Koel, nat naweek voorspel

Argieffoto (Foto: freeimages.com)

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het gesê die grootste deel van die land sal ʼn koel, nat naweek ervaar.

Volgens die weerdiens sal die Oos-Kaap die ergste deurloop onder swaar reën en koue tot baie koue weerstoestande. Vir Port Elizabeth word ʼn maksimum van 21 °C voorspel vir Saterdag en 17 °C vir Sondag. Daar is ʼn 30%-kans op reën Saterdag en ʼn 60%-kans Sondag.

Die SAWD het ook ʼn waarskuwing uitgereik vir Barkley-Oos vir erge donderstorms wat moontlik tot kitsvloede kan lei. ʼn Maksimum temperatuur van 22 °C word vir Saterdag verwag en 23 °C vir Sondag. Vir Maandag word ʼn maksimum van 16 °C voorspel en ʼn minimum van net 2 °C.

Oos-Londen sal Sondag slegs ʼn maksimum van 18 °C  bereik met ʼn 60%-kans op reën terwyl Uitenhage Sondag ʼn maksimum van 19 °C te wagte kan wees met ʼn 60%-kans op reën.

Daar is verder waarskuwings uitgereik vir Vrydag vir onder meer die Nkangala- en Gert Sibande-omgewings in Mpumalanga waar daar swaar reën, stormsterk winde en moontlike hael verwag kan word. Swaar reën kan in dié gebiede tot kitsvloede lei.

Die SAWD het verder gemeld swaar donderstorms kan oor Polokwane in Limpopo verwag word wat tans ooswaarts beweeg. Dié storms kan gepaardgaan met sterk winde, swaar reën en hael. Swaar reën wat tot kitsvloede kan lei, word ook in die suidelike dele van die Waterberg-distrik en suidwestelike dele van die Sekhukhune-distrik van Limpopo verwag.

In Gauteng sal toestande matig wees met ʼn maksimum van 22 °C wat vir Saterdag en 27 °C wat vir Sondag in Pretoria voorspel word met ʼn 60%-kans op reën Saterdag en ʼn 30%-kans vir Sondag. Johannesburg sal egter Saterdag maar ʼn maksimum van 20 °C bereik met ʼn minimum temperatuur van 11 °C en ʼn 60%-kans op reën.

In Bloemfontein en Richardsbaai word matige weer verwag met Bloemfontein wat maksimum temperature van 24 °C vir Saterdag en 26 °C vir Sondag te wagte kan wees. In Richardsbaai word daar ʼn maksimum van 27 °C vir Saterdag voorspel en 31 °C vir Sondag. Daar is Saterdag en Sondag ʼn 30%-kans op reën in Richardsbaai.

Volgens die weerdiens se jongste reënvalsyfers is daar tot 08:00 Vrydagoggend 18 mm reën gemeet by die Universiteit van Pretoria. Dit is die reën wat van Donderdagoggend af begin val het. Daar is 11 mm in Ermelo in Mpumalanga gemeet en ʼn reusebonus van 63 mm by die Mukumbani-landgoed in Thohoyandou naby Louis Trichardt in Limpopo.

Pilanesberg in Noordwes het 24 mm gemeet terwyl Vrede, Warden en Frankfort in die Vrystaat 9 mm gemeet het. Umthatha in die Oos-Kaap het 6 mm en Estcourt in KwaZulu-Natal 11 mm gemeet. Daar is Donderdag minder as 1 mm reën gemeet in die Noord- en Wes-Kaap.

Ander temperature vir dié naweek:

  • Polokwane: Saterdag 16/23 (60%-kans op reën) en Sondag 17/26 (30%-kans op reën).
  • Mbombela: Saterdag 16/22 en Sondag 18/26, albei dae het ʼn 60%-kans op reën.
  • Durban: Saterdag 16/26 en Sondag 18/29, albei dae het ʼn 30%-kans op reën.
  • Rustenburg: Saterdag 14/24 en Sondag 14/27, albei dae het ʼn 80%-kans op reën.
  • Kimberley: Saterdag 13/26 en Sondag 13/27, geen kanse op reën.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Piet Pompies ·

Nou kan oupa lekker saam sy kleinseun in die modder en water gaan speel, kosbare tye

Delorise ·

Aiiiii wanneer gaan die mooie Kaap hierdie reen kry… Dankie vir die reen
Liewe Heer maar wat van Kaapstad asseblief.? Amen

jaco ·

die Kaap kry nie reen nie, want ‘n raadslid van die ANC (‘n party vol atheiste en kommuniste) het ironies genoeg gesê die Here straf die Wes-Kaap met droogte omdat die meeste kiesers daar nie ANC stem nie.

Indrukwekkend ·

Indrukwekkend die kundigheid en instrumente wat in die fynste besonderhede die weer voorspel. Moontlik sal daar eendag in die verre toekoms ook kundigheid gepaardgaande met die nodige infrastruktuur tevoorskyn kom om riool suksesvol te bestuur?
Dink net ‘n opgaardam sonder riool?

Frikkie (Nie pienk) ·

Ek weet nie hoe indrukwekkend die instrumente is waarmee die reën voorspel word nie, maar die voorspelde reën het ons al met tot 1000 Km gemis.

Lekker ·

Die weer gaan lekker wees , mense bly van die nat paaie af , moeder natuur en Toyota gaan gaan nick se kinders weer eet soos soet koek . Moet nie betrokke wees nie asseblief . Braai en drink by die huis , maandag sal ons weer die score kyk .

Chris ·

Ek het ‘n plan wat werk vir reen. Dit werk soos klokslag. Ek het dit al die afgelope klomp jare beproef en is nog nooit verkeerd bewys nie. Ek was my kar. Binne twee tot drie dae ek dit gedoen het reen dit. Ek is darem blyer vir die reen as kwaad oor ‘n vuil kar. Iemand wat dalk reen soek?

Andre ·

Moeilike tye is jou voorland as jy WeatherSA se voorspelings glo, hulle is gewoonlik reg as die weer elke dag dieselfde is, maar o wee, as dit verander, dan kom hulle eers weer a dag of twee later by wanneer dit alles stabiel is….. Dis seker omdat die bene soms rol en afval van die tafel…oops.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.