Knysna-munisipaliteit: Hoës bedank oor ‘roekelose besteding, binnegevegte’

Peter Myers (Foto: Facebook)

Binnegevegte op plaaslike regeringsvlak het daartoe gelei dat Knysna se waarnemende munisipale bestuurder, dr.  Michelle Gratz, Donderdag die handdoek ingegooi het.  Sy het ook gevra dat die munisipaliteit deur die Wes-Kaapse provinsiale regering onder administrasie geplaas word.

Mbulelo Memani, Knysna-munisipaliteit se hoof‑ finansiële beampte, en Peter Myers, ʼn DA-raadslid, het terselfdertyd bedank.  Myers was voorheen, terwyl die DA aan die stuur van sake in Knysna was, die burgemeesterskomiteelid vir finansies.

Gratz het haar bedanking Donderdag tydens ʼn virtuele raadsvergadering aangekomdig.  Tydens haar toespraak het sy na die munisipaliteit se roekelose besteding van geld verwys vóór sy die leisels oorgeneem het.  Van die amptenare het glo onder meer onwettig toelaes ontvang vir skaars vaardighede waarvoor hulle nie gekwalifiseer het nie.

Die party is in 2018 deur die ANC uit die kussings gelig toe Myers en nog ʼn DA‑raadslid, Mark Willemse, saam met die ANC-opposisie in die raad gestem het tydens ʼn mosie van wantroue teen die destydse burgemeester, Eleanore Bouw-Spies.

Willemse is daarna deur die ANC tot burgemeester verkies terwyl hy steeds ʼn DA-raadslid was en die DA tegnies steeds die regerende party in Knysna was.  Hy is in September verlede jaar van sy DA-lidmaatskap gestroop ná sy eie koukus met ’n mosie van wantroue teen hom geslaag het.

Terwyl Willemse die burgemeester was, is dr.  Sitembele Vatala as munisipale bestuurder aangestel, maar Vatala is vroeër vanjaar geskors en die hoogs ervare Gratz het sedert Februarie in die pos waargeneem. Sy was tot ʼn paar jaar gelede die munisipale bestuurder in Mosselbaai.

Sy het tydens haar toespraak Donderdag aan raadslede gesê as dit nie vir die staat van inperking was nie, sy die munisipaliteit se finansies sou kon omkeer.  Verder is haar pogings om dinge reg te ruk ook ondermyn deur samesweringsteorieë en gerugte wat deur munisipale amptenare versprei is om hul persoonlike agendas te pas.

Na sy bedanking het Myers op Facebook gesê sy verhouding met die DA het begin skeefloop na hy dit gewaag het om vrae te opper oor die geskiktheid van sekere raadslede.  Hy sê die party se optrede is ’n voorbeeld van die uiterste kleinlikheid en faksionalisme wat – soos in alle politieke partye – in die DA heers.

Vir Gratz het Myers net groot lof gehad.  “Knysna verdien ’n persoon met dr.  Gratz se vaardighede, kennis en energie om die munisipaliteit in hierdie moeilike tye te lei,” sê hy.

Dion George, die DA-parlementslid vir Knysna, het aan Maroela Media gesê hy is jammer oor Gratz se bedanking omdat sy in die kort tyd wat sy by die munisipaliteit was, baie goeie werk verrig het.

Hy glo egter dis nodig dat die provinsie ingryp in Knysna.  Die munisipaliteit kon in Desember verlede jaar nie hul werknemers betaal nie en daar was groot verwarring oor wat die redes daarvoor was.

Hy sê die Wes-Kaapse regering is tans besig met ʼn ondersoek om uit te vind wat met Knysna se finansies skeefgeloop het en iemand gaan moet antwoord, selfs al het hulle as raadslede bedank.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
marius

Gaan hulle met die Valke praat ?

Jack

Maak die pad weer oop vir die anc. Eendracht maakt macht

Rodger17

Dis n feit,die anc maak die gebiede onder ander partye se beheer onregeerbaar want hulle wil by daai geldjies uit kom om dit te plunder

Hennie

Ongelukkig is daar sommige DA amptenare wat slegs aangestel word om ‘n bietjie kleur aan die party te gee. Ongelukkig is hulle vaardighede maar beroerd….