Koalisie verkla ANC en kie in Jhb

(Foto: Unsplash)

Die DA-geleide koalisieregering in die Johannesburgse metroraad het Maandag sy voorneme bekend gemaak om strafregtelike klagte teen die ANC en sy lede in die raad aanhangig te maak.

Die klagte, wat omkopery en korrupsie insluit, is vanoggend kort ná 11:00 by die Hillbrow-polisiestasie gemaak.

Luidens ʼn gesamentlike verklaring deur die koalisieregering spruit die klagte uit ʼn ondersoek wat na beweerde korrupte bedrywighede deur sommige partylede in die koalisieregering van stapel gestuur is. Die ondersoek het glo aan die lig gebring dat daar sameswerings is om politieke mag in die metro deur finansiële aansporings terug te koop.

“Om kriminele klagte in te dien is ʼn bewys aan die inwoners van Johannesburg dat die partye wat deel vorm van die koalisieregering, daartoe verbind is om die koalisie te handhaaf,” lui die verklaring.

“Dit is duidelik dat die ANC probeer om die Gautengse metro’s op enige moontlike manier terug te neem.”

Die Johannesburgse metroraad het die afgelope week in wanorde verval nadat die DA-lid en speaker van die raad, Vasco da Gama, in ʼn mosie van wantroue uit sy pos verwyder is.

Sedertdien beweer Colleen Makhubele, voorsitter van voorsitters, glo dat sy nou die waarnemende speaker van die Johannesburgse metroraad is.

“Hierdie bewerings word gemaak sonder enige wetlike gronde en is gedoen om die magte te kry van ʼn pos wat sy nie beklee nie sodat die ANC se agenda net verder voortgesit kan word,” lui ʼn afsonderlike verklaring van die koalisieregering.

Makhubele, ʼn Cope-raadslid, is destyds deur die koalisieregering as voorsitter van voorsitters aangewys. Sy het egter ten gunste van die mosie van wantroue teen Da Gama gestem ondanks haar voorneme “om die koalisie te ondersteun om die mosie te skrap”.

Die koalisieregering sê Makhubele se besluit om as waarnemende speaker op te tree is onregmatig, aangesien die raad nooit gestem het dat sy die pos beklee nie.

“Makhubele maak staat daarop dat sy as waarnemende speaker kan optree omdat sy die vorige vergadering, nadat die mosie van wantroue geslaag het, gelei het,” sê die koalisieregering.

“Ons sal Makhubele se optrede dophou en sou sy ʼn spesiale raadsvergadering byeenroep namens die ANC, vir wie sy nou oënskynlik optree, sal ons nie huiwer om regstappe teen haar te doen nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Althes ·

Die ANC moet verantwoordbaar gehou word indien hul hul aan wandade skuldig maak. Van hul lede is agterbaks en onderduims.

Elméne ·

Nie “van” hulle nie – die HELE spul is tot in hul kern korrup!!!!!

Nie Verbaas ·

Presies wat ek gedink het. ANC kan nie eers n kostrollie bestuur nie maar in korrupsie is hulle onbetwisbare kampioene.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.