Koalisies kan (nog nie) SA red

(Argieffoto: Brendan Magaar/ANA)

Die era van dominante eenparty-oorheersing in Suid-Afrika gaan “hoogs waarskynlik” binnekort vir die eerste keer in 70 jaar tot ’n einde kom en ’n veelparty-koalisie-regering blyk in 2024 ’n wesenlike werklikheid te word.

Maar is die Suid-Afrikaanse politiek gereed daarvoor? Politieke kenners meen daar moet oor die volgende twee jaar nog baie water in die see loop.

André Duvenhage, ʼn politieke ontleder verbonde aan die Noordwes-Universiteit, sê die onlangse onstabiliteit in die Johannesburg-, Tshwane-, Ekurhuleni- en Nelson Mandelabaai-metro (waar burgemeesters onlangs die een ná die ander onttroon is) dui op ’n gebrek aan kultuur, waardes en integriteit.

“Wat ons gedink het suksesse was, het radikaal omgedraai en vir ons die negatiewe kant begin wys.

“Ons het gehoop dat koalisies die land kan verander en verbeter en die hoop bestaan steeds. Maar daar is baie grondwerk wat gedoen moet word om koalisies te maak werk.”

Duvenhage sê daar sal “politieke kulturele groei” met “gevestigde waardes” moet plaasvind indien opposisiepartye as koalisies in die komende verkiesing die pyp wil rook. “En dít is die uitdaging. Ek bly glo dat koalisiepolitiek ’n oplossing kan bied, maar dan moet partye individue teenwerk en strenger reëls ingestel word.”

(Foto: Reint Dykema)

Alida Kok, ʼn dosent in politiek aan Akademia, het op haar beurt aan Maroela Media gesê die Suid-Afrikaanse politici is nie gewoond aan samewerking tussen partye nie en dít is waaraan die bloudruk van die stelsel tekort skiet.

“Die grootste enkele uitdaging waarvoor Suid-Afrika te staan kom wanneer dit by koalisies kom, is die verval van orde en struktuur,” sê Duvenhage. “Enige bedeling benodig stabiliteit en orde. En dit is totaal afwesig. Ek dink die onstabiliteit in die land het die punt bereik waar dit ons konstitusionele demokrasie bedreig.

“Ons kan nie voortgaan met hierdie tipe onstabiliteit waar besluite nie geneem kan word nie, begrotings nie goedgekeur kan word nie en wetteloosheid en wanorde toeneem. Daar behoort reëls te kom.”

Duvenhage beveel aan dat ’n formele struktuur oor koalisies en alliansievorming daargestel word. ’n Koalisie moet ook liefs eers geregistreer word voordat ’n samewerkingsooreenkoms onderteken en in die hof bekragtig word. Diegene wat versuim om die ooreenkoms na te kom, sal dan aan die hof moet antwoord.

“Ons kiesstelsel maak die ding egter moeilik, want ons moet eers verkiesing hou, bepaal wie het die mag en dan besluit wie moet saamwerk.”

De Kok wys daarop dat daar ’n reël in Israel en Nederland – lande met koalisieregerings wat al jare lank suksesvol saam regeer – se kieswet ingebou is wat politieke partye aanspoor om saam te werk. Partye kan ook in dié lande stemme bymekaarsit om meer setels in ’n wetgewer te verkry.

“Ons het glad nie sulke aansporing in ons huidige of die gewysigde kieswet nie. Ons het ook nie die geskiedenis van samewerking tussen politieke party of selfs ’n waardestelsel van samewerking nie. Dit is daarom baie moeilik vir koalisies om in die stadium te slaag, want politieke partye is in sulke strawwe kompetisie met mekaar om kiesers se stemme te werf.

“Ons politiek word ook deur die ego’s van sekere individuele leiers gedomineer.”

Duvenhage wys daarop dat die Suid-Afrikaanse demokrasie nog in sy kinderskoene is. “Ons is maar 28 jaar oud en ons sukkel nog om die basiese spelreëls van demokrasie reg te kry.

“Koalisiepolitiek is ’n baie meer gesofistikeerde stelsel en die waardestelsel waarop dit gebou moet word, is afwesig. Die gevolg is dat koalisies uitmekaar val en eie belang vooropgestel word.”

DA dink hy het die antwoord

Argieffoto bloot ter illustrasie van die DA se verkiesingsplakkate. (Foto: DA/Facebook)

Die DA het vandeesweek aangekondig dat die party wetgewing gaan voorstel om koalisies te stabiliseer ná die nasionale en provinsiale verkiesing van 2024. Dié wetgewing sluit in die implementering van ’n verkiesingsdrempel van 1% of 2% nasionale, provinsiale en plaaslike regerings. Dit sal vereis dat ’n politieke party 1% of 2% van die algehele stemme moet kry om vir setels in ’n wetgewer of raad te kwalifiseer.

John Steenhuisen, federale leier van die amptelike opposisieparty, het daarop gewys dat verkiesingstelsels vir proporsionele verteenwoordiging geneig is om ’n fragmentering van politiek in ’n groot aantal partye aan te moedig. “In Suid-Afrika is dit veral ekstreem omdat ’n party met net 0,2% van die stemme ’n setel in ’n wetgewer kan kry. Tog kan selfs so ’n klein party, met minimale verkiesingsteun, ’n regering tot ’n val bring as daardie party se setel nodig is om 50 plus 1 in die koalisie uit te maak.

Ander lande met proporsionele verteenwoordiging-kiesstelsels, soos Duitsland, Denemarke, Oostenryk, België en Griekeland, vermy onstabiliteit deur verkiesingsdrempels te stel.

“Hierdie wetgewing is nie ’n oplossing vir ’n DA-probleem met koalisies nie. Dit is ’n oplossing vir ’n Suid-Afrikaanse probleem met koalisies,” sê Steenhuisen.

“Ons moet vir koalisiepolitiek voorberei.

“Suid-Afrika kan nie bekostig om die ANC – hetsy op nasionale, provinsiale of plaaslike vlak – met onstabiele koalisies te vervang nie.

“As die huidige stand van metro-koalisies na 2024 op nasionale en provinsiale regeringsvlak herhaal word, sal dit lei tot permanente onstabiliteit, met Suid-Afrika wat moontlik selfs onregeerbaar sal word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Windhond ·

Vir koalisie om te werk moet alle partye saam werk – saamwerk bestaan nie in die woordeboek van sekere partye nie, slegs hulle beurt by die kos trog maak vir hulle sin

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.