Knysna-brande eis nog ʼn lewe

Bradley Richards. Foto: Facebook

ʼn Jong man is dood nadat hy ernstige brandwonde opgedoen het in die brande wat in die Knysna-gebied woed.

Bradley Richards (24) het as vrywilliger gewerk vir die Plet Suid-brandbestrydingseenheid. Volgens die eenheid het Richards en ʼn medebrandbestryder, Ian Barnard, ʼn brand in die Harkerville-woud in bedwang probeer bring toe hulle deur die vlamme oorval is.

Albei mans het brandwonde opgedoen en is na die Mediclinic George gehaas vir behandeling. Richards het hier aan sy wonde beswyk. Hy het glo brandwonde aan meer as 70% van sy liggaam opgedoen. Medelye stroom intussen in vir Richards op sosiale media.

Maroela Media het vroeër berig Annelize van der Ryst, beter bekend as “Matrone Netta Nortje” van 7de Laan, se neef is oorlede tydens die verwoestende brande in Knysna. Hy het ʼn hartaanval gekry toe hy en sy gesin van hul brandende huis gevlug het.

In Rheenendal is ʼn egpaar en hul seuntjie dood nadat hulle van ʼn reusebrand in die gebied probeer vlug het en deur die rook en vlamme verswelg is. ʼn Driejarige seuntjie se liggaam is in ʼn uitgebrande gebou in Welbedacht gevind.

Die brande blyk intussen onder beheer te wees. Nandi Mgwadlamba, woordvoerder van SANParke, het gesê meer as 500 huise is vernietig en duisende mense ontruim.

Volgens Mgwadlamba het die wind bedaar en kan helikopters en vliegtuie nou gebruik word om die brande te help blus.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Jean ·

Wat ‘n groot verlies. ‘n Jong man wat sy LEWE vir ander gegee het. BAIE DANKIE, jy is as ‘n held oorlede. Ons innige simpatie met sy ouers en naasbestaandes. Hy het ‘n verskil gemaak, hy het gehelp, hy het verhoed dat ander doodbrand. RIV jongman, jy het ‘n HELDEDAAD verrig.

Ai ·

Sjoe, sterkte aan sy familie. So hartseer. En dan hoor ek Zuma se hy gaan nie tyd en geld mors op mense wat vir die D.A gestem het nie so die D.A moet maar help. Geen idee of dit waar is nie maar as dit is voel ek dis genoeg rede om van hom ontslae te raak. Dis vieslik. Hoeveel mense is nou al dood en hy weier om te gaan simpatie tenminste wys want hulle het D.A gestem?!

Magda ·

As zuma dit gese het – wys ons maar weereens waste tipe mens hy is – kan nie eintlik veel beter van hom verwag het nie.

Eish ·

Wat is die nasionale regering se houding, uitsprake of kommentaar oor die krises? Was daar al enigiets? Fopnuus beweer verbysterende kommentaar van no1.

JK ·

Wonderlike jong man wat as vrywilliger gehelp het.
Sterkte aan sy familie. Ons dink aan julle in hierdie hartseer tyd.

Johann ·

Dit is wonderlik dat die jong man gehelp het, onbaatsugtig. Nou vra ek in hoe verre moet iemand opgelei wees om brande van hierdie omvang en kaliber te help blus? Kan enigeen in sulke lewensgevaarlike omstandighede, waar die wind ook nog ‘n enorme rol te speel het, hulp aanbied en dit word aanvaar? Moet mens nie in brandbestryding opgelei wees nie? As mens in lewensgevaarlike omstandighede nie opgelei is nie, kan jy ook ‘n gevaar vir jouself en ander inhou. (Ek praat nie, hier van die kant af help nie, maar fisies die gevaargebied binne gaan.)

My mening ·

Johann, ek verstaan jou bekommernis aangaande opleiding. Ek glo egter dat hy goed opgelei was vir brandbestryding en selfs vir dit wat ek nou gaan sê, nl., die skielike verandering van windrigting kan maak dat jy omring word deur vuur en dit té laat besef. Ek het gestap in die Harkervillebos en daarom reken ek dat wat wel ook kon gebeur het is dat die wind die vlamme bo-oor hulle in die toppe van die bome kon aangedryf het en as’t ware neergeval het op hulle. Hierdie twee voorgaande stellings van my gebeur binne sekondes en het al ervare brandbestryders gevang. Daarom dus simpatiseer ek met die slagoffers maar haal ook my hoed af vir die vuurvegters.

Percy ·

Opsetlike brandstigting se straf MOET lewenslange tronkstraf wees! Want eintlik is dié brandstigters verantwoordelik vir die dood van mense en diere…dis MOORD!
Baie sterkte aan die familie!!

al ·

My gevoel ook – dis absolute moord en voeg n klagte sommer by van sabotering (teen die ekonomie).
Die pragseun het as ñ held gesterf. My innige simpatie.

Dellaq ·

Jong man, ek eer jou en die manne wat probeer om die brande te blus. Innige simpatie oor jou afsterwe en die pogings wat jy en jou mede werkers gemaak het om mense se lewens te probeer red. Ek staan stom oor die geweldige verliese van mense lewens, verwoesting en diere lewens.

Liza ·

So jammer om dit te lees, ag hoeveel moet nog sterf,….. en dis ons jongmense vandag wat so vinnig van ons af weggevat word……Bradley rus in vrede ou seun, jy was ‘n held……
Sterkte aan sy ouers en familie en hou net vas aan die Here, Hy sal vetroosting bring…..
Ek hoop hulle kry die brandstigters………

Thomas ·

Gaan hierdie moordenaars opgespoor word? En wie sit heragter?

AN ·

Blykbaar drie kinders / tieners en hulle is bekend aan die polisie volgens ander nuusbronne, weet nie hoekom dit nie op Maroela Media gepubliseer word nie, miskien is dit nie waar nie??

Jane ·

Brandstigting is tog ‘n kriminele oortreding? Hoekom word die Coligny en Universiteit brandstigters nie vervolg en gevonnis nie? Ook tydens die vorige brande in die Kaap en hierdie brande is beweer dat mense die veld opsetlik aan die brand gesteek het, weereens het daar niks van gekom nie. As jy iemand se huis opsetlik aan die brand steek, poog jy nie net om sy besittings te vernietig nie, maar ook om sy lewe te neem want wat se waarborg het jy die mense ontsnap die vlamme? Jy steel basies iemand se besittings en poog om sy lewe te neem. Ek verstaan glad nie meer ons regsstelsel in SA nie. Mense se huise en eiendom word afgebrand, en geen klagtes word gelê nie. Mense word wreed gemartel en aangerand met pikke en grawe tydens aanvalle, maar net ‘n saak van huisroof word oopgemaak? Wat het van ons land geword? AS ek my bestuurder vandag ‘n vuishou gee, word ek onmiddellik van aanranding aangekla. As jy iemand op ‘n plaas aanval en voos slaan met bakstene, pikstele en ysterpale, kom jy NIKS oor nie. Dit is NIE REG NIE!

Rox ·

My innige meegevoel. Dit is baie hartseer. Volgens wat ek gelees het word brandstigting vermoed. Ek hoop die skuldiges word gevang en hard gestraf .

Concerned ·

Maroela,
Kan julle asseblief uitvind oor al die diere in Knysna.
Julle hoef hierdie nie te publiseer nie. Ek soek net antwoorde asb.
By voorbaat dank.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.