Koeberg dán weer in diens

Die Koeberg-kernkragsentrale. (Argieffoto)

Die Koeberg-kernkragsentrale noord van Kaapstad sal Sondag weer in diens gestel word nadat ʼn foutiewe pomp by die kragsentrale Eskom vroeër vandeesweek genoodsaak het om fase 4-beurtkrag in te stel.

Die kragvoorsiener het Donderdagaand in ʼn verklaring gesê ʼn seewatersirkulasiepomp het Dinsdag probleme begin gee nadat ʼn filter deur seelewe (jellievis en visse) verstop is. Die pomp kon as gevolg hiervan nie temperatuur reguleer nie en operateurs was genoodsaak om een van die eenhede af te skakel.

Luidens die verklaring is die verstopping in die filter sedertdien skoongemaak en dit is reeds weer in werking gestel. Die pomp is nie beskadig soos aanvanklik gevrees is nie.

Die nodige tegniese beoordeling en goedkeuring is reeds bekom om die eenheid weer veilig in diens te stel. In hierdie stadium word verwag dat Eskom dit teen Sondag sal doen.

Die kragvoorsiener sê fase-4-beurtkrag duur egter tot Vrydagaand voort en laer fases beurtkrag sal oor die naweek ingestel word.

Eskom maak tans gebruik van sy noodreserwes om elektrisiteitstoevoer aan te vul.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Daleen ·

Hoe snaaks. Koeberg bestaan al vir +/- 36 jaar en nog NOOIT het die probleem voorheen gebeur nie. Iemand nie hulle werk gedoen om die pomp skoon te hou nie, gebrek aan herstelwerk miskien ‘n gat iewers veroorsaak dat die seelewe kon inkom of dink hulle net ons is stupid om die verskoning te glo? Glo niks wat uit die klomp se monde kom nie.

Wondermaarnet ·

Maintenance se manne weer sit en slaap soos meeste van die ander werknemers ook by Koeberg. Ek wil ook by eskom werk. Groot salaris, volle bonus, baie voordele en min werk.

Judge ·

Ja, so groot soos wat Koeberg se pomp is sal dit nie ewe skielik verstop raak, tensy dit ‘n walvis vas suig.

Elize ·

Iets moet die skuld kry vir hierdie onbevoegdheid. Solank dit net nie ‘n mens is nie is die Kaap weer Hollands

netekalleen ·

Eskom is vol verskonings vir als en meantime moet ons suffer en klein besighede toemaak want hulle kan net nie meer die druk hanteer nie. So dankie Eskom dat jy jou deel gedoen het om die land in resessie te sit

Maknemuilius ·

Niemand doen meer daar instandhouding nie! Ek Meneer en jy Meneer…………………..wie sal die wa dan smeer??

Gert ·

Pomp is reg en weer in werking gestel, neem dit dan 3 dae vir die water om tot by die eenheid uit te kom ??

SJME ·

Helaas, ek is verstom dat hulle Koeberg so gou kan aanskakel. Daar is groot fout dat dit so maklik weer aangeskakel word…!

Jims ·

Fout is reggemaak en goedkeuring verkry om in werking te stel , maar Eskom gaan dit eers Sondag doen. Hoekom eers Sondag?

Shady ·

Die pomp is reeds herstel maar kom ons sit dit eers Sondag aan

Pandora ·

My pa het baie jare vir Eskom gewerk. Of dit reën of sneeu of watookal gebeur, die distrubisie manne was altyd aan diens om seker te maak die gemeenskap het elektrisiteit. Hulle het elke dag rondgery en die lyne nagegaan om seker te maak alles is in werkende toestand.
Later jare was hy betrokke by ‘n myngroep wat steenkool aan Eskom verskaf vir die kragstasies. Baie mense is in 2001 by hierdie instansies afgelê want daar was te veel steenkool, dus te min werk.

Deesdae is daar allerhande verskonings vir die gebrek aan diensverskaffing. Ongelukkig het baie van die kennis met die toevoeging van BEE by die deur uit gestap. Vandag se bestuurders weet nie van beplanning en stategie nie – dis net “maintenance” en dan skielik is dit OEPS. En die verbruiker moet die spit afbyt..

koos10 ·

My voertuie moet gereeld gediens word om op hulle piek te funksioneer. Filters moet ook vervang word. Hoekom word dit dan nie by koeberg gedoen nie? As dit die waarheid was wat Eskom gepraat het, stel asb dan die diens rekords vry, om julle bewering te staaf!

Gato ·

BBBEE en EE het defnitief sy tol ge-eis by Eskom en instandhouding is swak . Maar mense moet darem ook verstaan dat so ‘n kragstasie baie meer kompleks is as om jou Lister pomp op die plaas gou af te sit om skoon te maak en dan weer aan te skakel.
Volgens Wikipedia pomp die verkoelingswater sisteem 80 ton water per sekonde. Dit is so +/- 78 000 liter water per sekonde. Omtrent 3 gemiddelde swembaddens se water volume elke sekonde.
Kan dink dat dit ‘n proses is om daai pompie aan die gang te kry en dan die opwekkings eenheid ook weer aan te sit en te sinkroniseer met die netwerk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.