Knie vervang deur robot, eerste keer in Afrika

Dr. McCreary voer die operasie uit. (Foto: Verskaf)

ʼn Suid-Afrikaanse hospitaal in Johannesburg het dié week geskiedenis gemaak toe die eerste knievervanging op die vasteland met behulp van ʼn gemeganiseerde armstelsel daar uitgevoer is.

Dr. Chris McCready, ʼn ortopediese sjirurg by die Netcare Linksfield-hospitaal in Johannesburg, en sy span is dié week deur die nuutste tegnologie, in die vorm van die Mako-gemeganiseerde arm, in dié knievervanging bygestaan.

“Daar is tans geen nasionale register vir plaaslike algehele knievervangings nie, maar met ʼn geraamde 8 000 tot 10 000 knievervangings wat jaarliks in Suid-Afrika gedoen word, sal hierdie tegnologie ʼn nuwe era in litvervangings inlui,” sê McCready.

Die tegnologies gevorderde stelsel wat vir volle knievervangings, gedeeltelike knievervangings en heupvervangings aangewend kan word, is reeds in Europa, die VSA en die Verenigde Koninkryk bewerkstellig.

Die stelsel is verlede jaar in meer as 250 000 operasies gebruik.

“Die voordeel van die stelsel is dat dit reeds vóór die operasie die data wat deur ʼn rekenaartomografie-skandering van die pasiënt se knie uitgewys is, gebruik om ʼn driedimensionele operasionele plan uit te werk wat eie aan elke pasiënt is.

“Die tegnologie stel die dimensies van die snye wat gemaak word vas sodat die perfekte grootte van die implantate vooraf beplan kan word. Gedurende die operasie verskaf die robotiese armstelsel gedetailleerde visuele, ouditiewe en tasbare terugvoering aan die sjirurg, wat hom of haar help om die posisie en belyning van die implantate op die perfekte plek te plaas,” sê McCready.

Die stelsel, wat te alle tye deur die sjirurg beheer word, verskaf ook ʼn beskermingsmeganisme aan die pasiënt, juis omdat dit die spesifieke gebiede waar die operasie moet plaasvind vooraf identifiseer en skade aan sleutelstrukture in die knie voorkom.

Ander voordele vir pasiënte, gegrond op uitkomste van dié soort operasies op ʼn internasionale databasis, is dat dié operasie bydra tot meer gebalanseerde knievervangings wat ook meer natuurlik voel, asook ʼn korter hospitaaltyd, minder pyn ná die operasie en ʼn vinniger herstelperiode.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Wonderlik ·

Baie goei nuus. Ek glo ek is amper gereed daarvoor want my kniee is lekker seer. Moet nog net daai geldjie bymekaar kry. Ek verstaan koste om een knie te vervang beloop ongeveer R100 000?

Robert ·

Wil jou nie slegte nuus gee nie, as jy nie ń mediese fonds het nie, begroot maar vir R150000.

aj ·

Soos mangel en blindederm operasies (na my beskeie mening) oorbodig is … omdat dit VOORKOM moet word …. netsó moet knie vervanging liewer VOORKOM word!

Of gaan die medici te veel geld verloor?

@aj ·

Hoe voorkom jy dat jou blindederm verwyder word? Baie mense wat gesond eet se blindederm word uitgehaal. Weet nie veel mangels en kniee nie, maar kan dink dat knie vervangings ook nie altyd voorkom kon word nie.

Rissi ·

Aarde mens, jy leef in ‘n droom wêreld…..wil my VOORKOM jy is maar so bietjie naïef oor die lewe!?

H ·

Ai wonderlik en aj, wees positief, robotte kry nie ‘n salaris nie, operasies kan goedkoper word en kan die koste dieslfde bly of nie styg nie. Ek stel ook uit om ‘n operasie te voorkom maar iewers gaan dit dalk noodsaaklik word en hopelik sal dit gratis wees en sommer tydens my teetyd gedoen word, en wie weet dalk loop ek sommer etenstyd al, sonder my krukke saam my vrou vir lekker stukkie steak in die kafeteria. Wees positief, dit werk, negatiewiteit wark andersom, dan gaan alles verkeerd en gebeur dit nie.

Papa G ·

Hoe op deeske aarde wil jy ‘n knievervanging voorkom? As die ding klaar is is hy klaar! Osteoartritis laat hom nie voorskryf nie. Niks, geen oefening of wat ook al gaan dit beter maak of voorkom nie. En ‘n septiese apendiks? Hoe wou jy dit voorkom? Dank die here my mangels is uit. Die goed het my lewe hel gemaak!

Corne ·

Hoop hierdie robotiese prosedures gaan beskikbaar wees in die staat hospital teen 2026 wanneer NHI geimplimenteer word.

JohanR ·

Is daar ‘n manier dat die masjien die ANC kan hulp? Masjien kan miskien die ANC vervang, en ek is seker ‘n veel beter job doen?

aj ·

VOORKOMENDE GENEESKUNDE gaan medici laat geld verloor!

Sodra proaktiewe VOORKOMENDE behandeling (vir allerhande operasies) méér geld sal inbring as ‘reaktiewe’ operasies sal daar skielik metodes en middels VERSKYN!

Jo Scheffer ·

Sal wonderlik wees om altyd gesonde kniee te he maar beserings word opgedoen en knievervangings bied kanse op n beter lewe.

Johan ·

Hou maar dop, kyk in die Mall’s, al die manne loop hink-en-pink. As mens oplet, dan besef jy eers hoeveel van ons sukkel, sukkel oor die weg met swak knieë.

Ek wonder altyd hoe’t ons voorsate oor die weg gekom met seer knieë? Dis moes seker ‘n beproewing vir hulle gewees het! Maar dan weer, het hulle ook nooit die voorreg gehad om ‘n Comrades te voltooi en die satisfaksie van ‘n medalje, te smaak nie……

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.