Knysna-brande: Nuwe verslag bevestig wat inwoners sê oor ontstaan

dr-david-klatzow-2017-08-22-deur-rozier-van-tonder

Dr. David Klatzow by die bekendstelling van die verslag oor die ondersoek na die ontstaan van die Knysna-brande wat hy vir AfriForum gedoen het. Foto: Rozier van Tonder/AfriForum.

Dr. David Klatzow se verslag oor sy ondersoek na die ontstaan van die verwoestende Knysna-brande het dít wat talle inwoners oor die oorsprong van die brande gesê het, opnuut bevestig.

Hy het bevind die westelike brand in Knysna, wat in die Elandskraal-omgewing naby die Karatararivier ontstaan het, is op 12 April deur ʼn weerligstraal veroorsaak.

Klatzow, ʼn forensiese wetenskaplike met meer as 32 jaar se ondervinding, het in opdrag van die burgerregte-organisasie AfriForum ʼn deeglike ondersoek oor dié brande gedoen in Knysna. Die verslag, wat ook die brande in Mosselbaai, Pezula en Plettenbergbaai bespreek, is Dinsdag by Forum Films se kantore in Centurion bekend gestel.

Maroela Media het vroeër berig oor Morné Jonker en dr. Wallace Vosloo, inwoners van die omgewing, wat deurentyd voet by stuk gehou het dat die brand in die Elandskraal-omgewing veroorsaak is deur iets soos ʼn weerligstraal wat in April die onderbos in die inheemse woud laat vlam vat het. Die inwoners het toe gesê die onderbos in ʼn woud kan lank lê en smeul. Hierdie smeulende kompos kan die wortelstelsel van die bome in kole omskep en ʼn sterk wind kan dit weer vinnig laat vlam vat.

Volgens Klatzow het die eerste brand, wat van die oostekant van Knysna gekom het, by Dam-se-Bos ontstaan en is dit deur menslike aktiwiteite veroorsaak, maar brandstigting word ook nie enigsins in dié geval vermoed nie.

“Die brande by Pezula was ʼn uitvloeisel van die brande by Dam-se-Bos en Elandskraal. Die Elandskraal-brand het oor die westelike gedeelte van die Knysna-strandmeer na Pezula gespring. Die brande aan die westelike gedeelte van die Knysna-strandmeer, wat skade aan Brenton-on-Sea en langs Buffelsbaai aangerig het, was ʼn uitvloeisel van die Elandskraal-brand.

“Die brande by Dam-se-Bos en Pezula het na Plettenbergbaai versprei. Daar was egter ook twee ander brande in die omgewing. ʼn Boom in ʼn plantasie het op ʼn Eskom–kragdraad geval en ʼn brand het ontstaan. Nog ʼn brand is per ongeluk deur ʼn inwoner in ʼn informele nedersetting begin,” het hy gesê.

Die brande is verder aangevuur deur buitengewone klimaatsomstandighede soos lae humiditeit, die droogte wat die gebied teister en sterk winde.

Klatzow het egter sy kommer oor die Mosselbaai-brande uitgespreek. “Die brande hier is gestig en kan moontlik verband hou met onluste wat van tyd-tot-tyd verbind word met ongelukkigheid oor dienslewering.” Die polisie het glo geweier om die klagtes van brandstigting wat by die plaaslike AfriForum-tak ingedien is te ondersoek.

Beide Klatzow en Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het bevestig dit was vir hulle belangrik om die ondersoek te doen om die ontstaan en oorsprong van die verwoestende brande te bepaal. Só kan verseker word dat stappe in plek gesit word om ʼn soortgelyke ramp in die toekoms te voorkom.

“Verder was daar ook baie vroeg reeds gerugte dat die Knysna-brande kwaadwillig gestig is en ʼn politieke ondertoon gehad het. Dit was vir my persoonlik nodig om by die waarheid uit te kom omdat hierdie soort bewerings uiters plofbaar is in die situasie waar die land se jong demokrasie homself nou bevind,” het Klatzow bygevoeg.

AfriForum het reeds die bevindinge in die verslag met Helen Zille, premier van die Wes-Kaap, bespreek en in ʼn skrywe aan die Wes-Kaapse regering ʼn versoek gerig dat ʼn kommissie van ondersoek ingestel word om die bevindinge verder onder die loep te neem.

“Ons sal graag met die owerhede wil gesels oor die bevindinge van die verslag. Dit sal ook goed wees as die verslae van die Knysna-munisipaliteit met dié van drs. Wallace Vosloo en Klatzow, asook die provinsiale verslag wat nou gedoen word, vergelyk word.”

Klatzow het gesê daar is ook reeds heelwat lesse wat uit die Knysna-brande geleer kan word.

“Alle brande moet ernstig opgeneem word. Ek weet nie of daar in hierdie geval burokratiese rompslomp was nie, maar ek sou aanbeveel dat owerhede eerder moeite doen om rook te ondersoek as om te wag en net op te tree as daar eers vlamme opgemerk word.

“Verder sou ek ook aanbeveel dat daar meer geld begroot word vir brandbestryding deur vliegtuie en helikopters, terwyl daar ook ernstig gekyk moet word na die beheer van uitheemse plante wat makliker en vinniger brand,” het hy bygevoeg.

  • Klik op die skakel om die volledige verslag af te laai.
  • Lesers wat ʼn bydra wil maak om die mense van Knysna en ander rampe te ondersteun kan ʼn bydra aan AfriForum se noodfonds maak deur noodfonds.co.za te besoek of die woord NOOD na 38312 te SMS. SMS’e kos R10.00

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Eish ·

Duidelik n professionele persoon wat die verslag vrystel. Ons vertrou die provinsiale regering maak werk daarvan. Laaste verslag van provinsiale amptenaar wat ek gelees het, het wraggies nie veel om die lyf gehad nie.

Johnny ·

Jaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaa kom ons bly ontken die brande is gestig. Kom ons sê MENSLIKE AKTIWITEITE is nie brandstigting nie, kom ons glo dit is ‘n sigaretjie of ‘n vuurhoutjie of ‘n braaivleisvuurtjie, kom ons hou ons oë en ore toe vir die werklikheid .. kom ons glo nie wat die mense sê hulle het gesien nie — BRANDSTIGTERS met petrolkannetjies .. kom ons ignoreer dit, kom ons bly steeds vir onsself vertel dit is NIE brandstigting nie en dit is NIE so beplan nie .. kom ons lieg vir onsself. Moenie julle hoop op Helen Zille plaas nie, sy moet maar fyntrap of Mmusi lig haar uit haar sitplek uit. Black Sash of te not.

Henry ·

Is nes jy daar sê Johnny.

Die vuur aan die Weste kant van Knysna het vroeg die oggend (voor 0600) ongeveer 20 km van Knysna af, lustig aan’t brand gegaan. Dit is die sogenaamde smeulende ene (Elandskraal)wat glo vanaf vroeg April gelê en wag het vir die bergwind van 7 Junie. Aangestook deur ‘n warm 80km p. uur bergwind het die ene toe ook al die verwoesting in Knysna veroorsaak.

Heel toevallig (!) het die vuur (Kruisfontein ene) aan die Ooste kant van Knysna wat uiteindelik tot in Plett verwoesting gesaai het, DIESELFDE tyd ‘spontaan’ aan die brand geslaan. Die twee vure se beginpunte is minstens 25 kilometer van mekaar verwyder.

Jaaaaaaa en so sal daar gesmokkel word met oorsake ens tot al wat ‘n kalwer van oorle’ Oom Daantjie in die hok is.

Intussen sal sommige van ons voortgaan om ons verwoeste huise te herbou, terwyl talle van ons buurmense wat nie so gelukkig is nie, noodgedwonge met die klere aan hul lywe ‘n ander blyplek moet vind. Weg van die ‘weerlig’ en ‘stompies’ af wat ‘onskuldige’ verwoestende bosbrande, kilometers van mekaar af, gelyktydig aan die brand steek…

popeye ·

My vraag is aan die mense wat in die gebrande gebiede bly en skade gely het, Hoe verloop julle eise met die versekeraars? Wat is positief en wat is negatief?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.