Klopjag-polisielede op waarskuwing vrygelaat

Die vyf polisiebeamptes voorheen in die hof. (Foto: ANA)

Die vyf polisiebeamptes wat vroeër vandeesmaand in hegtenis geneem is tydens klopjagte in die Johannesburgse middestad is Maandag in die Johannesburg-landdroshof op waarskuwing vrygelaat.

Marubini Aubrey Raphebele, Thulane Philemon Bopela, Petrose Mosiuoa, Samuel Motaung en Timothy Piet Mohlala is op 7 Augustus in hegtenis geneem nadat hulle glo R500 omkoopgeld aanvaar het te midde van klopjagte op winkels met vervalste goedere in die Johannesburgse sakesentrum.

Hulle was sedertdien in aanhouding.

Landdros Basimane Molwana het nie gister beïndruk in die hof gelyk nie en gesê die polisielede maak ʼn bespotting van die regstelsel.

Maroela Media het vroeër berig die beskuldigdes hou vol dat hulle die betrokke dag bloot ʼn winkeleienaar gehelp het om goedere aan sy winkel terug te besorg. Dít met toestemming van een van hul hoofde, kol. Leonadrain Pillay.

Pillay het dit egter gister in die getuiebank ontken.

“Ek het nie vir die beskuldigdes toestemming gegee om van die goedere ontslae te raak nie,” het Pillay volgehou.

Die polisielede is kort nadat hulle in hegtenis geneem is deur die Misdaadintelligensie-eenheid ondervra. ʼn Lid van die eenheid het glo toe vir Pillay gebel om die verdagtes se weergawes met hom te bevestig.

Pillay sê hy kan egter nie die besonderhede van dié oproep onthou nie.

“Ek het ʼn oproep [van sers. Mudzanani Thivhavhudzi Maxwell] ontvang, maar kan nie onthou in verband waarmee dit was nie,” het Pillay gesê.

Landdros Molwana het toe Mudzanani na die getuienisbank geroep om sy weergawe van gebeure aan die hof te gee.

“Ek het vir kol. Pillay gebel toe die beskuldigdes ondervra word. Ek was saam met sers. Mohlala van Intelligensie en het verneem dat Pillay wel opdrag gegee het dat die goedere teruggegee word,” het Mudzanani gesê.

“Ek het vir hom gesê ek weier om dit te doen, want dit sal terugkom na my toe … maar Pillay het beweer dat hy nie die opdrag gegee het nie.”

Molwana het na dié getuienis gesê Pillay se getuienis is nie bruikbaar nie en dat hy van geen hulp vir die hof was nie.

Volgens hom blyk dit uit die bewyse dat die oproep wel plaasgevind het en dat Mudzanani die beskuldigdes se weergawe van gebeure bevestig het.

Die landdros het gesê die beskuldigdes was betrokke by ʼn sensitiewe saak wat deur onbevoegde polisie hanteer is.

Hy het dus besluit om die polisielede op waarskuwing vry te laat sonder borgtog of enige voorwaardes.

Die saak is uitgestel tot 27 September.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

marous ·

Word gevra oor ‘n aantyging wat verband hou met ‘n debakel wat die hele wereld van weet maar hy kan nie onthou nie ? Hy moet onderwerp word aan ‘n poligraaf toets . Dit is aanvaarbaar vir dissiplinere verhore .

blouapie ·

Waar is die ander wat die winkel eienaars gewaarsku het van die klopjag?
Polisie maak regtig ‘n bespotting van die regstelsel. Pillay het die woorde van jz onthou: ek weet nie, ek kan nie onthou nie! Plaas hom op pensioen, want hy ly aan “old timer”

SA ·

90% van hulle vat bribes. Dis omdat daar nie meer kriminele rekords gecheck word voor hulle poste kry nie. Hulle is die grootste kriminele nes ons Regering dis hoekom hulle uniform dra om te roof want hulle weet dis maklik. Ai die land van ons val heeltemal uitmekaar uit!!

Magda ·

Polisie lede maar bespotting van die gereg stelsel – maar wa van die REG stelsel self – Hulle kon vrygelaat geword het maar met voorwaardes – hoekom net met n waarskuwing – Ons SAPD is deesdae n GRAP.

Gert van Wierdapark ·

Mens kan ongelukkig nog vir ‘n grap lag! Dis om van te ween!

jakes ·

Nes die landros kan ek ook se dat hulle n bespotting van die reg gemaak het maar dit beteken niks. Vrot bly vrot en niks sal hiervan kom nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.