Koeberg: Kommer oor fout wat ‘vernietigende gevolge’ kon hê  

Die Koeberg-kernkragsentrale in Kaapstad. (Foto: Armand Hough/ANA)

Die DA het sy ernstige kommer oor die onpartydigheid, bevoegdheid en prestasie van die Nasionale Kernkragreguleerder (NKR) uitgespreek ná ʼn voorval by die Koeberg-kragstasie wat “vernietigende gevolge” kon hê.

Daily Maverick het berig werksaamhede by Koeberg moes onlangs inderhaas gestaak word nadat ʼn verkeerde klep afgeskakel is en dit amper veroorsaak het dat byna 920 MW se kragopwekking vir Eskom verlore gegaan het.

Die inligting is vervat in ʼn interne nuusbrief waaroor Daily Maverick berig het. Daar word aangevoer dit is die tweede keer dat hierdie fout tydens die instandhoudingsperiode plaasvind.

“Die onlangse voorval toe ʼn foutiewe klep by die Koeberg-kernkragsentrale afgeskakel is, bevestig die VF Plus se standpunte rondom die bedryf van en oorsig oor kernkrag in Suid-Afrika,” het dr. Wynand Boshoff, VF Plus-LP en woordvoerder oor minerale hulpbronne en energie, gesê.

Die DA het in reaksie op die voorval die toesig- en nakomingsmoniteringsrol van die NKR bevraagteken.

“Die opskorting van werksaamhede by ʼn groot aanleg soos Koeberg het ʼn groot impak op die vermoë van Eskom om aan die elektrisiteitsvraag van die land te voldoen en die verligting van beurtkrag,” het Kevin Mileham, DA-LP en woordvoerder oor minerale bronne en energie, gesê.

Die DA het ʼn beroep gedoen vir ʼn omvattende hersiening en opdatering van die Nasionale Kernreguleerderwet, om voorsiening te maak vir groter onafhanklikheid en outonomie. “Tans word die NKR bestuur deur ʼn raad van direkteure wat deur die minister van energie aangestel word. Dit is geïdentifiseer as ʼn beduidende risiko deur die Internasionale Atoomenergie-agentskap se Geïntegreerde Kerninfrastruktuuroorsig (INIR).”

Mileham het gesê Koeberg, as Suid-Afrika se enigste kernkragsentrale, moet bekwaam bestuur word. “Die NKR en die minister moet verantwoordelik gehou word vir hierdie skandelike opheffing van hul verantwoordelikhede.”

‘Uittog van kundige personeel’

“Reeds in 2019 het die VF Plus gestel dat ʼn kragvoorsiener wat nie eens die betreklik eenvoudige tegnologie van steenkoolkragstasies in stand kan hou nie, nie met tegnologie vertrou kan word waarvan die afval vir eeue gevaarlik is nie,” het Boshoff gesê.

Berigte dat daar ʼn uittog van kundige personeel is, nie net by Eskom in die algemeen nie, maar in die besonder by Koeberg, onderstreep hierdie waarskuwing, meen Boshoff.

“Nie te lank gelede nie het Eskom se bedryfshoof sy kommer uitgespreek oor die vertrek van geskoolde werkers en ervare personeellede by Koeberg. Dit laat dan die vraag ontstaan of die jongste voorval ʼn gevolg is van vaardigheidskaarste by die aanleg of blote nalatigheid,” het Mileham gesê.

‘Vermoë tot deeglike oorsig verswak’

(Argieffoto: Armand Hough/ANA)

Vroeër vanjaar was daar omstredenheid rondom die verwydering van Peter Becker as gemeenskapsverteenwoordiger van die NKR-raad.

“Becker het die burgerlike gemeenskap verteenwoordig en is juis benoem op grond van sy skeptiese houding ten opsigte van dié tegnologie. Hy is uitgesproke daaroor dat Suid-Afrika liefs nie kernkrag moet opwek nie, maar indien dit onvermydelik is, moet alles moontlik gedoen word om dit veilig te maak,” het Boshoff gesê.

Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en energie, het Becker weens ʼn beweerde botsing van belange geskors en later permanent van die raad verwyder.

“Die VF Plus het in daardie stadium aangedui dat hierdie stap die raad se vermoë tot deeglike oorsig verswak. Die beheerraad op kernkrag moet juis ʼn ewewigtige weergawe van belange verteenwoordig.”

Volgens Mileham het Mantashe aangevoer dat Becker weens “ernstige wangedrag” verwyder is. “Daar is egter geen besonderhede verskaf oor wat sodanige wangedrag behels het nie. Becker was ʼn uitgesproke kritikus van die prosesse en kontroles by Koeberg, en dit blyk nou dat sy bekommernisse gegrond is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Manie ·

Koeberg is ‘n tikkende Chernobyl in afwagting. Die kundigheid is duidelik nie meer daar om dit veilig te bedryf nie.

Henri ·

Kaderontplooiing by sulke instellings speel hopelik nie ‘n rol nie en ek hoop van harte Homer Simpson is nie ‘n kundige by Koeberg nie.

Samuel ·

Mense met inteligensie en kundigheid is nodig om Koeberg te bestuur, nie ANC kaders nie.

Boon ·

Ek woon binne Koeberg kernkragsentrale se 12 km sone. Ons is baie ontevrede dat mnr Becker, wat die moed het om geldige kritiek te lewer, sommer sonder opgaaf van redes vir deur min.Gwede van raad verwyder is.Daar is oor lang tydperk al ernstige besware geopper oor die veiligheidsmaatreëls op die personeel. Die minister se outokratisee optrede is heeltemal onaanvaarbaar. Dankie vir politici wat saak oopkrap.

capie ·

Ja al die kundige mense het hul goed gevat en geloop. Die handvol wat oorgebly het kan nie alles hanteer nie. Kry maar weer die Amerikaners in teen ‘n wavrag geld, ten minste is ons dan veilig in die Weskaap. En verklaar dan weer dit was ‘n jellievis wat ingekom het.

efjy ·

Installeer asseblief veiligheds kamers op strategiese punte sodat so iers nie weer kan gebeur nie. Sorg dat dit werk en gereeld getoets word. Kyk hoe lyk die parlement se geboue as gevolg van nalatigheid.

Swerwer ·

Daar lê die ding…………………onbevoegdheid van die ANC. Hul het mos gedink alles in die lewe is kinderspeletjies, al die jare net gewoond aan ontvang en vernietig waar hul gaan, en aan wat hul raak.

Alfred E Neuman ·

Bokwagters wat hulle verbeel hulle is kern wetenskaplikes. Die gevolge kan katastrofies wees.

Antonk ·

En dan wil hulle beurtekrag instel en ons moet vergeld vir hulle foute wat hulle begaan.

SomeOne ·

wat weet mantashe van kernkrag af, hy kan nie eers behoorlik ‘n vuurhoutjie laat brand nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.