Koalisie beplan optog oor SAUK-man

Thuli Madonsela. Foto: Werner Beukes/SAPA

Thuli Madonsela. Foto: Werner Beukes/SAPA

ʼn Groep wat homself die “Hlaudi Motsoeneng Koalisie” noem, eis dat die Openbare Beskermer, Thuli Madonsela, moet bedank.

“Ons sal ʼn optog na haar kantoor hou, hierdie is die jaar wat sy haar pos moet verlaat,” het Thami Mzileni, hoof van die Kommunikasiewerkersvakbond (CWU), Dinsdag aan verslaggewers in Johannesburg gesê. “Sy het nie die mandaat van die kantoor van die Openbare Beskermer uitgevoer nie.”

Die koalisie reageer op die verslag oor die SAUK wat Madonsela vrygestel het. Madonsela het Motsoeneng, die waarnemende hoof bedryfsbeampte en die raad van die openbare uitsaaier gekritiseer oor sy onregmatige aanstelling en salarisverhogings.

Charlotte Mampane, voormalige hoof bedryfsbeampte van die SAUK, en Phumelele Ntombela-Nzimande, voormalige senior uitvoerende direkteur van die SAUK, het klagtes teen Motsoeneng by Madonsela ingedien. Bewerings is ook ondersoek dat Motsoeneng tydens sy werksaansoek sy kwalifikasies vervals het en nie die waarheid gepraat het nie, insluitend dat hy matriek geslaag het.

Madonsela sê bewerings dat Motsoeneng bedrog gepleeg het, is gestaaf. Sy sê dit is kommerwekkend dat Motsoeneng se lêer by die SAUK verdwyn het terwyl hy ontken dat hy sy kwalifikasies vervals het.

Mzileni sê die groep verwerp die verslag. “Die verslag moes oor die bestuur van die uitsaaier gehandel het, maar het uiteindelik net oor ʼn individu gehandel,” het Mzileni gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.