Koeël uiteindelik uit ná aanval op kleinhoewe

Matthew Joubert voor die voorval. Foto: Verskaf

Matthew Joubert (20) kan nou begin “fokus op gesond raak” nadat hy byna twee weke gelede tydens ʼn aanval op ʼn kleinhoewe buite Pretoria in die bors geskiet is.

“Die koeël is Woensdag tydens ʼn operasie uitgehaal. Matthew kan nou fokus op gesond raak. Die Zuid-Afrikaans-hospitaal was die beste ondervinding ooit,” het Nicky, Matthew se ma, aan Maroela Media gesê.

“Die koeël is deur ʼn sersant van die Cullinan-polisie afgehaal en alles is nou in polisiehande. Ons hoop dit kan tot ʼn inhegtenisneming lei.”

Matthew is verlede Maandag omstreeks 19:00 op sy gesin se kleinhoewe buite Cullinan geskiet. Matthew en sy ouer broer, Gideon (23), boer daar met inheemse bokke terwyl hul pa, Gideon (51), as konsultant vir ʼn IT-maatskappy werk.

ʼn Onbekende aantal aanvallers het weggekruip en hom uit die bloute in die bors met ʼn kleinkaliber-vuurwapen geskiet toe hy die duiwehok gaan toemaak het. Hy het bebloed teruggehardloop na die huis waar hy voor sy ouers inmekaargesak het.

Matthew is na ʼn private hospitaal in die noorde van die stad gehaas en ʼn dag later ontslaan.

Volgens Nicky het ʼn dokter daar gesê hulle kan nie die koeël uithaal nie, want dit sit in sy bors in die senuwees van sy ribbe vas. Matthew se ouers is glo ingelig as die dokters die koeël verwyder, kan hy dalk die gebruik van sy linkerarm verloor.

Hy is verlede Woensdag vir ʼn tweede mening na ʼn chirurg wat Vrydag probeer het om die koeël, wat sowat 5 mm onder die vel was, onder lokale verdowing te verwyder. Die koeël was egter te glibberig en het bly rondskuif, waarna Matthew na die Zuid-Afrikaans-hospitaal verwys is sodat die koeël onder narkose verwyder kan word.

Die Cullinan-polisie ondersoek ʼn saak van poging tot moord. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Lees die vorige berigte oor Matthew Joubert op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jane ·

Matthew ons bid jou alle sterkte toe, mag jy nou gou genees en met jou lewe aangaan .. mag jy hierdie nagmerrie gou vergeet en ‘n mooi toekoms hê. Mag die kriminele wat jou as onskuldige man aangeval het aan die pen ry en vir ewig toegesluit word .. hulle hoort nie in die samelewing nie.

Essa ·

Spoedige herstel toegewens Matthew. Mag jy en jou gesin veilig wees.

Johan ·

Matthew – baie bly vir jou part koeel is uit. Sterkte nou met die pad van herstel.

Wil net die aandag vestig op die feit dat mens lyk my maar altyd ‘n tweede opinie moet kry. Hoe de ongeluk kan die eerste dokter die opinie huldig dat die koeel nie kan uit nie, terwyl ‘n tweede een haal dit suskesvol uit skynbaar sonder enige groot dramas?

Net soos mens verskillende sjefs kry (verskoon dat ek julle uitkies!), kry mens verskillende dokters. Party beter as ander.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.