‘Koalisie het Williams uitgestoot’

Randall Williams. (Foto: Twitter)

Randall Williams het nié uit sy eie besluit om as uitvoerende burgemeester van Tshwane te bedank nie. Die DA het hom eerder uit dié pos gehelp nadat die meerderheidsparty se koalisievennote maande lank druk op hom geplaas het om van Williams ontslae te raak.

“Ons wou hê die DA moet vir ons iemand anders gee,” sê Herman Mashaba, president van ActionSA – die DA se grootste koalisievennoot in Tshwane.

“Ons verwelkom Williams se bedanking. Ons het maande lank daarvoor gevra. Ons is net teleurgesteld dat ons, as tweede grootste party in Tshwane, soos almal anders in die koerante daarvan moes uitvind,” sê Mashaba.

ActionSA sê Williams het geen respek vir die DA se koalisievennote in Tshwane getoon nie.

“Ons het nie ʼn probleem daarmee om ʼn DA-burgemeester te ondersteun nie. Maar hy of sy moet verstaan dat die DA deel is van ʼn veelpartykoalisieregering. Dít is wat Randall Williams nie verstaan het nie,” verduidelik Mashaba.

“Williams het gedink hy bestuur ʼn DA-regering met ʼn tweederde meerderheid.”

Dr. Corné Mulder, hoof van die veelpartykoalisie bestaande uit die DA, ActionSA, die VF Plus, die ACDP, Cope en die IVP, sê op sy beurt Williams se bedanking is ʼn belangrike en nodige stap in die stabilisering en versekering van die toekoms van die koalisie in Tshwane.

Volgens Mulder het die toesiggroep van die veelpartykoalisie in die Tshwane-metro op 10 Januarie vanjaar vergader nadat ʼn verslag van die ouditeur-generaal, waarin ʼn negatiewe bevinding oor die stand van die Tshwane-metroraad se finansies gemaak word, uitgelek het.

Die oorsiggroep wou verseker dat iemand verantwoordbaar gehou word, “anders as die ANC wat nooit verantwoordelikheid vir sy foute aanvaar nie”.

Mulder sê die groep se fokus het toe onmiddellik verskuif na die noodsaaklikheid om ʼn geskikte burgemeester te kies wat die leierskap kan verskaf wat nodig is om aandag te gee aan die ernstige kwessies wat die inwoners van Tshwane in die gesig staar.

ANC

Die ANC het intussen ook Williams se bedanking verwelkom. Mashaba vermoed die ANC wil nou by die agterdeur inglip. Die koalisievennote in Tshwane is egter vasbeslote om te verhoed dat dit gebeur.

“Ons het gelukkig die getalle om die ANC uit te hou,” hou Mashaba vol.

Mulder sê op sy beurt die koalisievennote is verbind daartoe om tot voordeel van alle inwoners op te tree en die ANC uit die Stad Tshwane te hou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Riaan ·

Begin die DA sien as die “ANC Light” en alles sal begin sin maak

piket ·

Was nog n prater, niks konstruktiefs uitgerig nie. Geen terugvoering van hom en sy kantoor gekry op briewe na hom gestuur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.