Knysna-brande: Nóg ʼn lewe geëis

Brandbestryders spook om brande in die Knysna-omgewing in bedwang te bring vroeër vandesweek. Foto: AP Photo/Ewald Stander

Die toestande in die Eden-distrik wat Knysna insluit, het nou ook die lewe van ʼn man (63) naby Concordia geëis.

James-Brent Styan, woordvoerder van die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, het gesê vyf ander mense is ook in ʼn kritieke toestand met ernstige beserings na ʼn hospitaal gehaas.

“Die brande in die Eden-distrik strek nou oor ’n gebied van 100 km. Teen 18:00 Saterdag is Ruigtevlei, Concordia en Wit-nedersetting ook ontruim,” het Styan gesê.

Die N2 is intussen heropen.

Die regering het Saterdag in ʼn verklaring gesê 11 vliegtuie, waaronder drie Oryx-helikopters van die weermag, het brande in die rampgeteisterde gebied bekamp voordat die wind opgesteek het.

“Lugsteun het onverpoos deur die oggend gewerk en is nou tot verdere kennisgewing opgeskort weens weerstoestande wat dit onmoontlik maak om te vlieg. Dit sal brandbestryding baie bemoeilik,” het Styan gesê.

Die lugsteun kon laatmiddag weer diens hervat en help om die brande te bestry. Volgens Styan sal daar Sondag nog ʼn spesiale waterwerper-vliegtuig, bestempel as ʼn “bomber fixed wing plane”, van Nelspruit af kom om te help.

Teen Saterdagaand het die brande in Jakkalskraal, Roodefontein, Kranshoek en Jukani na die  Plettenbergbaai-lugveld verskuif, maar was grootliks onder beheer.

By George was die Hoekwil/Serpentine-brande ook grootliks onder beheer.

“Die departement van gesondheid het vier bykomende dokters na Knysna gestuur. Ekstra suurstofmaskers en -silinders is ook verskaf, tweryl ʼn mediese fasiliteit wat 24 uur oop is in Plettenbergbaai geopen is,” het Styan gesê.

Reëlings word ook getref dat mense volgende week nuwe pensioenkaarte ontvang. Die ligging van die stasies sal Maandag bevestig word.

“Binnelandse sake het aangedui dat hulle dringend ʼn nuwe lys benodig van mense wat hul dokumente in die brande verloor het. Die kontakpersoon in dié verband is mnr. Ngaka by 072 621 5047 of [email protected],” het Styan gesê.

Volgens Styan het die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) gesê gedeeltelik bewolkte en koel toestande word vir Sondag verwag en geen reën word vir die provinsie voorspel nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Kiewiet ·

My gebed:
Vader sëen asb hierdie pragtige deel van ons land met rëen. Genoeg om alle vlamme te blus. Laat hiedie reën ook die gemoedere skoonwas. Skenk u genade en sorg asb. Ek bid dit in die naam van Jesus.

rira ·

Ons het nou al so baie stories gehoor. Kan iemand ons net die waarheid vertel. Hoe het die brande ontstaan. Kan ons net groot asseblief hoor wat het die brande veroorsaak. Hoe staan jy weer op na soveel skade en hartseer.

Nie-roker ·

Stompies wat by motor venters uitgeskiet word ten tye van winderige weer is gewoonlik die oorsaak van brande in die Kaap.

Boetman ·

Ek is ń lidmaat van Moedergemeente Brandfort. Vandag se boodskap het
voortgespruit uit die afgelope week se ramp. Daar was ń oomblik van stilgebed spesifiek vir die rampgebied. Ek wil lied 275 vir julle gee as ñ gebed. Baie sterkte aan julle.

Johann Marx ·

Terwyl ek weet dit gaan oor “beskikbare spasie” en “ander nuus” ens. is dit nogal jammer dat daar nie ‘n artikel geskryf was wat vir ons “gewone mense” die agtergrond kan skilder van so ‘n brand nie. Die meeste mense waarmee ek gepraat het, staan in verwondering en vra “Nou hoekom het die brandweer nie die vuur dood gespuit nie?” Want hulle verstaan nie so ‘n brand nie. Hierdie was nie net ‘n gewone brand nie…..vuur het van boomtop na boomtop gespring teen ‘n verbysterende spoed….eiendom wat so ver as 300m van die vlamme af was…het gesmelt en aan die brand geslaan….Mense verstaan nie die temperatuur van so ‘n brand nie….Dis in sommige gevalle so warm dat selfs ‘n vliegtuig nie laag genoeg kan vlieg om water daaroor te gooi nie. Ek dink baie meer mense sou baie ander gereageer het op hierdie mense se nood…..as hulle maar net vir ‘n oomblik kon verstaan wat werklik aangaan “binne in” so ‘n brand. Vuur en water is die mense se grootste vriende….en ook die mensdom se grootste vyand!!

Stem saam ·

Ek stem saam met jou Johann. Daardie vuur maak ook sy eie opwaartse- en voorwaartse wind. So word plantegroei ook uitgedroog en vat dan vlam. Ook word suurstof opgeneem en is versmoring daadwerklik ‘n uiters groot gevaar. Versmoring en dan die verdere doodbrand van ‘n persoon. Hierdie is nie iets om mee te speel. Indien jy onkundig is moet jy maar vêr wegbly.

Len ·

Ek wou onlangs Knysna toe trek maar die plek het so duur en eksklusief geword dat ek nie kon nie. Vandag wil ek net die Vader daarvoor dank en vir lesers sê: Vertrou op Hom met jou hele hart en moenie staat maak op jou eie insigte nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.