Kobra pik baba in gesig

Die slang wat die seuntjie gepik het. Foto: Verskaf

Die slang wat die seuntjie gepik het. Foto: Verskaf

ʼn 10 maande oue babaseuntjie is in ʼn stabiele toestand in ʼn hospitaal in Noordwes nadat hy deur ʼn Mosambiekse spoegkobra in die gesig gepik is.

Berdine Venter, ʼn maatskaplike werker van die NG Welsyn Zeerust, het aan Maroela Media gesê die kind kan ingevolge die Kinderwet nie geïdentifiseer word nie omdat hy in pleegsorg is.

Volgens Venter het die voorval Woensdagaand by die gesin se huis op ʼn wildsplaas gebeur. “Hy het erg begin skree. Sy pleegouers het dadelik geweet iets is fout, aangesien hulle hom nog nooit so hoor skree het nie,” het sy gesê.

Die pleegouers het onmiddellik na die seuntjie se kamer gehaas. “Daar was bloed op sy voorkop. Hulle het ʼn spinnekop langs sy bed gesien en het aanvanklik gedink hy is deur die spinnekop gebyt. Hulle is dadelik met hom hospitaal toe.”

Volgens Venter het hulle by die hospitaal gesien daar is twee merke aan die seuntjie se voorkop en het hulle besef hy is deur ʼn slang gepik. “Die pleegouers het vriende van hulle geskakel om na die huis te gaan en te kyk of hulle die slang kan kry. Hulle het die Mosambiekse spoegkobra in die seuntjie se kamer gevind.”

Dokters wou egter nie onmiddellik die teengif toedien nie, aangesien hy nog so jonk is en dit erge newe-effekte kan hê. “Die dokters het wel later die teengif toegedien toe sy gesig erg geswel gebly het. Daar is ook ʼn breinskadering gedoen en dokters het vasgestel dat die slang se tande nie sy skedel gepenetreer het nie. Daar is ook nie gif of bloeding op sy brein nie,” het Venter gesê

Volgens Venter reageer die seuntjie baie goed op die behandeling. Hy sukkel soms met sy asemhaling en hy slaap baie omdat hy in pyn is wanneer hy wakker is. “Die swelling is besig om te sak. Ons vermoed die slang het tussen die grasdak en die muur ingekom. Omdat die gesin op ʼn wildsplaas bly en weet daar is slange, is hulle baie paraat en hou hulle altyd die deure toe.”

Volgens Venter was die seuntjie vier maande oud toe hy uit sy ouers se sorg verwyder is en by die pleegouers geplaas is. Hy is sedert Oktober wettiglik in hul pleegsorg. Die kinderhof, die departement van maatskaplike ontwikkeling en die biologiese ouers is van die voorval in kennis gestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Simone Venter ·

Ek hoop regtig die kleinding word baie gou beter. Sterkte aan hom en sy pleegouers.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.