Kobra pik slapende dogtertjie

Anina. Foto: Verskaf

Anina. Foto: Verskaf

Benita Mostert en haar tweejarigedogtertjie se middagslapie het in ʼn resies teen tyd verander nadat ʼn Kaapse kobra klein Anina in die gesig gepik het.

“Ons het Saterdagmiddag bietjie in Anina se kamer gaan lê. Ons het omtrent ʼn uur lank geslaap toe Anina skielik gegil het,” het Benita vertel. Pa Gert was in ʼn ander vertrek van die huis op ʼn plaas buite Citrusdal en het dadelik soontoe gekom. “Hy het op die bed by Anina gesit en gesien hoe glip die slang onder haar kussing uit.”

Volgens Benita het sy vroeër die middag die bed skoon oorgetrek en daar was geen teken van ʼn slang nie. “Daar was net ʼn baie klein snytjie waar die slang haar gepik het. Mens kon dit amper nie eens sien nie.” Die egpaar het Anina onmiddellik in die bakkie gelaai en na die hospitaal op die dorp gejaag. “Die hospitaal is baie naby. Anina het egter in my arms ophou asemhaal nog voordat ons by die hospitaal was.”

Anina is onmiddellik in die hospitaal opgeneem en op lewensondersteunende masjiene geplaas. Gert is intussen terug plaas toe om die slang dood te maak. Hy het die kamervenster en deur toegetrek voordat hulle met Anina hospitaal toe gejaag het. Dokters het ʼn teengif toegedien en Anina is gestabiliseer. “Die slang was sowat 1,2m lank. Toe Gert weer by die huis kom, moes hulle omtrent eers die kamer omkeer voordat hulle die slang in ʼn laaikas gevind het.”

Anina is later die middag per helikopter na die Tygerberg-hospitaal oorgeplaas, waar sy in die pediatriese intensiewe sorgeenheid opgeneem is. “Die dokters kan steeds nie glo sy het dit gemaak nie.” Anina is intussen na die hoësorgeenheid oorgeplaas.

Anina in die hospitaal. Foto: Verskaf

Anina in die hospitaal. Foto: Verskaf

“Sy gesels met ons en dit gaan oukei. Sy het vanoggend bietjie geloop, maar sy is baie wankelrig. Sy hanteer die voorval nie baie goed nie en kry nagmerries. Dit is baie swaar vir ons.” Anina is die egpaar se enigste kind. Anina vier later vandeesmaand haar derde verjaardag.

Benita se raad vir ouers wat hulself in dieselfde situasie bevind, is om onmiddellik na ʼn hospitaal te jaag. “Moenie eers die slang probeer doodmaak nie. Probeer steeds om dit vinnig te identifiseer indien moontlik en gaan dan eerder terug om die slang te kry. Ons sou nie betyds gewees het as ons eers die slang doodgemaak het nie.”

Johan Marais, ʼn slangkenner, het vroeër aan Maroela Media gesê die Kaapse kobra is ʼn uiters gevaarlike slang. Volgens Marais kan die slang se byt dikwels noodlottig wees, aangesien slagoffers versmoor wanneer hul longe platval. Hy sê die slang het ʼn uiters neurotoksiese gif, giftiger as enige ander Afrika-kobra.

Christoff du Plessis, ʼn slangvanger, het gesê as iemand gepik word, is dit die belangrikste om vas te stel watter soort slang dit was, aangesien die behandeling daarvan afhang. Du Plessis het ook gesê ʼn mens moet probeer om so kalm as moontlik te bly, sodat die gif nie vinniger deur die bloedstroom versprei nie en om die wond laer as die hart te hou.

Volgens Henk Havenga, ook ʼn slangvanger en kenner, is slange aktief wanneer dit warm is, maar bly hulle gewoonlik op die grond of in bome in as die grond te warm is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

29 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jem

Het dit 6 dae gelede gebeur? Julle se Saterdag.

Skerp spioen

Baie sterkte vir julle en julle vegtertjie. Ek bid vir haar.

Tjaart

Ek is vreeslik jammer, maar ek weet nie wie die spesialiste is wie julle nader vir die tipe berigte nie, maar nou ja. In Suid Afrika gebruik ons twee tipes teengif, ‘n polivalente teengif wat al die slange se gif teenwerk behalwe die boomslang. Hy het sy eie teengif. Teengif word ook nie sommer net toegedien nie. Slegs as daar simptome is. Dit maak dit totaal onnodige om ‘n slang te vang, dood te maak of ander manier te identifiseer. Dit is baie belangriker om die pasiënt by ‘n hospitaal te kry as om die slang te identifiseer. Ek hoop… Lees meer »

Stefan

Soos Tjaart sê kry mens in SA slegs 2 tipes teengif. “Monovalent” vir die Boomslang en “polyvalent” vir alle ander noemenswaardig giftig slange: Mambas(swart en groen), Kobras”Snouted/Cape/Forest/ Mozambique”, Pofadder, Gaboenadder en Rinkhals (uitgesluit die “Vine/Twig Snake”, Bergadder, Stilleto ens. vir wie daar nie teengif bestaan nie maar ook geen sterftes op rekord is nie). Dis nie nodig om die slang te identifiseer nie (want dit word iedergeval meestal verkeerd gedoen), aangesien behandeling geskied op sigbare simptome wat waargeneem kan word by die pasiënt tesame met bloed- en ander toetse.

Koue rillings

N Geelslang (kaapse kobra) was juis die dinsdag op my huis se stoep…. Toe ek die middag die stoep deur oop maak toe le mnr op die stoep kroeg se blad….. En maak sy kop breed oor die honde vir hom toe staan en blaf…. Ek was ampe dood vani skrik….. En net daarna lees ek toe van die Arme dogtertjie…. Ai my hart gaan uit na hulle en hoop sy word gou beter….