Klub rou ná noodlottige duikslag

Adrian Arendse is Sondag dood. (Foto: Facebook)

ʼn Rugbyspeler van die Stellenbosch Coronations-rugbyklub het Saterdag ná ʼn duikslag tydens ʼn wedstryd swelling op die brein opgedoen en nooit weer wakker geword nie.

Hy is kort ná die wedstryd breindood verklaar en is Sondag in die hospitaal dood.

Adrian Arendse (26) het Saterdagmiddag op City Park-stadion in Athlone uitgedraf vir sy klub se kragmeting teen die Temperance Cities-rugbyklub.

“Die sameloop van gebeure was vir die hele rugbygemeenskap ʼn groot skok,” sê Anneline Houston, voorsitter van die Stellenbosch Coronations-rugbyklub.

Hy was vir agt jaar ʼn vleuel vir die klub, maar het op dié dag senter gespeel.

“Toe ek weer na die veld kyk, het hy op die grond naby die doellyn gelê,” vertel Houston.

Sy was deur die hele wedstryd langs die veld, maar het vir ʼn oomblik weggetree om koffie te kry toe die voorval om 17:30 gebeur het.

“Daar is vir my gesê dat hy ingegaan het om sy opponent te duik en net nie weer opgestaan het ná die duikslag nie.”

Paramedici van albei spanne, asook die skeidsregter, wat ʼn mediese student is, en van die spelers wat in noodhulp opgelei is, het Arendse dadelik te hulp gesnel.

Die beseerde rugbyspeler is per ambulans na die Groote Schuur-hospitaal se traumasentrum geneem.

Sy ouers wat nie die dag by die wedstryd was nie omdat Arendse se pa verjaar het, is ook ontbied en het Houston by die hospitaal ontmoet.

Arendse is by sy aankoms by die hospitaal op ʼn ventilator geplaas en vir allerlei toetse gestuur. In afwagting op die resultate is Houston en Arendse se geliefdes om 01:30 huis toe.

Houston en die klub se sekretaris is weer vroeg Sondagoggend terug hospitaal toe, maar hulle is in kennis gestel dat daar geen verandering in Arendse se toestand was nie.

Die middag het die dokter die slegte nuus met Houston gedeel.

“Volgens die dokters was die swelling op sy brein so groot dat dit die bloedtoevoer na sy brein gestop het. Die ventilator het in daardie stadium vir hom asemgehaal,” sê sy.

“Ons het sy ouers gebel en gesê dat die dokters met hulle wil praat, sonder om verdere besonderhede te gee.”

Die dokters het aan Arendse se geliefdes verduidelik dat hy breindood is. Daardie selfde aand is hy in die hospitaal dood verklaar.

“Benewens dat ons ʼn rugbyklub is, is ons ook een groot familie en sy dood het elkeen van ons diep geraak,” sê Houston.

Die lede van die klub het boonop die oggend voor die voorval die begrafnis van sy ondervoorsitter, Llewelyn Adonis, bygewoon.

“Die klub was reeds in rou en sy [Arendse se] dood was nog ʼn groot slag. Die gemoed is steeds somber,” sê sy.

Ander rugbyklubs in die Wes-Kaap het reeds hul meegevoel met Arendse se geliefdes betuig.

“Wanneer ons manne op die veld draf is dit altyd die gebed van ons hart dat geen ernstige of selfs noodlottige beserings ons in die gesig sal staar nie. Hierdie was ongelukkig die geval, daarom voel ons as die Kylemore-rugbyklub saam met julle en bid dat die Vader hierdie wond op die regte tyd sal genees,” lui ʼn plasing op dié klub se Facebook-blad.

‘Niks kon hom onderkry’

Houston sê sy sal Arendse as die soort persoon onthou wat nooit sommer deur iets ondergekry is nie.

“Hy was die ou wat altyd gesmile het, maak nie saak waar of onder watter omstandighede nie.

“Hy was ook baie lief vir sy sport – van nature ʼn regte sportman wat ook ʼn groot passie vir krieket gehad het.”

Finale begrafnisreëlings is nog nie deur die familie deurgegee nie, maar Houston wag op hul terugvoer en die klub sal daarby inval.

“As ʼn klub gaan ons Maandagaand ʼn gedenkdiens vir hom hou sodat almal afsluiting kan kry.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Maria ·

Menige ouer se vrees dat hulle kinders voor hulle gaan. Innige simpatie en sterkte aan sy vriende, familie en rugbyfamilie vir hul groot verlies

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.