Koeberg-eenheid einde vanjaar aanlyn

Die Koeberg-kernkragsentrale buite Kaapstad. (Foto: Dr. Neil Overy/Science Librnoy Science/AFP)

Indien alles volgens plan verloop, gaan die Koeberg-kernkragsentrale se eenheid 1 teen vroeg November vanjaar weer ten volle aanlyn wees.

Eskom sê weens die vertraging met die terugkeer van eenheid een, sal eenheid twee van dié Wes-Kaapse kragsentrale eers teen 7 November van lyn gehaal word om te verseker albei eenhede is nie gelyktydig buite werking nie. Eskom sê hy het ook al die hulpbronne wat nodig is om met die aanvanklike opknappingswerk aan eenheid twee te begin.

Opknappingswerk aan eenheid een het einde Julie ʼn beduidende mylpaal bereik toe die meganiese werk om die stoomopwekkers te vervang, afgehandel is.

“Dit was die grootste gedeelte van die werk en het ingewikkelde prosesse behels. Dit beteken Eskom kan nou voortgaan met die werk wat nie gelyklopend met die vervanging van die stoomopwekkers gedoen kon word nie,” lui ʼn verklaring van die kragvoorsiener.

Die inwerkingstelling van die eenheid, asook toetse wat op die nuwe stoomopwekkers gedoen moet word, sal plaasvind terwyl die eenheid met die netwerk gesinchroniseer word.

“Gegewe al die werk wat nog gedoen moet word, sal Koeberg se eenheid een na verwagting teen 3 November kommersieel beskikbaar wees.”

Dié datum is egter vyf maande later as wat aanvanklik beplan is.

Die  omvattende opknappingswerk aan Koeberg vorm deel van Eskom se aansoek om sy bedryfslisensie vir die kernkragsentrale met ʼn verdere 20 jaar te verleng. Die lisensie verval volgende jaar. Vir dié lisensieaansoek om te slaag, is groot opknappingswerk nodig en indien dit onsuksesvol is, moet die kragsentrale afgeskakel word.

Opknappingswerk behels onder meer die vervanging van drie stoomopwekkers in albei eenhede. Elke eenheid lewer 920 MW.

Eskom bestempel die opknappingswerk aan die kragsentrales as die ingewikkeldste wat nóg onderneem is sedert Koeberg in 1985 vir die eerste keer in diens gestel is. Die begroting vir die projek is sowat R20 miljard, met die grootste werk die vervanging van die stoomontwikkelaars.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Wondermaarnet ·

Dit kon lankal klaar gewees het as daar bevoegde mense aangestel is en personeel nie siekverlof misbruik nie.

Papsak ·

As daar bevoegde mense was het dit lankal gewerk maar nee ons wil maar sukkel en wys ons kan al kan ons nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.