Kobra pik 3-jarige: ‘Sy is ʼn brawe dogtertjie’

Anina is weer haar vrolike self. Foto: Verskaf

Die driejarige Anina Mostert is weer haar vrolike self nadat sy vroeër vanjaar deur ʼn Kaapse kobra in die gesig gepik is.

Anina is kort voor haar derde verjaardag deur die slang gepik toe sy en haar ma, Benita, op 4 Februarie ʼn middagslapie geneem het in hul huis op ʼn plaas buite Citrusdal.

Anina en haar ma het intussen die Wes-Kaapse departement van gesondheid se Air Mercy Service (AMS) besoek om dankie te sê aan die personeel wat haar na die hospitaal vervoer het. Anina is met ʼn AMS-helikopter van die Citrusdal-hospitaal na die Tygerberg-hospitaal vervoer nadat sy gepik is.

Venessa Horn, woordvoerder van AMS, het gesê Anina is ʼn slim meisietjie wat vinnig diep in hul harte ingekruip het. “Sy het vinnig met die personeel begin gesels en dit geniet om tyd saam met hulle deur te bring. Sy is ʼn brawe dogtertjie.”

Anina en haar ma Benita saam met AMS-personeel. Foto: Verskaf

Behalwe vir ʼn baie klein merk naby Anina se ken het sy geen ander letsels van die voorval oorgehou nie. “Emosioneel het ons nog ʼn lang pad om te stap, maar ons vat dit dag vir dag,” het Benita gesê.

“Ons is dankbaar dat Anina ten volle herstel het en dat sy lewe. Dankie vir almal wat ons gehelp het. Ons het so baie hieruit geleer. Anina praat oor wat gebeur het en dit laat ons glo sy was moontlik wakker ná die tweede of derde keer wat die slang gepik het. Die vrees en dit wat kon gewees het bly by jou as ʼn ouer, maar ons weet dat die emosionele skade met tyd beter sal raak.”

Anina was vir tien dae in die hospitaal voordat sy ontslaan is. Sy is egter twee dae later in die Paarl-hospitaal opgeneem nadat die slangbyt ʼn abses gevorm het en dit gedreineer moes word.

Lees vorige berigte oor Anina op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

CHRISTA ·

Prys die HERE sy het so wonderlik herstel!! En ‘n Bells vir die hospitaalpersoneel!!

Ai ·

Shame arme kleinding. Dis wonderlike nuus dat sy gesond is en n groot high five aan die mediese personeel wat so vinnig reageer het.

Uvonka ·

Wonderlike “feel good” nuus. So bly die skattige kleinding is gesond. Thumbs up aan almal wat gehelp het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.