Knysna-busramp: Nalatigheid was die oorsaak

Rheenendal-busramp Foto: ER24

Rheenendal-busramp Foto: ER24

Die landdroshof in Knysna het Vrydag bevestig dat nalatigheid ʼn oorsaak was in die busongeluk waartydens 14 kinders van Rheenendal omgekom het, het die Saturday Star berig.

Landdros Derek Torlage het tydens sy vier uur lange uitspraak gesê daar is bewyse dat die departement van onderwys in die Wes-Kaap, die toetssentrum wat die padwaardigheidsertifikaat vir die bus uitgereik het, die busbestuurder en die eienaar van die busmaatskappy nalatig was.

Torlage het verskeie probleme met die bus uitgelig insluitend ʼn ondoeltreffende remstelsel, krake in die onderstel, speling op die stuurwiel en probleme met die rathefboom en koppelaar.

Altesaam 14 kinders is in Augustus 2011 oorlede toe die bestuurder op pad skool toe beheer verloor het oor die bus en die voertuig by ʼn laagwaterbrug in ʼn dam beland het. Die busbestuurder is ook dood.

Die 32-sitplekbus het 58 kinders vervoer. Die oorblywende 44 kinders is in die ongeluk beseer.

Torlage sal sy aanbevelings by die direkteur van openbare vervolging indien sodat ʼn besluit geneem kan word oor moontlike vervolging. Die ouers van die kinders kan ook nou met siviele eise voortgaan.

Lees ook:
“Niemand verantwoordelik vir Rheenendal-busongeluk”
58 kinders in Knysna-bus wat net 32 mag vervoer
15 sterf in Knysna-busramp
Dodetal styg na busramp in Knysna
Twee kinders sterf, talle beseer na bus in dam beland

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

"Huh!" ·

Hallo Maroela. Ek het ondervind dat julle kritiek baie negatief aanvaar, maar as ek mag sê, julle het een fout in die berig gemaak wat baie hinderlik op die oog is. Ek het die berig nou klaar gelees, en dit gaan my nou nie meer verder pla nie, maar kan dalk ander pla. Ek is jammer as julle my boodskap negatief ontvang, dit is nie my bedoeling nie.

Dit moet “vieruur-lange” wees, en nie “vier uur lange” nie.

Sune van Heerden ·

Dagsê “Huh!”

Baie dankie vir jou kommentaar. Ons verwelkom dit as lesers ons daarop wys wanneer ons ‘n fout gemaak het – ons wil dit graag regstel om seker te maak dat ons saam aan Afrikaans bou en hier op Maroela Media noukeurige taalgebruik besig.

Dit is egter wel korrek om te skryf “vier uur lange”, net soos “twee maande oue baba” of “3 000 km lange spoorlyn”.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

"Huh!" ·

Hallo Sunè. Dankie vir die terugvoering, ek kan ongelukkig nie daarmee saamstem nie. “Vieruur-lange” word een begrip, daarom moet dit ook ‘n eenwoord woord wees.

Sune van Heerden ·

Dagsê

Die voorbeelde in my kommentaar is direk uit Pharos se Skryf Afrikaans van A tot Z geneem.

Groetnis
Suné

"Huh!" ·

Dit is dieselfde as jy twee woorde aanmekaar voeg, om een woord te vorm, soos bv. ‘n tafel en ‘n doek is twee goed, maar as jy van die tafel se doek praat, word dit tafeldoek.

"Huh!" ·

Het jy presies “vier uur lange” uit Pharos gehaal? Dalk moet jy by die “Samevoeging van woorde” afdeling gaan kyk.

Ek is baie oortuig daarvan dat ek reg is, maar berus my nou maar.

Groete

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.