Koebaai, Caltex

Só sal die nuwe vulstasies lyk. (Fotos: astronenergy.co.za)

Caltex-vulstasies in Suid-Afrika en Botswana gaan binnekort ’n nuwe baadjie – wat ’n naamsverandering insluit – aantrek.

Dié vulstasies sal voortaan as Astron Energy-vulstasies bekend staan.

Astron Energy, een van Suid-Afrika se grootste brandstofhandelsmerke met meer as 850 vulstasies oor die land heen, het Vrydag in ’n verklaring aangekondig dat dié vulstasies oor die komende maande ʼn nuwe handelsmerk sal kry.

Die maatskappy se Kaapstadse raffinadery, vervaardigingsaanleg in Durban, 15 terminale, 180 kommersiële en industriële terreine, asook korporatiewe fasiliteite sal ook ’n gedaanteverwisseling ondergaan.

Dit volg enkele jare nadat Astron Energy in 2018 eienaarskap van die Caltex-handelsmerk oorgeneem het en dit is moontlik een van die grootste logistieke take in Suid-Afrika se onlangse geskiedenis.

Die groep het reeds sy vulstasies in Chuenespoort langs die R37 in Limpopo, vulstasies in KwaMakhuta (Amanzimtoti) en eThekwini in KwaZulu-Natal en MACS in Brooklyn, Kaapstad, hernoem.

Altesame 20 streekspanne sal nou gelyktydig reg oor die land werk om die res van die maatskappy se vulstasies na Astron Energy oor te skakel. Daar wag ’n reusetaak op dié spanne met 1,3 miljoen LED-tekens wat geïnstalleer sal moet word en 192 769 vierkante meter se oranje en houtskoolgrys afdakbekleding wat vervaardig moet word. Laasgenoemde is so groot soos 27 sokkervelde.

“Ons ambisie as Astron Energy is duidelik en ons nuwe handelsmerk stel ons in staat om met selfvertroue die toekoms in te stap, een waarin ons poog om klante by ons opwindende nuwe vulstasies te verwelkom,” sê Thabiet Booley, uitvoerende hoof van Astron Energy.

Die maatskappy stel as deel van sy nuwe handelsmerk ook ’n nuwe beloningsprogram vir klante bekend. Die program is volgens die maatskappy meer haalbaar en bied klante die kans om daagliks van hul belonings gebruik te maak.

Klante sal egter steeds Standard Bank UCount-beloningspunte kan verdien, terwyl hulle terselfdertyd aan Astron Energy se nuwe beloningsprogram kan deelneem.

Vir meer inligting oor die nuwe en verbeterde vulstasies, klik hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.