Knysna-aanval: Bejaarde Britse man sterf ook; vrou vas

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Vrou is in hegtenis geneem in verband met die moord op Brian (67) en Christine Ann (64) Davis wat onlangs in hul huis in Knysna in die Wes-Kaap aangeval en beroof is.

Kapt. Bernadine Steyn, polisiewoordvoerder, het gesê puik speurwerk het tot die inhegtenisneming van die vrou by ʼn huis in Port Alfred in die Oos-Kaap gelei. “Die vrou is in hegtenis geneem vir die besit van moontlik gesteelde eiendom nadat die egpaar se Isuzu-bakkie, ʼn televisiestel, klere en rekenaars Donderdag in die huis gevind is,” het Steyn gesê.

Steyn het gesê die vrou sal na verwagting Dinsdag in die Knysna-landdroshof verskyn.

Maroela Media het vroeër berig die egpaar is Britse burgers wat in Knysna woon. Hulle is verlede naweek in hul huis aangeval en beroof.

Die polisie is 2 Augustus omstreeks 10:30 na die egpaar se huis in Lindsaystraat ontbied nadat ʼn vriendin hul hondjie in die straat sien rondloop het. Sy het op hulle afgekom toe sy die hondjie teruggevat het.

Christine Ann se liggaam is in die sitkamer aangetref. Haar keel is oopgesny. Brian is in ʼn plas bloed in die motorhuis aangetref. Hy het oop wonde aan sy lyf opgedoen en is met ʼn stomp voorwerp oor die kop geslaan. Hy is in ʼn kritieke toestand na ʼn hospitaal in George geneem waar hy Saterdag omstreeks 08:30 weens sy beserings beswyk het.

Die aanvaller of aanvallers het met die egpaar se groen Isuzu Wizard, ʼn televisiestel, twee skootrekenaars en ʼn tabletrekenaar van die toneel gevlug.

Die ondersoek duur voort en meer inhegtenisnemings word verwag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.