Koeberg het een van sy eenhede vroeër as verwag vir herstelwerk en instandhouding afgeskakel nadat ’n lekkasie opgemerk is.
Volgens Eskom is ’n styging in die lekkasiesyfer in een van die stoomopwekkers van dié eenheid opgemerk. Dit is deur ander lesings bevestig. “Hoewel die lekkasiesyfer binne die veiligheidsperke is, is ’n konserwatiewe besluit geneem om die eenheid van die netwerk te verwyder vir herstelwerk.”
Instandhouding aan die eenheid wat aanvanklik vir Februarie beplan was, sal ook nou gedoen word. Die eenheid sal na verwagting weer in Mei in diens geneem word.
Die afskakeling van die aanleg neem etlike ure, en die proses is nog aan die gang, het Eskom gesê. “Sodra dit afgeskakel is, sal brandstof uit die reaktorkern uitgetap word om instandhoudingsaktiwiteite uit te voer en om die oorsaak van die lekkasie te bepaal en dit te herstel.”
Volgens Eskom is daar geen risiko vir die aanleg, personeel of die omgewing nie. Eenheid 2 gaan voort om op volle krag op te wek.