Klopjagte op onwettige drankwinkels uitgevoer

Argieffoto

Argieffoto

Onwettige drankverkope is ʼn kernfaktor wat bydra tot ander misdade soos prostitusie en dwelmgebruik, het die departement van handel en nywerheid gesê.

Die departement het die afgelope naweek ʼn veldtog teen alkoholmisbruik van stapel gestuur deur op onwettige kroeë en drankwinkels toe te slaan. Sidwell Medupe, ʼn woordvoerder van die departement, het gesê die veldtog het in KwaZulu-Natal begin waar vyf onwettige drankwinkels gesluit is.

“Daar is klopjagte op meer as 45 drankwinkels, tavernes, restaurante en verspreiders uitgevoer, 17 nakomingskennisgewings uitgereik en talle boetes opgelê,” het Medupe gesê. Daar is ook op groot hoeveelhede drank beslag gelê.

Kol. Prego Patcher, polisiewoordvoerder, het gesê die meeste drankwinkels sonder die nodige lisensies hou ook nie by die wetlik verpligte verkoopsure nie. “Dit lei daartoe dat drank aan persone verkoop word wat reeds ver verby die drinklimiet is. Dit maak die persoon weerloos en die kans groter dat hy of sy misbruik kan word,” het hy gesê. “In sommige gevalle lei dit tot prostitusie en die verkoop van dwelms onder jong mense.”

Prea Ramdhuny, direkteur van die nasionale drankowerheid, het gesê die feesseisoen is altyd ʼn besonder uitdagende tyd om onwettige drankverkope hok te slaan. “KwaZulu-Natal word spesifiek geteiken aangesien dit een van die provinsies met die hoogste voorkoms van alkohol- en dwelmmisbruik in die land is,” het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Kellies ·

Beslag is gele op groot hoeveelhede drank. Nou gaan die Polisie lekker drink die Kerstyd?

Manie ·

Haai jy kan mos nou nie so sê nie. Ons Polisie is sober memse en gpoi al die Drank in die Drein af.

Johan ·

Kom deursoek Derby Noord Wes ook asseblief hier is omtrent n onwettige drankperseel vir elke inwoner. WAT?????

EMK ·

Dis soos die mitologies draak met die veelvuldige koppe – jy kap een kop af en onmiddellik groei ‘n ander een in sy plek. So hulle maak een toe en drie ander pop op!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.