas, uitgevoer waartydens daar op 12 vuurwapens beslag gelê is.

IOL berig dat die klopjag Saterdag deur die Oos-Kaapse provinsiale speurtak, die Valke in Durban, asook ʼn taktiese reaksie-eenheid op die eiendom in Lighthouseweg uitgevoer is.

Nie die polisie óf die Valke wou dié inligting egter aan Maroela Media bevestig nie. Brig. Vishnu Naidoo, nasionale woordvoerder van die polisie, het gesê die polisie bevestig nooit die verloop van hul ondersoeke nie.

“Deursoeking van eiendom maak deel uit van ʼn ondersoekproses. Om ʼn soektog van ʼn individu se perseel te bevestig is dieselfde as om ʼn verdagte se naam te bevestig voor hy of sy in die hof verskyn het. In dié saak sal daar dus nie ʼn bevestiging van die betrokke kwessie wees nie,” het Naidoo gesê.

Die klopjag kom nadat daar vroeër strafregtelike aanklagte teen Malema aanhangig gemaak is nadat hy op beeldmateriaal vasgevang is waar hy tydens ʼn EFF-geleentheid glo verskeie skote met ʼn aanvalsgeweer afgevuur het.

Maroela Media het vroeër berig Snyman kan op die beeldmateriaal gesien word waar hy glo ʼn aanvalsgeweer vir Malema aangee tydens die party se vyfde verjaarsdagvieringe verlede maand by die Sisa Dukashe-stadion in Mdantsane in Oos-Londen.

Beeldmateriaal wys hoe die EFF op die verhoog sing en dans. Tydens een van die liedjies het Malema na die kant van die verhoog beweeg en dit lyk of hy verskeie skote met ʼn aanvalsgeweer afvuur.

Mbuyiseni Ndlozi, woordvoerder van die EFF, het die gerugte verwerp. Volgens hom was dit nie ʼn regte vuurwapen nie en is geen werklike koeëls afgevuur nie.

AfriForum het 1 Augustus klagtes teen Malema by die Lyttelton-polisiestasie in Centurion ingedien. Dié klagtes sluit in die afvuur van ʼn vuurwapen in ʼn beboude of openbare plek sonder genoegsame rede, asook die besit van ʼn vuurwapen en ammunisie sonder die nodige lisensie en magtiging.

AfriForum het Sondag gesê hulle verwelkom die SAPD se “beslaglegging op 12 aanvalsgewere” wat op Snyman se perseel aangetref is.

Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, het gesê name van die getuies wat Malema se beweerde afvuur van die vuurwapen aanskou het, is ook in hul polisieverklaring vervat.

“Dít sluit in Dali Mpofu, ʼn senior advokaat betrokke by die EFF, en Mbuyiseni Ndlozi, die EFF se woordvoerder. AfriForum hoop dat die SAPD eersdaags die getuieverklarings van alle moontlike betrokkenes by dié aangeleentheid sal neem en dat diegene as getuies geroep kan word,” het Cameron gesê.

Afriforum het vroeër ook ʼn formele klag by Psira, die private sekuriteitsbedryf se regulerende liggaam, teen Snyman ingedien. Snyman is na bewering die eienaar van die private sekuriteitsmaatskappy Tactical Security Services wat dienste aan Malema lewer.

In die klag word gevra dat Snyman se optrede ondersoek word met betrekking tot die beweerde onwettige besit van ʼn vermeende vuurwapen en ammunisie, asook die feit dat dié vuurwapen aan Malema oorhandig is om tydens die feesvieringe afgevuur te word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Skyspy007 ·

Sluit altwee toe, Snyman “beweer” ook dat hy by weermag “spesiale magte” was…..mmmmmmmffffff NEVER EVER!!!!!

riaan ·

Dit is net nog belastinbetalers geld wat gemors word! Hier sal niks van kom nie. ANC, SAPS, Valke, ens. ens. is te bang vir Juju.

Rerig??? ·

Ek wonder of dink dai man sy lewe gaan gespaar word?????

Salamander ·

“nie ‘n regte vuurwapen nie en is geen werklike koeëls afgevuur nie” Al het hy ‘n G5 kanon afgevuur, sal Malema niks oorkom nie. So terloops, vuurwapens vuur rondtes af en ‘n hond het koeëls..

Msp ·

Niks vars in die stories sovêr, lyk of net die wit ou vervolg gaan word. Hy het saam gespeel en ek glo hy moet vervolg word maar malema het mos geweet en hy is ñ swakvoorbeeld vir sy eie mense gewees. Nie dat hy ooit ñ goeie voorbeeld was nie, maar dis hoe hy sy volgelinge aanmoedig om ou mense, kinders en vroue dood te maak. Kyk, weereens ñ bewys dat net minderheidsgroepe in Suid Afrika vervolg word.

Netso ·

Ek het die video ñ paar keer gesien! Ek weet nie als nie maar daai semi-outomatiese wapen nie rondte 2 en meer afgevuur as dit nie lewendige ammunisie gevuur nie. Die uitdrukking op daai vent se gesig toe Malema sy wapen” waarmee hy beskerming verwag” aangee spreek vanself! Hier kom weer ñ velkleur pakslae dis al!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.