Koalisies kan munisipale verval help omkeer – kenners

(Foto: Reint Dykema)

Toekomstige koalisieregerings in Suid-Afrika is onvermydelik en kan ʼn manier wees om munisipaliteite waar dienste toenemend verval, om te keer, meen kenners. Die land is waarskynlik sterk op pad na ʼn koalisieregering op nasionale vlak; by die volgende nasionale verkiesing oor twee jaar, maar dalk meer waarskynlik in 2029.

Gerbrandt van Heerden, adjunk-navorsingshoof by die sentrum vir risiko-ontleding (CRA), het Woensdag tydens ʼn webinaar gesê indien Suid-Afrikaners ʼn verbetering in die ekonomiese situasie en basiese dienslewering wil sien, sal die ANC uitgestem moet word.

Koalisieregerings, soos nou in byvoorbeeld die Tshwane-metroraad en Johannesburgse metroraad gesien word, kan ʼn antwoord wees – maar Van Heerden waarsku dat die sukses van so ʼn koalisie dikwels afhang van hoeveel partye daarby betrokke is. Politieke partye se ideologie verskil en in ʼn koalisie moet hulle aan mekaar gewoond raak en toets hoe ver hulle hul invloed kan druk.

Dit kan oor die kort termyn tot onbestendigheid by ʼn plaaslike owerheid lei – wat weer ʼn negatiewe uitwerking op dienslewering het .

“Indien opposisiepartye ernstig daaroor is om die ANC uit stede en dorpe te hou, gaan hulle ʼn manier moet vind om ʼn middeweg te kry,” sê Van Heerden.

Marius Roodt, ʼn senior ontleder by die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV), sê koalisies sal mettertyd stabiliseer en Suid-Afrikaners sal moet gewoond raak daaraan dat dit ʼn kenmerk van die land se politieke stelsel gaan word.

Roodt stem saam met Van Heerden dat veelpartykoalisies moeiliker is om te bestuur as gevalle waar net enkele partye betrokke is.

“Selfs indien ʼn koalisie aan bewind kom, kan dit ontsier word deur binnegevegte. Dit is ʼn moeilike taak om die groot staatskip om te keer,” sê hy.

In munisipaliteite waar die ANC reeds ontsetel is, werk ANC-lojaliste wat as deel van kaderontplooiing poste gekry het, om nuwe rade te ondermyn. ʼn Voorbeeld hiervan is Umgeni in KwaZulu-Natal, waar die DA ná die laaste verkiesing in beheer is.

Van Heerden sê indien dit reg aangewend word, kan koalisies gebruik word om oorheersende partye aanspreeklik te hou. “Dit gaan alles wentel om hoeveel die groter partye bereid is om toe te gee. Ons demokrasie is nog jonk en hierdie koalisieregerings wat ons vorm, is ʼn nuwe konsep.”

Groot partye soos die ANC en die DA kan aanvanklik dalk vassteek, maar die DA het vantevore al gewys dat hy bereid is om kompromieë aan te gaan om saam met kleiner partye te regeer.

Roodt sê vir ʼn koalisie om te slaag, moet daar ʼn mate van gemeenskaplike belange wees. Daar moet ooreenkomste oor byvoorbeeld ʼn vrymarkstelsel en nie-rassigheid aangegaan word. Wanneer daar nie hieroor tot ʼn vergelyk gekom kan word nie, kan politieke partye lugtig wees om ʼn koalisie te vorm.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

annie ·

Hoekom sou uiteenlopende partye saamwerk? Net een rede: Uit hoop dat hul en die party sal baat. Sulke koalisies klink mooi maar die oorlewing is van korte duur. Om met partye saam te werk, hul misdrywe en verkeerde standpunte oor ernstige sake oor te sien, dui te veel op ‘n ‘alles maar okei’-houding solank ek ‘n goeie joppie het, my party darem oorleef. Watter koalisie het al vullishope wat nog berge kon versit?

Esme ·

Die Metro’s is bankrot en ek betwyfel die feit dat enige koalisie ‘n positiewe uitwerking sal he. As ek na my Metro kyk besef ek dat slegs ‘n wonderwerk ‘n verskil gaan kan maak.

Swerwer ·

Sit al die partye is ‘n kruit en dat hul die geveg nou vir eens en altyd klaar uitbaklei. Dinge in ons land sal en kan nie verbeter voor die kommunis nie uitgeroei is nie.

Sarel ·

Koalissies sal slegs werk wanneer Politieke Partye besluit om die Welsyn van die Land en sy Burgers belangriker te ag as die Party se eie belange en bevordering..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.