Koalisie-ooreenkomste wink vir Tshwane- en Jhb-metro’s

(Argieffoto: Reint Dykema)

Die DA, ActionSA, die VF Plus, ACDP, UDM en Cope wil seker maak dat die ANC nie weer in die Tshwane-metro regeer nie en sal ook alles in hul vermoë doen om die party uit die Johannesburg-metro te hou.

Leiers en afgevaardigdes van die betrokke partye het vandag in Johannesburg vergader oor die pad vorentoe rakende die vorm van koalisieregerings.

“Die gesprekke was konstruktief en die partye is dit eens dat dit in belang van die toekoms van Suid-Afrika is om stabiele regerings te vorm wat ernstig oor dienslewering is en om die verval van plaaslike regering te stuit,” het die partye in ’n gesamentlike verklaring gesê.

Rakende die Tshwane-metro het die partye ooreengekom om ’n koalisieregering te vorm en om die DA se burgemeesterskandidaat te ondersteun.

In die Johannesburg-metro sal die partye poog om ’n minderheidsregering te vorm en die ANC so uit te hou. Die meerderheid van die partye het ooreengekom om die burgemeesterskandidaat van ActionSA te ondersteun en daar is dus nog nie konsensus bereik nie.

Die DA het ’n beginselbesluit by sy federale bestuur geneem dat hy sy burgemeesterskandidaat sal aanbeveel waar hy die meerderheid stemme onder opposisiepartye behaal het. Die DA sal egter nou die strekking van die jongste gesprekke vir oorweging aan sy federale bestuur terugrapporteer.

Die Johannesburgse metroraad vergader Maandag.

“Verdere samesprekings tussen partye sal oor die naweek voortgaan om die pad vorentoe te bepaal en vas te lê.”

Die politieke partye het hul waardering teenoor inwoners van hierdie metro’s uitgespreek vir hul geduld te midde van die afhandeling van hierdie komplekse onderhandelinge.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

DIABLO ·

Yes! Yes! Yes! ActionSA, go! Ek het hierdie koalise sien kom en ek hoop die ANC word geheel en al vernietig!

Anonymouse ·

Hierdie was seker vir my die beste verkiesing gewees in ‘n baie lang tyd. Dit is wonderlik dat daar soveel meer partye is wat nou vir my stem sal moet werk. Ek kry sommer amper hoop.

annie ·

Too many cooks spoil the broth… Of is dit die voorste linie van ‘n bekwame weermag? ‘n Vreeslike spul uiteenlopendes en besluite sal geneem moet word oor belangrike sake. Praat is nie werk nie. Mag volwassenheid seëvier.

piet ·

Ek weet nie. Die vorige koalisie was nou nie juis ‘n toonbeeld van suskses nie, nou is daar nog meer koalisie-vennote om onder mekaar te verskil. Nee wat, net een regerende party wat ‘n goeie rekord het van dienslewering is ‘n baie beter opsie soos in Kaapstad.

Samuel ·

Enigiets kan werk solank die ANC en EFF nie betrokke is nie.

Hugo ·

Da moet net van Zille ontslae raak. Sy is die argitek van die DA se ondergang

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.