Die polisie in Mpumalanga is op soek na drie mans wat glo ʼn kluis by die Petroport Steers in Dwarsfontein naby Delmas opgeblaas het.
“Die polisie ondersoek ʼn saak van besigheidsroof,” het sers. Gerald Sedibe, woordvoerder van die polisie, gesê.
Die drie mans het Woensdagaand glo toegeslaan en die personeellede met vuurwapens aangehou. Hulle het daarna die kluis opgeblaas en die kassiere aangesê om hulle te help om die kluis uit die muur te haal en na hul voertuig te dra.
Die groep het met ʼn onbekende hoeveelheid kontant in ʼn wit Toyota Corolla van die toneel gevlug.
Niemand is beseer nie en geen skote is gevuur nie.