Koalisieregering in Nelson Mandelabaai in gedrang

Raadslede van die ANC en die EFF het die mosie Donderdag verwerp voordat hulle uit die saal gestap het. Skermskoot: ANA

DA-leier Mmusi Maimane het Bantu Holomisa, leier van die United Democratic Movement (UDM), se ultimatum om aan die Nelson Mandelabaai-koalisie te onttrek indien die adjunkburgemeester nie weer in sy pos heraangestel word nie, verwerp.

Maroela Media het vroeër berig Mongameli Bobani is Donderdag ná maande lange politieke spanning deur middel van ʼn mosie van sy amp as adjunkburgemeester van Nelson Mandelabaai onthef. Die mosie is deur die Patriotic Alliance se Marlon Daniels ingedien.

Raadslede van die ANC en die EFF het die mosie Donderdag verwerp voordat hulle uit die saal gestap het. Die DA, African Christian Democratic Party en Congress of the People het egter ten gunste van die mosie gestem en genoeg stemme bymekaargemaak om die beleërde adjunkburgemeester die deur te wys.

Holomisa het egter kort daarna gedreig dat sy party aan die koalisie met die DA sal onttrek as Bobani nie teen Maandag weer in sy pos aangestel is nie. Maimane het Donderdagaand op hierdie ultimatum gereageer deur ʼn brief aan die koalisievennote, waaronder die UDM, te stuur waarin hy vra vir duidelikheid oor die dreigende ineenstorting van die regering in Nelson Mandelabaai.

“Jou ultimatum probeer ons mede-regeringsooreenkoms gyselaar hou,” het Maimane gesê. “Dit verwag van ons om, ondanks bewyse van korrupsie en die kwessie dat raadslid Bobani blatant teen die koalisie stem, die status quo te handhaaf. Dit is na ons mening onwerkbaar en onwettig. Dit sal ons geensins onderskei van die ANC-regering wat ons vervang het nie.”

bantu-holomisa

Bantu Holomisa, leier van die UDM. Foto: http://udm.org.za

Maimane het gesê Bobani het nie by die koalisie-ooreenkoms gehou nie. Hy het beklemtoon dat twee forensiese verslae wat deur derdeparty-ouditeursfirmas gedoen is prima facie-bewyse gevind het van wanadministrasie, tender-onreëlmatighede en bedrog waarby verskeie departemente betrokke was, direk onder die “politieke en operasionele gesag” van Bobani.

Maimane het gesê Bobani kan nie weer opnuut in sy amp as adjunkburgemeester aangestel word nie. Hy het voorgestel dat die UDM ʼn ander raadslid nomineer om in die burgemeesterskomitee te dien en gesê die DA sal enige ander UDM-nominasie ondersteun.

Maimane het bygevoeg die ampsontheffing van Bobani is nie die verwydering van die UDM nie. “Dit is bloot die verwydering van een raadslid wie se waardes duidelik nie ooreenstem met die waardes van ons koalisie nie,” het hy gesê.

“As jy [Holomisa] besluit om voort te gaan met jou ultimatum en die regering te laat ineenstort, dan sal jy aan die stemmers van Nelson Mandelabaai en die mense van Suid-Afrika – wat krag en hoop deur ons koalisie gekry het – moet verduidelik hoekom jy besluit het om die ANC-regering terug te bring en die gedrag van een man bo die belange van die land te stel.”

Holomisa het vroeër die DA van “gemene spel” beskuldig in hul veldtog teen Bobani om hom “onregmatig” van sy amp te onthef.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Genieve ·

Meer binnegevegte tussen politieke party.Kyk hoe lyk ons land deurmekaar.Hoekom kyk hulle nie na dit wat belangrik is vir SA nie.As jy di koerante oopmaak net politiek partye wat ingeveg is oor koalisie.Ag nee teleurgesteld.

Heleen ·

Daar kan nooit vrede tussen partye wees nie want almal is magsbehep en geldgierig

John ·

Die DA- koalisies gee net meer status aan minderheidspartye en chaos gedy. Mmusi moet eerder harder werk as harder skree.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.