Knysna-brande: Munisipaliteit beter voorbereid; indringerplante pla

Bome ná die Knysna-brande. (Foto: Verskaf)

Dit is Sondag presies drie jaar gelede wat verwoestende brande in Knysna duisende hektaar grond en honderde huise vernietig het en miljoene rande se skade aangerig het. In dié tyd het die Kaapse fynbos amper tot sy eertydse glorie herstel, maar owerhede is bekommerd dat die toenemende voorkoms van indringerplante opnuut ʼn brandgevaar vir die gebied inhou. Drie jaar later sê die plaaslike regering hulle is wel nou baie beter toegerus as destyds om ʼn brand van dié omvang te hanteer.

Maroela Media het destyds berig twee brande het op 7 Junie 2017 buite Knysna en Plettenbergbaai ontstaan. Die brand is eers vier dae later geblus. Sewe mense is dood, 700 huise en ander strukture is verwoes en tussen 10 000 en 15 000 ha is afgebrand. Ongeveer 5 000 mense is na veiligheid gebring. Die geraamde geldwaarde aan persoonlike verliese, wat eiendom betref, beloop ongeveer R5 miljard. Die skade aan infrastruktuur beloop byna R500 miljoen. ʼn Verslag oor die ontstaan van die brande het later onthul dat albei mensgemaakte brande was.

“Ons was aanvanklik bang dat die intensiteit van die 2017-brande die sade van die fynbos tot so ʼn mate sou beskadig dat dit nie sou teruggroei nie,” sê Pam Booth, omgewingsbestuurder van die Knysna-munisipaliteit. “Maar die fynbos het teruggekeer en na twee seisoene van goeie reënval is die heuwels om Knysna en Brenton weer oortrek met wilde blomme van alle soorte, waarvan sommige al twee meter hoog staan.”

Fynbos in Brenton

Volgens Booth is omgewingsbewaarders bekommerd oor die voorkoms en toename van indringerplante in die omgewing. “Dit is algemene kennis dat indringerplante die natuurlike brandstof was wat die Knysna-vure selfs nóg dodeliker gemaak het. Net soos die fynbos, het indringerplante ongelukkig ook teruggegroei en dit kan wel die bal aan die rol sit vir ʼn herhaling van die 2017-ramp,” het Booth gesê.

Sy het ʼn beroep op grondeienaars in die gebied gedoen om te help om indringerplante op hul grond uit te roei.

In dieselfde asem het Gerhard Otto, hoof van die Tuinroete-munisipaliteit se sentrum vir rampbestuur, die afgelope week gesê hulle is nou baie meer voorbereid om ʼn brand van 2017 se kaliber suksesvol te bestry.

“Die plaaslike sentrum vir rampbestuur, munisipaliteite en brandbestrydingsverenigings het sedertdien hul kapasiteit tot só ʼn mate verbeter dat ʼn selfs groter ramp as dié in 2017 nou bestry sal kan word,” het Otto gesê.

Hy sê die Knysna-brande in 2017 is veroorsaak deur ʼn “perfekte storm” van klimaatsverandering, buitengewoon sterk winde en die voorkoms van groot getalle indringerplante in die landskap.

Otto het ook gesê dat die hernude voorkoms van indringerplante ʼn herhaling van die 2017-ramp tot gevolg kan hê. “Die taak om van dié plante ontslae te raak is reusagtig en baie meer moet gedoen word om ʼn veilige, brandvrye omgewing in die Suid-Kaap te skep.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Jaco

Lei eerder working on fire se mense beter op. Hulle dink working on fire is hulle enigste werk, terwyl dit eintlik ‘n ekstra inkomste moet wees. So hulle stig dikwels dié brande om dan hulle enigste geld te maak uit die blus van die brande.