Kobra pik slapende dogtertjie

Anina. Foto: Verskaf

Anina. Foto: Verskaf

Benita Mostert en haar tweejarigedogtertjie se middagslapie het in ʼn resies teen tyd verander nadat ʼn Kaapse kobra klein Anina in die gesig gepik het.

“Ons het Saterdagmiddag bietjie in Anina se kamer gaan lê. Ons het omtrent ʼn uur lank geslaap toe Anina skielik gegil het,” het Benita vertel. Pa Gert was in ʼn ander vertrek van die huis op ʼn plaas buite Citrusdal en het dadelik soontoe gekom. “Hy het op die bed by Anina gesit en gesien hoe glip die slang onder haar kussing uit.”

Volgens Benita het sy vroeër die middag die bed skoon oorgetrek en daar was geen teken van ʼn slang nie. “Daar was net ʼn baie klein snytjie waar die slang haar gepik het. Mens kon dit amper nie eens sien nie.” Die egpaar het Anina onmiddellik in die bakkie gelaai en na die hospitaal op die dorp gejaag. “Die hospitaal is baie naby. Anina het egter in my arms ophou asemhaal nog voordat ons by die hospitaal was.”

Anina is onmiddellik in die hospitaal opgeneem en op lewensondersteunende masjiene geplaas. Gert is intussen terug plaas toe om die slang dood te maak. Hy het die kamervenster en deur toegetrek voordat hulle met Anina hospitaal toe gejaag het. Dokters het ʼn teengif toegedien en Anina is gestabiliseer. “Die slang was sowat 1,2m lank. Toe Gert weer by die huis kom, moes hulle omtrent eers die kamer omkeer voordat hulle die slang in ʼn laaikas gevind het.”

Anina is later die middag per helikopter na die Tygerberg-hospitaal oorgeplaas, waar sy in die pediatriese intensiewe sorgeenheid opgeneem is. “Die dokters kan steeds nie glo sy het dit gemaak nie.” Anina is intussen na die hoësorgeenheid oorgeplaas.

Anina in die hospitaal. Foto: Verskaf

Anina in die hospitaal. Foto: Verskaf

“Sy gesels met ons en dit gaan oukei. Sy het vanoggend bietjie geloop, maar sy is baie wankelrig. Sy hanteer die voorval nie baie goed nie en kry nagmerries. Dit is baie swaar vir ons.” Anina is die egpaar se enigste kind. Anina vier later vandeesmaand haar derde verjaardag.

Benita se raad vir ouers wat hulself in dieselfde situasie bevind, is om onmiddellik na ʼn hospitaal te jaag. “Moenie eers die slang probeer doodmaak nie. Probeer steeds om dit vinnig te identifiseer indien moontlik en gaan dan eerder terug om die slang te kry. Ons sou nie betyds gewees het as ons eers die slang doodgemaak het nie.”

Johan Marais, ʼn slangkenner, het vroeër aan Maroela Media gesê die Kaapse kobra is ʼn uiters gevaarlike slang. Volgens Marais kan die slang se byt dikwels noodlottig wees, aangesien slagoffers versmoor wanneer hul longe platval. Hy sê die slang het ʼn uiters neurotoksiese gif, giftiger as enige ander Afrika-kobra.

Christoff du Plessis, ʼn slangvanger, het gesê as iemand gepik word, is dit die belangrikste om vas te stel watter soort slang dit was, aangesien die behandeling daarvan afhang. Du Plessis het ook gesê ʼn mens moet probeer om so kalm as moontlik te bly, sodat die gif nie vinniger deur die bloedstroom versprei nie en om die wond laer as die hart te hou.

Volgens Henk Havenga, ook ʼn slangvanger en kenner, is slange aktief wanneer dit warm is, maar bly hulle gewoonlik op die grond of in bome in as die grond te warm is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

29 Kommentare

Phillip ·

Dagsê Jem

Ja dit het Saterdag plaasgevind soos genoem.

Groetnis

Phillip Bruwer, nms Maroela Media

Skerp spioen ·

Baie sterkte vir julle en julle vegtertjie. Ek bid vir haar.

Tjaart ·

Ek is vreeslik jammer, maar ek weet nie wie die spesialiste is wie julle nader vir die tipe berigte nie, maar nou ja. In Suid Afrika gebruik ons twee tipes teengif, ‘n polivalente teengif wat al die slange se gif teenwerk behalwe die boomslang. Hy het sy eie teengif. Teengif word ook nie sommer net toegedien nie. Slegs as daar simptome is. Dit maak dit totaal onnodige om ‘n slang te vang, dood te maak of ander manier te identifiseer. Dit is baie belangriker om die pasiënt by ‘n hospitaal te kry as om die slang te identifiseer. Ek hoop die inligting help. En ek is verskriklik bly dat die dogtertjie op die pad van herstel is.

Stefan ·

Soos Tjaart sê kry mens in SA slegs 2 tipes teengif. “Monovalent” vir die Boomslang en “polyvalent” vir alle ander noemenswaardig giftig slange: Mambas(swart en groen), Kobras”Snouted/Cape/Forest/ Mozambique”, Pofadder, Gaboenadder en Rinkhals (uitgesluit die “Vine/Twig Snake”, Bergadder, Stilleto ens. vir wie daar nie teengif bestaan nie maar ook geen sterftes op rekord is nie). Dis nie nodig om die slang te identifiseer nie (want dit word iedergeval meestal verkeerd gedoen), aangesien behandeling geskied op sigbare simptome wat waargeneem kan word by die pasiënt tesame met bloed- en ander toetse.

Koue rillings ·

N Geelslang (kaapse kobra) was juis die dinsdag op my huis se stoep…. Toe ek die middag die stoep deur oop maak toe le mnr op die stoep kroeg se blad….. En maak sy kop breed oor die honde vir hom toe staan en blaf…. Ek was ampe dood vani skrik….. En net daarna lees ek toe van die Arme dogtertjie…. Ai my hart gaan uit na hulle en hoop sy word gou beter….

Leonc ·

Tjaart
Laat ek jou inlig, jy se jy weet nie wie Johan Marais is nie? Wel gaan CNA of enige gooie boek winkel en siedaar jy sal sy boeke daar kry. Alles wat jy hier noem is al genoem in sy geskrewe.
Johan en Jackie Seal en Dave Morgan om n paar te noem is almal manne wat reuse werk en navorsing op hierdie gebied gedoen het en ons kan maar gerus vir hulle dankie se vir dit.
Wat jy hiebo noem is goed en dankie vir jou input, maar wees net versigtig om ander manne aan te vat as jy nie mooi weet wie en wat julle is nie. Hulle is regtig reuse op die gebied.
Weer eens dankie vir jou insette.

Groete Leonc

Martie Lottering ·

Tjaart praat die waarheid. Jy kan in enige ongevalle gaan kyk, dis al teengif wat beskikbaar is. Mense word simptomaties behandel met language, want dit is soos hy noem, gewoonlik word die slang verkeerd geidentifiseer of glad nie geidentifiseer nie.

Stefan ·

Johan Marais is gewis een van dié gesaghebbendste herpetoloë in SA asook die skrywer van verskeie publikasies oor slange en spesifiek ook slangbyte. Hy sal ook vir jou sê dat dit nie van belang is om die slang te identifiseer of te vang nie. Dit is die ander persoon (die slangvanger) wat aangehaal word as synde te beweer dat die identifikasie van die slang allerbelangrik is aangesien behandelings-protokol daarvolgens plaasvind. Hou ingedagte dat “polyvalent” teengif wat, soos reeds genoem, toegedien word vir alle slangbyte behalwe die van die boomslang, en gevolglik dus vir die behandeling van neurotoksiese en sitotoksiese slangbyte. So dit gaan nie ń verskil maak watter slang jou gepik het nie. Wat wel gaan verskil is jou simptome en dit gaan die res van jou behandelings-protokol bepaal.

Christa ·

Ek is baie bly hulle kon haar betyds help. Ons kan haar jou net in ons gebede aan ons liewe Vader opdra vir spoedige en volkome herstel.

Elke van Rensburg ·

Ag aarde tog julle! My hart bokspring oor die amperse tragedie wat plaasgevind het, maar mense kibbel oor giwwe en slange en moets en moenies. Ek verstaan korrekte beriggewing is belangrik en die regte optrede van noodbelang, maar dan mis mens die absolute wonderwerk van die kleine mensie wat bly leef! Ek is so dankbaar vir julle. Mag sy gou heeltemal herstel op alle gebiede.

Jem ·

Wonderwerk van bo dat die kind Joe dit oorleef het. Ek dankie die Almagtige Skepper dat Hy die ouers gelei het om die dogtertjie so gou moontlik by die hospitaal te kry.

Marie Salzwedel ·

Dankie vir die dokters wat haar lewe gered hey……….

jaco ·

Na die drama mwt met die slang lê nou nog n drama voor omdat sy in n staatshospitaal behandel word. Dis vuil, personeel is swak opgelei, baie personeel daag nie op vir werk nie, persoonlike besittings van pasiënte word gesteel, medisyne word gesteel en en en. Kortom, dis nag om in n staatshospitaal te lê.

LMF ·

Ai toggie dit kon baie erger gewees het dankbaar sy leef maar ja vir my is die mooiste slang n dooie slang

Ceryl ·

Sy is n engeltjie n klein vegtertjie God sal haar uitspaar vir haar mamma en pappa en sy sal baie oud word ons bid vir haar aan mkr.

Marianne ·

My hart bloei vir Klein Anina.

Ek hoop hast ouers sal haar en hulself meet bekend mask met die spesies slange, skerpioene en spinnekoppe om en in hul huis.
Elke lewende dier, gogga of grillerige ding het ‘n spesifieke doel in die lewens sirkel.

Mens is so gou om het dood te wil maak – dis die logiese reaksie.

Ek glo en msg verkeerd wees, dat dit warm buite was. Hy/sy het koelte om soek was vasgedruk Onder die kussing. Die byt was as afskrik reaksie toegepas.

Ek bid dat baba Anina tenvolle sal herstel – dat haar nagmerries sal eindig en dat sy ‘n sterk en gelukkige dogtertjie sal wees

Boeremeisie ·

Die inhoud van jou skrywe is so onsamehangend soos ons politici. Wat sê jy nou eintlik dat die ouers elje kriewelrige ding in en om.dienhuis moet uitken of se jy dienouers moea arme slangetjie nie doodgemaak het nie? Waarvan babbel jy nou eintlik?

Gerrit ·

Ek hou duim vas dat die ou pragtige dogtertjie gou sal herstel.

Sal dalk ook `n goeie tyd wees om vir haar `n baba hondjie of katjie te gee sodat sy nie so bang sal wees om alleen te gaan slapies nie.

brenda ·

Pragtigste ou poppie; mag sy gou beter word! sterkte aan die mamma en pappa ook.

Tjopper ·

Ai mense, die berig gaan oor n klein lewe wat gered is. Hoekom daar altyd een of twee slim mense moet wees gaan my verstand te bowe. Dis mos nou irrelevante kommentaar. As die berig gehandel het oor slange van Suider Afrika, asb voel welkom om jou kommentaar te lewer. N Klein dogtertjie het amper haal lewe verloor en julle wil met mekaar redeneer oor gif…..

Ek is myself ongelooflik lief vir die natuur, maar tot my beter wete is daar geen giftige slange in SA wat bedreig is nie. As n giftige slang in my omgewing beweeg maak ek hom dood, want hys dan n bedreiging vir my en my geliefdes.

Word gou gesond klein prinses.

Wendy ·

Julle lewer kritiek oor die slang wat dood gemaak is, die kenners, die tipe slange en als.
Dankie vir die inligting oor die behandeling.
Maar hoekom bid julle nie eerder as om julle tyd op argumente te begin mors nie. Dis nie n politieke ding nie. Dis ñ kind. Hou op fights pick oor alles en dink bietjie.

nie verbaas nie. ·

Wonderlike span werk by Citrusdal Hospitaal. Julle diens is altyd tops. Sonder om terug te verwag gee julle alles. Puik Dr. En uitstekende diens van verpleeg personeel.

Ben ·

Mag sy ten volle herstel en geen vrese oorhou nie. Ek merk op dat sedert 2016 tot nou dat heelwat mense deur die Kaapse Kobra gepik word. Dit is meestal waneer hulle slaap en dat dit kinder is? Ek verstaan dit nie want ‘n slapende kind is geen bedreiging vir ‘n slang nie. Enige iemand wat dalk weet hoekom? Is die slange meer aktief en agresief as gevolg van die hoer temperature?

Nel ·

Sy het dalk omgerol in haar slaap…. ‘n Slang sal pik as daar ‘n skielike beweging is.

Nel ·

Sy het dalk omgerol in haar slaap – slange sal pik as daar ‘n skielike beweging is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.