Koalisie-ooreenkoms in Nelson Mandelabaai onderteken

Nelson Mandelabaai. (Foto: Niel Grundling/Panoramio via stadiumdb.com)

Leiers van ses verskillende politieke partye het Donderdag ʼn koalisie-ooreenkoms in Nelson Mandelabaai in Gqeberha (Port Elizabeth) onderteken, in ʼn poging om dié munisipaliteit, wat glo al vir ʼn geruime tyd in wanorde verval het, weer op die been te bring.

Hierdie koalisie moet egter eers ʼn mosie van wantroue teen die huidige regering indien om die droom van ʼn nuwe metro te verwesenlik.

Die DA, VF Plus, leiers van die African Christian Democratic Party (ACDP), African Independent Congress (AIC), Abantu Integrity Movement (AIM), Pan Africanist Congress (PAC) en die United Democratic Movement (UDM) sal nietemin nou almal by die nuwe koalisieregering in die munisipaliteit betrokke wees.

“Vandag se ooreenkoms kom ná byna vier maande lange onderhandelinge om ʼn nuwe regering in die metro te vorm,” lui die partye se gesamentlike verklaring.

“Baie tyd is bestee aan die bespreking van ʼn gedeelde stel waardes, beginsels, verbintenisse, doelwitte en prioriteite wat sal dien as die bloudruk van die bestuur van die nuwe koalisie.”

Die partye is vol vertroue dat ʼn mosie van wantroue sal slaag, sodat ʼn ommekeer in die metro bewerkstellig kan word. Dit sal ook die nuwe veelpartykoalisie in staat stel om tot die regering toe te tree en die bestuursplan aan die inwoners van die munisipaliteit voor te lê.

Die munisipaliteit is al jare lank in ʼn bedenklike toestand, terwyl daar boonop weinig dienslewering is.

“Die huidige waterkrisis wat die gebied beleef, het die munisipaliteit verder in die afgrond gedryf. Die swak leierskap rakende die krisis is ʼn aanhoudende bedreiging vir die inwoners van Nelson Mandelabaai, aangesien die moontlikheid van droë krane nou al byna die helfte van die metro in die gesig staar.

“Die wettigheid van die stadsbestuurder het ook nou ʼn dooiepunt bereik wat die stabiliteit en funksionaliteit van die munisipaliteit se administratiewe arm erodeer. Dienslewering kan eenvoudig nie ʼn werklikheid word sonder sterk instellings om die idees van politieke leierskap in werking te stel nie.”

Volgens die nuwe koalisieregering is hierdie twee kwessies, onder vele ander, ʼn prioriteit om stabiliteit te herstel, korrupsie uit te roei en dienslewering te verbeter.

“Ons staan ​​gereed om leiding te neem en te herbou wat afgebreek is,” voer die betrokke partye aan.

Die proses om hierdie nuwe regering te vestig was skynbaar ʼn opwaartse stryd met maande lange onderhandelinge om te verseker dat al die betrokkenes op dieselfde golflengte is wat die toekoms van die metro betref.

“Koalisies in Suid-Afrika is nooit maklik nie, en hoewel die konsep nie nuut is nie, is dit beslis vir ons almal belangrik om die lesse uit vorige pogings te leer sodat ons beter maatstawwe vir toekomstige koalisies kan toepas. Dit is die werklikheid dat die toekoms van Suid-Afrika, veral ná 2024, deur koalisies oorheers sal word. Nelson Mandelabaai kan by die talle ander regerings oor die hele land aansluit wat ʼn lewende bewys is dat koalisies werk wanneer daar toewyding deur alle spelers is om hulle te laat werk.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Alta Alleman ·

As die EFF nie n “spanner in the works” gaan gooi nie.

WILLEM ·

Daar is baie werk in PE wat agterwee gebly het in die verlede. Hoop dat die nuwe koalisie sal saam werk en nie mekaar in die wiele ry nie. Ons betaal maandeliks belastings maar sien niks van die werk wat gedoen moet word nie. Dis diefstal. Sterkte.

Jaco ·

NMB se raad het 120 lede, so enige regering daar moet uit minstens 61 lede bestaan. Volgens Wikipedia het dié beoogde koalisie gesamentlik 56 lede. So hulle kort nog 5 vir ‘n meerderheid. Hoe dan nou, of mis ek iets?

Ettienne ·

Ook nou nie seker hoe effektief ‘n koalisie van, soos dit vir my lyk van ongeveer 60 partye, gaan wees nie ????

annie ·

Die probleemmet koalisies is dat die meerderheid partye glo hulle kan self persoonlike voordeel trek en werk dan juis met die oog daarop saam in sake wat hul ambisie pas. Too many cooks in the kitchen… En die pap brand aan.

Christine ·

Dit gaan weer nie werk nie. Die partye ken nie van saamwerk nie, want die een wil meer belangrik as die ander wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.