Koel miljoen vir SA se Olimpiese room

Rocco Meiring, Tatjana Schoenmaker, Bianca Buitendag en Greg Emslie Donderdag tydens die oorhandiging. (Foto: Tania Heyns/ Maroela Media)

Daar is aanvanklik gevrees dat Suid-Afrika se Olimpiese medaljewenners geen beloning vir hul besonderse prestasie in Tokio sou ontvang nie.

Suid-Afrikaners het egter seker gemaak dit gebeur nie en vandag is Tatjana Schoenmaker en Bianca Buitendag ruim beloon.

Die maatskappye Atterbury en USN het Donderdag in samewerking met onder meer AfriForum R1 miljoen aan Schoenmaker, Buitendag en hul onderskeie afrigters geskenk deur middel van die Olimpiese medaljewenner-skarefinansieringsprojek, Spansaam, via die Atterbury Trust.

Die Olimpiese swemmer Schoenmaker het R600 000 van die fonds ontvang vir haar goud in die 200 m-borsslag en silwer in die 100 m-borsslag. Haar afrigter, Rocco Meiring, het R150 000 ontvang vir sy aandeel in dié medaljes.

Armond Boshoff van Atterbury en Albé Geldenhuys van USN oorhandig Tatjana Schoenmaker se beloning aan haar. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

R200 000 is ook aan Buitendag oorhandig vir die silwer medalje wat sy op haar branderplank in Tokio verower het. Haar afrigter, Greg Emslie, het R50 000 ontvang.

Altesame R1 050 000 is die afgelope maand vir die medaljewenners ingesamel. Die oorblywende R50 000 sal deur middel van ʼn beurs aan ʼn opkomende atleet toegeken word.

“Dit is baie nice vir jong atlete om te weet: Al kom die regering ons atlete te na, is daar leiers in die gemeenskap en sakewêreld wat inspring en hierdie ouens se drome wakker kan hou,” het Meiring tydens die oorhandiging gesê.

Die skarefinansieringsprojek is aanvanklik van stapel gestuur ná berigte dat die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok) nie prestasiebonusse sou gee aan atlete wat medaljes by die Spele verower nie.

Saskok en die departement van sport, kuns en kultuur het intussen bekend gemaak dat Schoenmaker en Buitendag prestasiebonusse sal ontvang.

Armond Boshoff van Atterbury en Albé Geldenhuys van USN oorhandig Bianca Buitendag se beloning aan haar. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Goue meisies gee terug

Albei Olimpiese medaljewenners het reeds aangedui dat hulle die skenkings wat hulle vandag ontvang het, gaan terugploeg in die gemeenskap en opkomende atlete.

Buitendag het aan Maroela Media gesê dat sy haar skenking aan die nie-regeringsorganisasie Life Community Services in George gaan skenk. Die organisasie samel tans geld in vir die bou van ʼn laerskool.

Schoenmaker beoog om binnekort haar eie stigting op die been te bring.

“Ek kan nie wag om ʼn verskil te maak in iemand se lewe nie en vir hulle die kans te gee om basiese vaardighede aan te leer of ʼn atleet die geleentheid te gee om oorsee te gaan nie.

“Ek is baie gelukkig dat ek fantastiese ouers het wat my ondersteun. Vir hulle was die droom die moeite werd. Ek wil nou vir ander die geleentheid gee wat ek gehad het.”

Bianca Buitendag en haar afrigter, Greg Emslie. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Buitendag, wat ná Tokio as beroepsbranderplankryer afgetree het, bestempel haar Olimpiese medalje as ʼn wonderwerk.

“Ek was net so bly om te kwalifiseer en my pragtige land te verteenwoordig. Enigiets verby die eerste ronde was vir my ʼn goue medalje.”

Sy gee wel toe dat dit harde werk geverg het.

“Ek dink ander atlete sal kan saamstem dat dit maar vir jare vroeë oggende en vasbyt verg. Die sukses volg baie minder as die mislukking. Jy moet maar deurdruk.

“Maar om terug te keer huis toe en almal se opofferings te regverdig met ʼn Olimpiese medalje … dít het vir my die wêreld beteken.

“Dit is ʼn goeie afsluitingspunt.”

Buitendag het in antwoord op ʼn vraag oor finansiële ondersteuning aan atlete geantwoord dat sy as professionele branderplankryer wonderlike ondersteuning van borge ontvang het. “Ek kan nie sê die stelsel is teen my nie. Ek is net dankbaar vir enige ondersteuning in enige vorm.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Dirk Mostert ·

Dis ‘n skande dat die regering nie ‘n paar miljoen wou uithaal nie, na R40,000 miljoen wat op die 2010 sokkertoernooi geblaas is. Seker weens hul velkleur.

Elmarie ·

Ai Jaco, is dit nou nodig? Ek hoop jy dra by tot enige insamelings vir mense wat sukkel. Ek weet Afriforum help diesulkes al die pad elke maand! Gaan kyk op hul webnlad en dra by dan doen jy minstens iets positiefs in plaas van naar wees.

Deon ·

Jaco, hierdie atlete het n besonderse prestasie gekry waarvoor die regering hulle nie eers behoorlik geluk gewens het nie, en dan die feit dat hulle hule prysgeld aan liefdadigheid gaan skenk maak dit selfs meer besonder in die sin dat hul omgee vir ander. Ek haal my hoed af vir hulle

Danie ·

So mense het in goeder trou bygedra om die atlete te help en nou word hul geld weggegee om projekte te finansier wat die mislukte anc regering se plig is.
Neewat vra my niks, ek sorg vir my eie mense wat tans die land se huidige benadeeldes is.

E ·

Glo my vir hulle ouers is dit ‘n druppel in die emmer, wat ouers gee in terme van tyd, petrol, kos, uitrustings, toerusting ens, ek gun hierdie atlete dit, hulle het gewerk daarvoor en verdien elke sent, mense gee nog steeds vir die plakkers maar ons is nie sosialiste nie. Mense wat hard werk moet ook erkenning kry.

Lubbe ·

Dink jy dan nou rerig dat die atlete dit nie verdien nie? Mens word beloon en betaal vir jou prestasies. Gaan jy vir maand na maand oefen net om geen beloning te kry vir jou prestasies by die wereld se hoogs bekroonde spele nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.