Knysna-egpaar in self-isolasie: ‘Mense, medici is ongelooflik’

Candace en Peter Myers is in self-isolasie nadat hulle positief vir Covid-19 getoets het.

ʼn Egpaar van Knysna by wie die nuwe koronavirus vandeesweek gediagnoseer is, sê tot dusver was hul ervaring van die gesondheidstelsel – en die talle mense wat hulle deur die beproewing help dra – uitstekend.

Peter Myers (63), ʼn DA-wyksraadslid, en sy vrou, Candice (53), het die afgelope naweek ná ʼn reis na Europa na Suid-Afrika teruggekeer. Hulle was by ʼn troue in Switserland, waarna hulle Praag en Wene vlugtig besoek het.

Die twee het Vrydag by die OR Tambo-lughawe geland. Hulle temperatuur is daar geneem, maar hulle het geen simptome van die siekte getoon nie. Hulle het daarna na die George-lughawe gevlieg, waar ʼn familielid hulle opgelaai en as voorsorgmaatreël reguit huis toe geneem het. Tuis het hulle nie eens hul 12-jarige dogter met ʼn drukkie kon groet nie.

Die egpaar het dieselfde aand albei ʼn hoë koors ontwikkel. Toe hulle Saterdag steeds siek voel, het hulle hul dokter gekontak wat hulle aangeraai het om tuis in afsondering te bly. Deur die loop van die naweek wou die koors steeds nie wyk nie en hulle het gereël om die dokter Maandag in sy tuin te ontmoet om blootstelling aan enigiemand anders tot die minimum te beperk.

Die dokter het hulle dadelik vir toetse gestuur.

Passasiers op die OR Tambo-lughawe in Gauteng. (Foto: Janet du Toit)

Myers sê by die laboratorium het hulle in hul voertuig gewag en ʼn mediese beampte het in die motor monsters kom neem.

Die egpaar is daarna weer reguit huis toe. Die familielid wat hulle by die lughawe opgelaai het, het homself intussen ook in self-isolasie geplaas.

Dinsdagaand het hul toetsuitslae positief vir Covid-19 teruggekom. ʼn Amptenaar van die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) het hulle gevra om aanvanklik nie die nuus bekend te maak nie totdat die uitslag van bevestigende toetse by ʼn staatslaboratorium ook bekend is.

Nietemin het hul kontakbesonderhede én mediese inligting uitgelek en die egpaar is in ʼn vlaag negatiewe kommentaar daarvan beskuldig dat hulle verskeie plekke in die dorp in dié tyd besoek het en roekeloos was.

Nadat die Nios die toetsuitslae bevestig het, het Myers besluit om die verloop van gebeure behoorlik te verduidelik.

“Ons was so verantwoordelik as wat ons kon wees,” het hy gesê.

Hy sê hulle het ook die grootste lof vir die owerhede en medici se hantering van die situasie. Die egpaar volg ook alle mediese raad getrou en het nog glad nie weer die huis verlaat nie.

Hulle dogter woon tans in ʼn ander gedeelte van die huis.

“Dit is baie moeilik vir haar en sy is geweldig ontstel hierdeur, maar daar is geen ander keuse nie. Ons moet nou verantwoordelik optree.”

Die egpaar gaan minstens drie weke lank in self-isolasie moet wees. In dié stadium is hulle nog nie bekommerd oor wat hulle gaan doen om die tyd te verwyl nie. Daarvoor voel hulle nog te olik.

“Ons is in die bed. Dit kom in vlae: Een oomblik voel jy geweldig siek en dan is dit weer beter. En dan word jy skielik weer platgetrek,” het Myers gesê.

Hy het gesê die ondersteuning van hul vriende en familie in dié tyd was tot dusver onontbeerlik.

“Hulle is ongelooflik. Mense los vir ons kos en ander items by die hek wat ons dan daar kan gaan haal.”

Myers het ook ʼn beroep op mense gedoen om gehoor te gee aan oproepe om tot tyd en wyl ʼn veilige afstand van ander mense te probeer handhaaf en hulself dadelik te isoleer as hulle vermoed hulle het die virus onder lede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Mariette ·

Dankie dat julle, julle storie gedeel het. Ek wens julle ‘n spoedige hestel toe. Sterkte

Stofbakkies ·

Sterkte vir julle as ‘n gesin en dankie dat julle die verantwoordelike ding van die begin af gedoen het.

Agter die skerms..... ·

Stem saam Belinda, hulle is amazing. Mens is bang om enige plek toe te gaan net te bang die volgende persoon het dalk die virus, maar hierdie mense was eerlik, en dis hoe mens dit moet hanteer.

AmandaDup ·

Julle het die regte houding. Verantwoordelik en medelye met ander. Sterkte en pas julleself op. Die res van ons moet ook ons deel doen om hierdie virus te bekamp.

Groentjie ·

Ek is net bekommerd oor mense wat nie mediese fondse het nie? Sal hulle ook so mooi gehelp word?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.